[Video] ʼn Plan om plaasmoorde hok te slaan

Tebogo van der Berg (Skermgreep uit die video)

Tebogo van der Berg, oorspronklik van Kempton Park in Gauteng, se video op Facebook oor sy visie hoe plaasmoorde in Suid-Afrika bekamp kan word, versprei soos ʼn veldbrand op sosiale media.

Dit het vandeesweek aan die lig gekom die moordkoers in Suid-Afrika is 34,1/100 000 en wanneer daar net na plaasmoorde gekyk word, is die moordkoers 156/100 000.

“Dit maak my woedend dat die regering niks gaan doen om die boere te beskerm nie,” sê hy in sy video. “Dit gaan my vat, en elke Suid-Afrikaner daar buite vat om die mense te beskerm.”

Sy video is binne 24 uur reeds byna 200 000 keer op Facebook gekyk en byna 15 000 keer gedeel.

Van der Berg stel voor dat ʼn organisasie veiligheidswagte oplei. “Jy kan eks-militêre mense vat of ekspolisie vat om die mense op te lei; jy kan selfs jou eie werkers stuur – mense wat jy vertrou en mense wat jou liefhet, mense wat enigiets sal doen om jou te beskerm op jou plaas of in jou gemeenskap, en jy kan werk skep vir iemand.”

Hy stel voor dat die persone opgelei word dat daar minstens twee veiligheidswagte op elke plaas is om seker te maak die boere word beskerm.

Volgens hom kan die projek gefinansier word deur Suid-Afrikaners wat maandeliks vrywillig ʼn bedrag bydra. “Dink net daaraan: 100 000 mense samel geld in, 200 000 mense, 1 miljoen mense – hoeveel geld kan dit nie wees nie?!”

Van der Berg sê sy plan skep werk en beskerm boere, maar hy is ook oop vir enige ander voorstelle wat mense het wat omgee vir ons land se boere.

“Amerika kan niks vir ons doen nie, net ons kan ʼn verskil maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.