Video: Nando’s skeer gek met ‘Tembisa-tienling’

‘n Skermgreep uit die Nando’s-advertensie.

Een ding is gewis en dit is dat Suid-Afrikaners, ondanks al die uitdagings waardeur hulle in die gesig gestaar word, steeds ʼn onwrikbare sin vir humor behou.

Die ganse land is tans aan die skater oor die kitskosgroep Nando’s se jongste advertensie, waarin hulle die gek skeer met die Tembisa-tienling, wat vroeër vanjaar wêreldwyd opslae gemaak het.

Berigte het destyds die ronde gedoen van ʼn tienling wat binnekort in Tembisa, Gauteng, gebore sou word, net vir die land om later die teleurstellende nuus te ontvang dat die tienling nie bestaan nie.

Dit nadat duisende Suid-Afrikaners hand in die sak gesteek het om die egpaar, wat beweer het dat hulle dié kroos verwag, onder meer geldelik by te staan – en uiteindelik uit te vind dit is ʼn bedrogspul.

In die jongste Nando’s-advertensie, waarin ʼn prego-rolletjie en skyfies te koop aangebied word, steek die kitskosgroep die draak met die Tembisa-tienling, oftewel die “Ekurhuleni 11”.

Die boodskap van die advertensie is dat Suid-Afrikaners dit nie kan bekostig om valse nuus vir soetkoek op te vreet nie, maar dat hulle wel die jongste Nando’s-aanbod kan bekostig.

Die video, wat Donderdag op YouTube gedeel is, is reeds duisende kere gekyk en versprei ook tans soos ʼn veldbrand op sosiale media.

Kyk hier na die advertensie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Mooi Nandos. Die Ekurhuleni burgemeester Masina het nogal getwiet die babas bestaan en mense het donasies gemaak. Pretoria News het die fake news uitbasuin, wys jy kan die gedrukte media nie vertrou nie. En nou is die storie ook dood gebore.

Belinda ·

Oorspronklik. ekt die video nogals geniet. Wie ookal altyd daardie advertensies maak, het n baie groot humorsin. Wel gedaan Nando’s

Lindi ·

Ek was erg aangeval oor ek gese het dis ‘n “fake storie”- tot vir my gese ek moet my IK laat toests want ek is te stupid om die konsep van 10 babas te verstaan! Ek lag nou nog oor die mense se reaksies!!

Chuck ·

Wel gedaan, Nando’s! Dit sou nog snaakser gewees het as dit nie die algemene tendens van ons ou landjie so akkuraat weerspieel het nie. As land is ons reeds die grapkas van die heelal en sulke verregaande bedrog wat ongestraf bly, stuur die boodskap uit dat dit maar ‘okay’ is . Net in Afrika….

d

Swerwer ·

Pragtig Nondo’s ‘n goeie sin vir humor is uitstekend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.