Video: ’n Alternatief tot die sinkende skip van geregtigheid

(V.l.n.r.) Dr. Llewelyn Curlewis, prof. Koos Malan en adv. Gerrie Nel (Foto verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Maandag ’n konferensie oor die verval van die strafregstelsel by die AfriForum Teater gehou. Adv. Gerrie Nel, prof. Koos Malan en dr. Llewelyn Curlewis was sprekers by die konferensie.

Nel het konkrete voorbeelde uitgelig wat dui op die verval van die strafregstelsel, asook wat die eenheid doen om dit reg te stel; Curlewis het die verval van die gevangenisstrafstelsel, asook die kwynende onafhanklikheid van die regbank bespreek; en prof. Malan het oplossings vanuit ’n konstitusionele oogpunt bespreek.

Nel het die afleiding gemaak dat die skip van geregtigheid soos wat dit tans bestaan, nie te redde is nie. “AfriForum het egter ’n unieke en opwindende vermoë geskep om privaat te vervolg. Ons gebruik die vaardighede in ons kantoor om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die SAPD te dwing om hul plig te doen en het sodoende al wonderlike suksesse in verskeie sake gehad. Daarom wil ons oplossings bied oor hoe om die versonke skip van geregtigheid te red deur die reg te ontwikkel om mense toe te laat om in die toekoms in alle sake die keuse te hê om privaat te vervolg.”

Adv. Gerrie Nel (Foto verskaf)

Nel het sake bespreek waarmee hy te doen gehad het by die NVG wat steeds sloer, soos Shaun Abrahams se onttrekking van die strafsaak teen Ngcobo Jiba, asook sake wat die privaatvervolgingseenheid daagliks hanteer. Nel het ook verskeie voorbeelde van die eenheid se skrywes aan die NVG en die SAPD en hul niksseggende antwoorde daarop uitgelig. Hy het daarop gewys dat die hoof van die NVG, adv. Shamila Batohi, wel vir Ace Magashule vervolg, maar versuim om ander politieke figure soos Fikile Mbalula (teen wie AfriForum strafregtelike klagtes van korrupsie gelê het) en EFF-leier Julius Malema (op die On Point-saak) te vervolg. “Dit is slegs twee van die polities-gedrewe besluite wat die NVG met betrekking tot vervolging geneem het. Dit dui daarop dat die NVG óf na hul meesters se deuntjie dans, óf nie die vermoë of kapasiteit het om sake van korrupsie te vervolg nie.

Nel het ook ’n saak aangekondig waarby die eenheid sedert 2019 betrokke is omdat die NVG versuim om as gevolg van klaarblyklike politieke redes vervolging in te stel. André Fourie is valslik daarvan beskuldig dat hy ’n rassistiese uitlating gemaak het. Hy het sy werk verloor as gevolg hiervan en ’n strafregtelike klag teen die persoon wat die aantyging gemaak het gelê. Die NVG het aangedui dat dit nie in die belang van geregtigheid is om ’n nolle prosequi-sertifikaat in hierdie geval uit te reik nie. “Die NVG het egter nie die diskresie om te weier om só sertifikaat uit te reik nie. Volgens die Strafproseswet is hulle verplig om dit te doen. Die privaatvervolgingseenheid moet egter gereeld die howe nader met mandamus-aansoeke bloot om die NVG te kry om hulle werk te doen. In hierdie saak, soos in alle ander sake waarin ons aansoek doen om ’n nolle prosequi-sertifikaat, het die SAPD ook aanvanklik aangedui dat die dossier weg is. My afleiding in hierdie saak is dat hul weiering om te vervolg irrasioneel en polities-gemotiveerd is. Die NVG besef ook dat hulle met eier op hul gesig sal sit as ons suksesvol privaat vervolg. Ons is tans in die proses om hofdokumente te liasseer om, weereens, die NVG te dwing om hul plig te doen.”

