Hartoorplanting: ʼn Wedloop teen tyd

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig en video onderaan wys in detail hoe die hartoorplanting verloop het en kan ontstellend wees vir sensitiewe lesers en kinders.

Dr. Heinz Modler, narkotiseur, berei talle middels wat hy nodig sal kry voor en skryf op die spuite presies wat dit is, voor die hartoorplanting. Foto: Elsabé Brits

Die lewe sypel stadig uit hom, dag vir dag. Om te oorleef berus op die dood van ʼn ander mens, en ʼn geskenk.

Vir 54 dae lank het Rene Nolte (63) van Kaapstad, in die intensiewe sorgeenheid van die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal gelê en wag vir ʼn skenkerhart. Dié week het hy die Kersgeskenk van sy lewe ontvang.

Dit was egter ʼn wedloop in die operasieteater wat ʼn marathon geraak het. Sy eerste tree is pas gegee.

Dr. Willie Koen, bekende kardiotorakale chirurg by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, sê hy het vir Nolte gesê hy sál Kersfees by die huis wees.

Maar voor dit gebeur het dr. Loven Moodley, ook ʼn kardiotorakale chirurg, hom die oggend met ʼn geborgde private vliegtuig na ʼn ander bestemming gehaas om die hart van ʼn breindood pasiënt te gaan haal en terug te bring.

Die wedloop teen die horlosie het begin.

Dr. Willie Koen (regs), bekende kardiotorakale-chirurg aan die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal, en sy broer, Sarel, ʼn algemene praktisyn wat hom assisteer, tydens ʼn hartoorplanting. Terwyl die hart elders uitgehaal word, berei hulle die ontvanger, Rene Nolte voor. Foto: Elsabé Brits

Die operasieteater in Kaapstad word om 12:30 reeds voorberei en susters pak alles wat nodig sal wees uit. Dr. Heinz Modler, narkotiseur, berei talle middels wat hy nodig sal kry voor en skryf op die spuite presies wat dit is.

“Die meeste van die middels is om die hart aan die lewe te hou, die brein en organe te beskerm en om die brein aan die slaap te hou. Hier moet jy noukeurig wees, die middels is kragtig … sommige daarvan kan jou binne sekondes doodmaak. Met dié operasies kan jy ook nie enige middels gebruik nie, want sy ou hart is baie swak,” verduidelik hy.

“Danksy baie beter narkose kan ons nou mense help wat ons tien jaar gelede nooit sou kon help nie,” sê hy. Hy berei ook middels voor indien daar nood kom, sodat hy binne ʼn sekonde sy hand daarop kan lê.

Modler verduidelik verder: Tydens ʼn groot deel van die operasie klop jou hart nie; hy funksioneer nie. Nie die ou óf nuwe hart nie. Maar jy is nie dood nie, want jou brein (en die res van die liggaam) kry suurstof danksy die hartlongmasjien. Dit is serebrale aktiwiteit wat bepaal of jy lewe, maar uiteindelik moet die nuwe hart weer klop én pomp.

“Dankie Here,” sê Nolte, terwyl hy aan die slaap raak. Dit is 13:15.

Theresa Lawrence, die skropsuster, neem die hart uit die sakkie en spoel dit in ʼn koue soutoplossing in ʼn bak. Foto: Elsabé Brits

Nou kan Modler die swak hart, wat nog net 15% funksioneel is, met middels beheer. Dit is eintlik veiliger so, verduidelik Modler.

Terwyl Moodley elders die skenkerhart verwyder, (ander dokters sal die ander organe verwyder) moet Koen en sy assistent, sy broer Sarel, reeds in Kaapstad begin opereer en Nolte aan die hartlongmasjien koppel.

Dit is uiterste fyn tydsberekening sodat nie ʼn minuut verspil word nie. Wanneer ʼn orgaan van ʼn ander dorp of stad kom, moet die tyd perfek georganiseer word ­ – op albei plekke.

Koen verduidelik dat ʼn hart tussen vier en vyf uur nadat dit verwyder is oorgeplant moet word. Die tyd begin sodra die skenkerhart se bloedtoevoer afgeklamp word.

