Video: Noue ontkoming toe olifant op boot afstorm

Ingrid Marais is ‘n befaamde fotograaf en het dié foto geneem toe die olifant hul boot storm (Foto: Ingrid Marais)

’n Idilliese rivierboot-safari het amper ʼn nare einde gehad tydens spitstyd op die Chobe-rivier in Botswana.

Die Marais-gesin het die Kasane-area in Botswana besoek ter viering van hul ma, Ingrid, se 60ste verjaardag. Su-an Müller-Marais, Ingrid se skoondogter, wat ook die gebeure op video vasgevang het, het gesê hulle het op ʼn bootrit gegaan, waar hulle dié olifant gewaar het.

“Ons het op die rivier gevaar en gesien hoe ’n hele klomp bote rondom ’n weiende olifant in die rivier saamdrom. Ons het ook stilgehou om te kyk en die enjin afgeskakel om nie die olifant te steur nie,” het sy gesê.

Müller-Marais, bekende televisie- en radio-aanbieder, het gesê die Chobe-rivier was in volle vloed en dat ʼn sterk stroom hul boot nader aan die olifant laat dryf het.

“Ons was naby genoeg om die olifant te hoor wei en ons was gespanne, maar in verwondering oor dié pragtige dier. Die gids het ons gemaan om kalm te bly en ek het ’n video begin neem. En tóé begin die olifant storm.”

“Ons was angsbevange toe ons die olifant sien aankom en ons hoor nie die enjin aangaan om weg te jaag nie, maar ons ervare gids het seker geweet dit sou die olifant nog méér ontstel as hy op daardie oomblik die sleutel sou draai. Hy ken die olifante van die Chobe sy lewe lank. En hy was reg; die olifant het ons letterlik weggestoot, maar dit kon baie erger gewees het as ons probeer veg of vlug het,” het sy gesê.

Müller-Marais het gesê hulle was verlig toe hulle verder van die olifant af wegdryf.

“‘A lucky shot almost became a lucky spot,’ het ek gedink terwyl ons wegdryf. Ons was tegelyk geskok, verlig én verheug dat ons almal veilig en die boot heel is. Ek het sommer weer vir ma geluk gewens met haar verjaardag namens al die olifante in die Chobe. Ek was natuurlik sarkasties, maar dankbaar dat ons haar lewe (én ons lewens) letterlik  kon vier, want haar verjaardag kon net sowel haar laaste dag gewees het.”

Müller-Marais het gesê hulle kan nóú terugkyk en giggel oor ʼn paar goed, soos haar skoonsuster wat vir die olifant sê: “Hallo Liefie,” net voordat hy hulle gestorm het. Of haar man se reaksie toe sy vir hom vra wat deur sy kop gegaan het toe hy daar heel voor sit en hy antwoord: “Amper ’n olifanttand!”

“Natuurlik stap ons weg met dieper deernis vir olifante en respek vir die natuur asook ’n paar lesse.

In ons geval moes ons teen ons instink om te wil vlug en veg stry. Ons gids se woorde: “Whatever happens, stay on the boat,” klink dalk vanselfsprekend, maar dis nogal moeilik om stil te sit as ’n olifanttand 50 cm van jou af is,” het Müller-Marais gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gertryda ·

Ja nee kyk die grotes is nie n ou se speelmaatjie nie
Diere vertrou mense ook nie

Theresa ·

Lieflike olifant.
Jip. Selfone, kameraflitse en videio-nemery het al menige se dood veroorsaak.

Veronica ·

Self het ons verlede maand in MABILINGWE saam n jong gids n Sondag aand rit geneem opsoek na Olifante. Net voor 6 gewaar hy n paar in die bosse waarop hy ons nooi om uit te klim en nader te stap . . . nodeloos om te sê ek was vrek bang en hul gevolg omrede ek nie alleen in Safari voertuig wou sit nie.
Na n ruk het ons terug beweeg na voertuig en om bos gery om hulle van nader te sien.
Gids het byna tot by hulle gery en engin ook afgeskakel en rustig gevra ons moet kalm wees en saggies praat. Ek was al een wat soos n bang skool meisie te kere gegaan het en het gebewe van spanning! Een Olifant het ook nader gekom en sy ore dreigend na ons gedraai waarop gids kalm met hom gepraat het.
Ons het n hele ruk daar vertoef wat vir my soos n ewigheid gevoel het en ek het heeltyd gebid!
Niks het gebeur nie en ons was veilig en verlig en ook verwonderd oor die pragtige Olifante maar net sowel kon dinge heel ander uitgedraai het. . . .
Gids was baie profesioneel en rustig en hy ken ook die diere maar vir my was dit ook ” Close call”

Jaco ·

Ons was ook daar, pragtige stuk wereld! Maar hy is nie jou speelmaat nie.

Ella ·

Gidse gaan te naby. Dis die olifante wereld nadat ons al feitlik alles vir ons gevat het en ons respekteer dit nie.
As die olifant iets gedoen het sou hy dood wees. Alles net sensasie vir die betalende gaste

Houtoog ·

Pragtig die natuur en eintlik is die diere geredelik voorspelbaar MITS jy jou gedra. Ongelukkig kan ons dit nie sê van ander omstandighede in ons land wat misdaad insluit. Ek weet nie van ‘n dier wat ooit vir misdaad aangekla is?
Maroela moet gaan kyk na die spelling van ‘Marais’ wat ook hier as ‘Marias’ gespel word. ‘n Fout wat selfs die Marais-families al getref het!

Cyril Blackburn ·

Dagsê Houtoog
Ons vra om verskoning vir die oorsig – die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

TDW ·

Ek is werklik geskok oor sy gedrag, ek het geen tekens gesien wat laat blyk dat hy omgekrap is nie. Geen waai van ore, ‘n kyk, bietjies dreig, niks. Ek sou dit wraggies nie verwag nie. Hulle het altyd ‘n tell-tale wat jou waarsku dat hulle nukkerig is. Is daar enige wildbewaarders wat vir my kan sê of hulle ‘n teken gewaar in die video?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.