Dr. Llewelyn Curlewis (Foto verskaf)

Volgens Curlewis is die Suid-Afrikaanse regstelsel ongelukkig nie meer die toonbeeld van die oppergesag van die reg waarna ons eens gestreef het nie en dit is die plig van die burgery om dit reg te stel. “As burgers word ons blootgestel aan diepgewortelde teenstand teen ondoeltreffende optrede deur die regering teen die kanker op vooruitgang, bekend as korrupsie. Die kombinasie van ’n swak regstelsel en korrupsie veroorsaak nie net ekonomiese agteruitgang nie, maar is ’n doodslag vir die politieke gesondheid van beide ons nuwe, volwasse demokrasie en dalk self ons eeue-oue regstelsel.

“’n Betroubare regstelsel en sterk gemeenskap is twee sye van dieselfde munt. Die gewete van die publiek moet in opstand kom teen wetgewing en korrupte politici, dit moet met bespotting en intense publieke vyandigheid bejeën word. Diegene wat verantwoordelik is, moet duur betaal by die volgende verkiesing. Verder het goed na my mening uitmekaar geval in die strafhowe. Strafverhore het ’n klug geword wat bitter min te doen het met die bepaling van die waarheid en toediening van geregtigheid, maar eerder ’n politieke speletjie is. Dit bring duidelik die hele regstelsel in oneer.”

Prof. Koos Malan (Foto verskaf)

Malan het op sy beurt oplossings gebied vir die huidige probleme wat betref die strafregstelsel wat in duie gestort het. “Dit is ’n feit dat die polisie onderbeman is, nie behoorlik opgelei word nie, en nie toegewyd genoeg is om hul plig om misdaad te beveg na te kom nie. Hulle worstel met hoë vlakke van korrupsie in hul hoogste range, boonop is die administrasie in ’n baie swak toestand en het hulle ’n tekort aan leierskap in hulle topstrukture.

“Met die mislukkende staat in gedagte, is die polisie eenvoudig afwesig – kyk na die konstruksiemafia, die mafia in die mynbedryf en die onlangse plundering in KwaZulu-Natal. In baie gevalle was die polisie bloot omstanders en toeskouers. Suid-Afrika het per kapita die vierde grootste privaatsekuriteitsbedryf in die wêreld as gevolg van die afwesigheid van die polisie. Doeltreffende vervolgings het verval en is die gelukkige uitsondering.”

Malan sê die vraag wat ons moet vra is of dinge ten goede gaan verander. “Tensy daar aktiewe en vindingryke ingryping is, gaan dinge nie verander nie. Die polisie, weermag en die NVG het hul vaardighede tot só mate verloor dat dit nie herstel kan word nie. Om dus na die staat te kyk vir ’n oplossing, is om in die verkeerde rigting te kyk – geen hulp gaan vandaar af kom nie. Die bestaansreg van die staat word gemeet aan die vraag of dit veiligheid en sekuriteit aan sy burgers kan verskaf. Hoe minder die staat dit kan doen, hoe meer verval dit as ’n legitieme staat, hoe meer verbeur dit sy aanspraak op burgerlike gehoorsaamheid en hoe meer word die belasting wat dit hef ’n vorm van afpersing van die burgery.”

Malan het ook gesê dat wat ons ag as die Grondwet, vanuit ’n praktiese oogpunt, reeds verval het. “Wat sou die verantwoordelike reaksie van die burgery tot hierdie stand van sake wees? Eerstens moet ons verstaan dat dit ’n uiters gevaarlike situasie is, want dit is een waarin ’n toestand van ongebreidelde oortreding van die wet kan ontstaan. Wanneer die wette van die staat wankel, kan ’n nuwe reg, ’n verstekreg, egter in die plek daarvan ontstaan. Dit is ’n reg in terme waarvan gemeenskappe deur middel van ooreenstemming hul eie reg skep en afdwing. Die basis van hierdie reg is beheerde grense wat gekombineer word met die onderdrukking van onbeperkte vryheid van beweging. Gemeenskappe moet grense stel en polisieer om te verseker dat misdadigers nie vrylik daarin kan rondbeweeg nie. Gevalle van só verstekreg is egter reeds met ons, kyk net na buurtwagte en toegangsbeheerde gemeenskappe.”

Volg die konferensie hier:

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jasmyn ·

Dankie Afriforum….. hoogtyd dat die strafregstelsel aangespreek word.

