[Video] Nóg beserings weens storm aangemeld

Skade wat aangerig is deur die storm in Eloff in Mpumalanga (9 Oktober 2017). Foto: Twitter via @StormReportSA1/Marcia Blom

Minstens nege mense is in die Delmas- en Bapsfontein-gebiede beseer nadat ʼn erge storm Gauteng en gedeeltes van Mpumalanga Maandagmiddag getref het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is Maandagaand na ʼn sakeonderneming naby die R50 in Delmas ontbied waar ʼn gebou erge skade weens die storm opgedoen het.

“Ses mense wat binne die gebou was, is beseer. Paramedici het die pasiënte vir geringe tot matige beserings behandel voordat hulle na verskillende hospitale geneem is,” het Meiring gesê.

ʼn Kort ruk later is paramedici na ʼn huis in die Bapsfontein-gebied ontbied waar ʼn gedeelte van die huis weens die storm ineengestort het. Daar het paramedici ʼn man en twee kinders aangetref wat geringe tot ernstige beserings opgedoen het.

“Die drie mense is op die toneel behandel en pyverligtingsmedikasie toegedien voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is,” het Meiring gesê. Die polisie was in albei gevalle ook op die toneel.

Maroela Media het vroeër berig een mens is dood en minstens vier beseer nadat geboue aan die Gautengse Wes-Rand ineengestort het. ʼn Man het gesterf en twee mans is beseer nadat ʼn stoorkamer op ʼn kleinhoewe in Krugersdorp ineengestort het. Nog twee mense is beseer toe die dak van ʼn winkelsentrum in Krugersdorp gedeeltelik ineengestort het.

Skade aan geboue is by verskeie ander plekke in die stad aangemeld, onder meer in Randburg en in Roodepoort. Verskeie paaie het ook oorspoel en voertuie is deur die erge reën en hael beskadig.

Volgens berigte stel die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ondersoek in na bewerings dat ʼn “tornado” in gedeeltes van Gauteng en Mpumalanga waargeneem is. Storm Report SA het op Twitter die onderstaande video gedeel van ʼn storm wat volgens inwoners soos ʼn tornado gelyk het wat in die gebied by Delmas en Eloff in Mpumalanga waargeneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Op tv word na ‘n mini-tornado verwys ten spyte van die groot skade. Dit lyk wel na ‘n volskaalse ramp.

Bokkie ·

Julle het klaarblyklik nog nie n tornado in Amerika ervaar nie!! Die tornado van gister is n babatjie teen dit! Ek weet dit is skrikwekkend omdat ons nie gewoond is aan die grotes nie.

Griet ·

Gisteraand op die nuus is dit duidelik met foto’s gewys dat daar ‘n tornado in die kleine was en weer eens wil die weerdiens dit ondersoek! Onthou julle so ‘n klompie jare terug toe een of ander minister haar naam met ‘n plank geslaan het toe sy gesê dat daar ondersoek ingestel word hoekom die weerlig so baie mense in KZN doodgeslaan het? Dit was lagwekkend gewees en nou doen die weerdiens weer dieselfde! Ai, ai

Lientjie ·

Ek wonder wat of wie gaan hulle ondervra in die ondersoek? Wha hahahahaha.

Ouma ·

Al is dit ‘n “kleintjie” in vergelyking met dié wat mens in Amerika sien, moes dit nogtans angswekkend gewees het. Die foto is bewys van ‘n tornado: so wat hulle ondersoek? En watter verskil sal dit maak? Tydmors as jy my vra.

Dina ·

Hoe ook al, klein of groot, ons beurt is ons beurt. Storms laat mens vinnig besef dat ons en ons motors en ons huise soos grashalms is teen die krag van God in die natuur. Ons is bitter afhanklik van Sy genade. Mag ons hoor as Hy in Sy liefde met ons praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.