Maar, daar was ʼn vertraging aan die ander kant. Die operasie wat in Kaapstad om 14:00 sou begin, sal nou ook moet aanskuif. Intussen hou Modler vir Nolte stabiel. Almal wag.

Die skenkerhart word minute ná sy aankoms in die teater met ʼn klein naaldjie ook aan die hart-long-masjien gekoppel om selle te bewaar. Foto: Elsabé Brits

Nuus word ontvang. Die skenker – wat in die vroeë oggendure dood is, maar aan masjiene gekoppel is om sirkulasie na die organe te verseker – se hart is nóú afgeklamp. Dit is 15:00.

Koen maak ʼn lang snit van so 25 cm om 15.30 in Kaapstad – op dieselfde plek waar Nolte 15 jaar gelede ʼn hartomleiding gehad het. Dit maak die operasie meer kompleks want die liggaam vorm baie letselweefsel.

“Daar is baie weefsel…. Kyk, sy hart het teen sy bors vasgegroei,” wys Koen toe die siek hart vir die eerste gesien kan word. Dit is normaal nadat ʼn mens ʼn operasie gehad het, omdat die liggaam dié letselweefsel vorm.

Stukkie vir stukkie sny of brand hy die weefselsel weg om die hart bloot te lê. “Ons sal veilig wees sodra ons hom op omleiding (die hartlongmasjien) het,” sê Koen.

Die vorige hartomleiding loop soos ʼn dun worsie oor die oppervlak van die hart. Die meeste mense kan met verskeie ingrypings gehelp word, en/of met medikasie, maar indien die hartspier só erg verswak is, kan net ʼn hartoorplanting, of meganiese hart help. Baie mense beskadig die hartspier onherstelbaar wanneer hulle oefen tydens en kort ná ʼn virusinfeksie, soos griep.

ʼn Leë borskas sonder ʼn hart, dié van die ontvanger met net die buise van die hart-long-masjien sigbaar. Dr. Willie Koen (regs), bekende kardiotorakale-chirurg aan die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal en dr. Loven Moodley, het pas die ou hart verwyder. Foto: Elsabé Brits

Drie buise (kanules) moet sorgvuldig geheg word aan die hart om Nolte aan die hartlongmasjien te koppel. Een sal suurstofryke bloed terugbring en twee sal die suurstofarmbloed wegneem, verduidelik Lisa Arenson, die perfusie-tegnoloog, wat dié masjien beheer. Haar assistent is Juan Diedericks.

Die masjien het onder meer ʼn reservoir (“kunslong”) waar weggedoen word met die koolsuurgas, dan word die bloed van suurstof voorsien en regstreeks in die aorta teruggevoer. Die ander twee buise wat die suurstofarmbloed weer terugbring na die masjien se kleur is duidelik donkerder.

Moodley laat weet die vliegtuig styg om 16:15 op. Die private vlug, geborg deur weldoeners, maak dit makliker en vinniger om te land en die polisie sal bystaan en deur die verkeer na die hospitaal begelei.

Dit is 16:45 en Nolte se hart hoef nie meer ná 63 jaar te werk nie. Uiteindelik. Die hartlongmasjien, waarsonder dié en ander opehartoperasies nie moontlik sou wees nie, het oorgeneem. Dit is ʼn verligting, hy is veilig.

Dit was prof. Chris Barnard wat Suid-Afrika se eerste hartlongmasjien saam met sy bagasie van die VSA hierheen gebring het en eers opehartoperasies gedoen het, voordat die eerste mens-tot-mens-hartoorplanting op 3 Desember 1967 gedoen is.

Die skenkerhart gereed om oorgeplant te word in Rene Nolte van Kaapstad, in die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal. In die voorgrond is die leë borskas. Foto: Elsabé Brits

Die dokters neem om die beurt ʼn ruskans. Die tyd stap aan. Modler en Arenson wag by Nolte waar die hartlongmasjien geruisloos werk.

Om bloed te spaar word Nolte se eie bloed wat opgesuig word, gewas en gesirkuleer. Dit is sodat minder duur bloedprodukte oorgetap hoef te word.