Frank ·

Man ja….. het al op ‘n stadium gehoor die konsep van “korrupsie” is ‘n Westerse konsep. So die redenasie is, as daar iets lê kan ek hom vat, as daar geld in ‘n rekening is kan ek dit maar myne maak!!!!

Hardekwas ·

Die weg om te volg, veral vir kommersiële sake, is die pad wat Sakeliga voorstel, nl dat dit deur privaat arbitrasie besleg word, en die howe heeltemaal uit die prentjie gelaat word. N moontlike alternatief vir ķriminele sake moet ook ondersoek word.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Sonder ‘n doeltreffende en effektiewe Suid-Afrikaanse Kriminele Regstelsel (SAPD, Howe, Korrektiewe Dients) is “demokrasie”, die Suid-Afrikaanse Grondwet en die parlement maar net ‘n klugspel.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die uiters hoë vlakke van kriminaliteite in Suid-Afrika is tekenend dat die kriminele die mening toegedaan is dat hulle byvoorbeeld met moord, roof, verkragtings, korrupsie en stropings van infrastruktuur en die omgewing en natuur kan wegkom. Dit bewys dat die Suid-Afrikaanse Kriminele Regstelsel ondoeltreffend en oneffektief is. En wat is die rol van die SA parlement? Hulle is deel van die probleem. Hoe vergelyk (“benchmark”) SA se kriminele regstelsel uitkomste met die van ander ontwikkelde land? Besluit self.

annie ·

Die lighuis se lamp-olie is op. Nog net ‘n lui grys rokie dwarrel op. ‘n Groot skip vol mense en vrag pyl in die pikdonker nag, met ‘n storm wat opsteek, in hoë golwe, reg op die rotse af. Drie ervare skippers op land waai vervaard met trietsige fakkels, wat wil-wil blus, vir die jolige massa mense op die dek… min gespin oor môre of die weer…

Nie Verbaas ·

Dit is skokkend om elke dag net meer voorbeelde te sien van tot watter mate ons land verval het.

Anna-marie ·

Snaaks: die “ver regses” wat dit gesien kom het in 1992, is uitgeskel en op vergaderings met tamaties gegooi.

fransdutoit3 ·

Op die punt af en duidelik rede tot kommer.. Bo en behalwe die probleem van die verval van die regstelsel, word dit ook ‘n al groter probleem dat die gewone man op straat al hoe minder toegang tot die (bekostigbare) reg het.. Beide krimineel en siviel..

ES ·

Die probleem is dat ons ‘n rehabiliterende strafregstelsel het en ons almal weet dat meeste kriminele nie rehabiliteerbaar is nie. Ons gaan net agteruit en die onskuldige man daar buite is in groter gevaar as die kriminele.

Papsak ·

Nie verbaas ek stem honderd present saam met jou dit is skokkend en bitter hartseer om te sien hoe ons land verval het en nog steeds agteruit gaan by die uur so hartseer sjoe

Jack ·

Julle is die party vir wie ek my stem gee. Ons as regdenkendes weet lankal dat verval soos n sneeubal is en niks sal dit omkeer met die huidige strukture nie. Die stembus resultate gaan weinig verandering meebring en slegs lei tot verdere verbrokkeling van dit wat nog wankelend staan. Sterkte manne ons bid vir julle. Die afrikaner moet nou by julle skaar dit kan nie anders nie.

Misky ·

Dankie Afriforum, dankie, dankie. Na ek sulke berigte lees, voel dit by tye of ek weer kan moed skep en daar tog hoop in die toekoms vir ons is.

Charl ·

Afriforum, moenie dat julle voorgestelde en beplande aksies net ‘n spreekwoordelike ”skop teen die prikkels” wees nie, dis bemoedigend dat julle vir ons en demokrasie veg in hierdie (letterlik) donker tye, veg voort en wen !!

Dries ·

WAT n uitstaande insiggewende gesprek was dit nou. Dit was selfs wonderlik om vir Kallie Kriel te hoor wat my ook weer hoop gegee het net toe ek alle hoop verloor het. Dankie Afriforum

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.