“Die hart is hier!” sê iemand om 18:32. Die koelboks word die teater ingestoot en blitsvinnig neem skropsuster Theresa Lawrence die hart uit die sakkie en spoel dit in ʼn koue soutoplossing in ʼn bak.

Koen koppel die hart wat steeds in die bak lê drie minute later, met ʼn klein naaldjie ook aan die hartlongmasjien. Hy wys: “Kyk hoe vloei die bloed deur die hart. Hy word pienk.”

Dis soos ʼn dor plant wat water kry. Die bloed vertak in die haarfyn vaatjies. Dit lyk soos wanneer jy ʼn blaar omdraai, vertakkings en draaie wat al dunner en dunner raak. Rooi spoortjies.

Arenson verduidelik dit word gedoen om die selle te bewaar. Moodley is ook nou in die teater en hy en Koen begin om 18:39 die ou hart lossny. Die hart is binne vier minute uit. Blitsig.

Vergroot en pap lê dit eenkant. Dood.

Dr. Loven Moodley, hou die skenkerhart vas, terwyl hy en dr. Willie Koen dit vaswerk. Foto: Elsabé Brits

Daar is nou ʼn oop, leë borskas voor ʼn mens. ʼn Rooi gapende gat. Geen hart nie, maar die mens lewe. Net ʼn hartlongmasjien waarvan die drie buise nog gekoppel is, is sigbaar.

Dit nuwe hart word aangegee.

Is die horlosie is dalk teen hulle? “Daar is vier goed wat ons moet doen,” sê Koen. Nolte is steeds gekoppel aan die hartlongmasjien.

Die linkerhartkamer word eerste geheg – die moeilikste deel. Behendig en vinnig kom die steke. Dan die aorta, wat dikker as ʼn vinger is en dan word die longslagaar gekoppel.

Die vierde stap moet wag. Daar is nie tyd nie, die hart moet klop. Dit is nou vier en ʼn halwe uur. Die klamp word afgehaal om bloed deur te laat. Die hart bewe.

Die hart kry een skok. Hy klop. Dis 19:25. Vandat die hart hier aangekom het tot hy begin klop was ʼn uur gewees. Dit was vier en ʼn halwe uur – en die span is tevrede.

Lisa Arenson, die perfussie-tegnoloog, wat ʼn oog op die hart-long-masjien hou. Foto: Elsabé Brits

“Ons gee hom nog so ʼn bietjie kans. Hy klop, maar hy pomp nog nie, dis soos ʼn motor waarvan jy nog net die koppelaar ingetrap het, maar nog nie gelos het nie,” sê Koen.

Nolte se hart klop in sy bors, maar die bloed word elders gepomp, deur die masjien. Of die hart uiteindelik self sal pomp, hang af van hoe goed hy uitgehaal is, verduidelik Koen.

Die regterhartkamer word nou vasgewerk terwyl die hart klop. Dié stap is vroeër uitgestel omdat die tyd min geraak het.

Kort voor agtuur begin hulle Nolte stadig speen van die hartlongmasjien. Sal die nuwe hart kan pomp? Die laaste hekkie van die operasie is oor.

Die hart pomp self. Trek saam, ontspan. ʼn Natuurlike ritme en polsslag.

Daar is klein plekkies wat bloei, dit is omdat ʼn bloedverdunner gegee is, sodat daar nie bloedklonte vorm sodra die bloed deur die masjien gegaan het nie. Modler gee nou middels om te help met stolling. Die plekkies word toegewerk en teen die borsbeen waar dit bloei word steriele byewas gesmeer wat die area seël.

ʼn Pasaangeërdraadjie word aan die hart geheg en getoets, sodat die ritme gestel kan word as dit nodig is. Dit kan van buite uitgetrek word, soos ʼn kateter, oor ʼn paar dae. Dreineringspype word ingesit. Die borsbeen word met draad geheg.

Dr. Willie Koen (regs), bekende kardiotorakale-chirurg aan die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, en dr. Loven Moodley, ook ʼn kardiotorakale-chirurg, besig om die nuwe hart oor te plant. Foto: Elsabé Brits

Koen werk begin toewerk om 20:37 en teen 21:10 is die operasie klaar. Nolte sal dadelik met vier immuniteitsonderdrukkers begin sodat die hart nie verwerp word nie.

Sy nuwe reis het pas begin, nadat die span vandag die horlosie geklop het. Maar, daar is nog twee ander pasiënte van Koen wat wag vir harte vir Kersfees.

Dié nood hou nooit op nie, môre begin hulle weer. Daardie soeke na die kosbare, unieke elektriese orgaan wat 100 000 per dag pomp, 35 miljoen keer per jaar. Jaar ná jaar.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

Inligtingkassie:

  • Dit is gratis om organe te skenk, dit vertraag nie ʼn begrafnis nie, en die liggaam word nie geskend nie. Lees alles by die Orgaanskenk-stigting.
  • In baie ander lande is daar ʼn ooraanbod van skenkerorgane omdat jy daar outomaties by geboorte op die skenkerslys is, en aansoek moet doen om van die lys af te kom, as daar kultuur- of geloofsbesware is. Verskeie kundiges het al gevra dat so ʼn beleid in Suid-Afrika ingestel word.
  • Dit is beter om met jou geliefdes te praat oor hoe hulle voel, voor iets dalk gebeur, dan is dit makliker om ʼn besluit te maak. Van die sowat 5 000 mense wat organe benodig, ontvang minder as 400 dit tans.
  • Dit is nie net organe wat geskenk kan word nie, maar ook: Weefsel en been aan die Weefselbank in Pretoria. Dit sluit vel, been (vir mense wat kanker het en rekonstruksie benodig), senings, hartkleppe, sagte weefsel (wat in talle rekonstruksies gebruik word) en korneas in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andrea ·

Ongelooflik. Dankie Here dat U só n wonderlike mediese ontwikkeling laat gebeur het.

Gemaskerde Sopbeen ·

Het dit beleef in 2005. Sy was net 11 jaar oud. Ope hart operasie. Sunnighill Kliniek. Dr Kenny Govandragaloo en Prof Kingsley. As jy dit nie beleef het nie, weet jy nie hoe dit voel om by die teaterdeur te moet omdraai…..en huistoe te gaan….en te wag nie. Vandag is sy ‘n pragtige jong vrou en suksesvolle Forensiese Rekenmeester……

AJ ·

Briljante artikel! Het dit so baie geniet…dis insiggewend en mens voel sommer die spanning en grootsheid aan.

KG ·

Stem volkome saam AJ, baie interessante artikel gewees. Het ook weereens besef, alhoewel daar so baie negatiewe dinge elke dag in veral SA gebeur, daar nog mense is wat ‘n positiewe verskil in mense se lewens maak.

Mara du Plessis ·

Baie dankie vir die artikel. Wonderlike werk wat deur ‘n wonderlike span gedoen word. God seen hulle.

John vd Westhuizen ·

Ek het die artikel baie geniet, alhoewel met groot spanning! Danki vir die wonderlike werk wat julle doen!

Julia ·

Wonderbaar! En waarom begin daardie nuwe hart te klop? Want Een is grootliks genadig; die Skepper van daardie einste nuwe hart… Dankie Here.

Liefie ·

Ek het nooit daaraan gedink wat dit moontlik kan vat om enige vorm van hart operasie uit te voer nie totdat my pa twee jaar terug n ” four way bypass” moes kry op ongelooflike kort kennisgewing sonder enige waarskuwing. Jy sterf tien dode as die dokter vir jou se hy gaan sy beste doen maar groet solank en jy moet weg stap. Ek het daai dag 10jaar ouer geword maar n 100 jaar wyser en vandag het ek die wereld se respek vir dokters en ongelooflike liefde vir die dokter van die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria!.

Helene Heyns ·

Sjoe, dit was nou die mees insiggewende artikel wat ek in n lang tyd gelees het. Onverbeterlike spanwerk. Ek kon letterlik die spanning aanvoel. Sal beslis nie omgee om so n operasie te kan bywoon nie.

Bamsie ·

Daar is bekwame, knap dokters maar daar is ook wat net wil geld maak. Ek het Brown Sequard syndroom agv n Pretoria dokter se nalatigheid.

Klein Jane ·

Pragtige artikel!! Bewus making oor die voordele van Orgaanskenking is so belangrik

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.