Video: Nuwe hoof op unieke wyse by skool verwelkom

H.J. Koekemoer, nuwe skoolhoof van Hoërskool Centurion, daag met helikopter op by skool (Foto: Verskaf)

ʼn Eerste dag by ʼn nuwe skool kan vir enigeen moeilik wees, maar die nuwe skoolhoof van Hoërskool Centurion, oftewel die Woerie-kampus, het Dinsdag sommer met ʼn helikopter vir sý eerste skooldag opgedaag!

Karla Roux, Hoërskool Centurion se bemarkingsbestuurder, vertel mnr. HJ Koekemoer is Dinsdagoggend deur dié hoërskool met ʼn helikopterrit skool toe verras.

“Hy het van niks geweet nie. Hy het die oggend skool toe gekom vir ’n vergadering, waar ons toe vir hom gesê het dat die beheerliggaam vir hom ’n spesiale ontbyt gereël het. Dit is toe waar ons die nuus gebreek het dat hy met ’n helikopter skool toe geneem word,” vertel Roux.

H.J. Koekemoer klim uit helikopter (Foto: Verskaf)

Koekemoer was in vervoering met die helikopter-idee omdat helikopters en vliegtuie hom na aan die hart lê.

Die Woeries-leerders het vroeg die oggend by die hoofpaviljoen bymekaar gekom vir Koekemoer se inhuldiging as nuwe skoolhoof. Die opwinding was groot toe die helikopter op die skool se rugbyveld te lande kom en Koekemoer uitklim.

Volgens Roux loop die tema van die Romeinse Ryk soos ’n goue draad deur die skool en sy geskiedenis. Hulle wou met die inhuldigingseremonie die Romeinse tema sterk na vore bring.

H.J. Koekemoer lewer toespraak as nuwe skoolhoof (Foto: Verskaf)

’n “Centurion” soos afgelei van die skool se naam, was ’n soort soldaat in die Romeinse Ryk. Met die inhuldiging is die skoolhoof as “die Romeinse keiser” gekroon wat die Woeries (sy soldate) moet beskerm teen aanvalle van buite op hul sterk Christelike waardes en karakter.

“Die helikopter was die simboliese oorgang tussen die moderne wêreld daar buite en die Romeinse wêreld van ons skool,” vertel Roux.

Nadat Koekemoer uit die helikopter geklim het, het hy ’n klok gelui wat simboliseer dat hy nou amptelik die “Romeinse wêreld” betree.

H.J. Koekemoer was in vervoering met sy verrassing (Foto: Verskaf)

Koekemoer is met ’n rooi tapyt na sy “troon” gelei waar hy as “keiser” gekroon is en só ook as skoolhoof ingehuldig is. Personeellid Juan Nagel het Koekemoer seën toegewens deur hom simbolies met God se wapenrusting toe te rus.

Roux meen hulle het die kwartaal op gepaste wyse afgeskop deur ’n spesiale tradisie te vestig wat behoue gaan bly.

“Ons voel positief oor die nuwe hoofstuk wat ons as Woeries betree. Koekemoer is die perfekte nuwe skoolhoof vir ons skool en ’n waardige leier. Hy is streng, maar sy menslikheid en omgee spreek boekdele.”

LEKKER FM was by die inhuldiging van die nuwe Hoof Mnr Koekemoer by Hoërskool Centurion! Kyk gerus dit was nou LEKKER!!! #hoërskoolcenturion #disnoulekker #lekkerfm

Posted by LEKKER FM on Monday, July 8, 2019

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Stormrider ·

En Waterkloof se nuwe hoof het met ‘n valskerm geland op sy eerste dag as ek reg onthou?

Z ·

God se Wapenrusting. Sjoe! Kragtig!
Seënwense vir julle almal.

Carla van Wyk de Vries ·

Gooi wal teen die erodering van ons kultuur en tradisies. Hou vol om positiewe etiese karaktereienskappe in ons kinders te vestig.

Pieter ·

En hoeveel het dit gekos ? Die ouers moes seker opdok of volgende jaar is daar n ekstra 2 -3 % skoolfonds verhoging. Arme ouers.

Jaco ·

Ek twyfel sterk of enige beheerliggaam so n uitgawe sal toelaat…dalk is dit n ouer se helikopter …

Ena ·

Dis moeilik om te verstaan dat daar skole is wat so baie geld het en ander wat skaars kop bo water kan hou?? Dis seker maar hoe dit is. Bly vir julle!!

Jean ·

Ag Ena en Pieter…moenie so negatief wees nie…julle weet nie waar die geld vandaan kom nie..
Laat een skool dit waaraan hulle glo en waarvoor hulle betaal dit tog geniet!

Jannie ·

Raak al net so belaglik en uitspattig soos Matriekafskeid-funksies! Selfs Gr7 funksies begin hand uitruk.. Lekker, Pretoria!

Hans ·

Die uitgawe was heeltemal onnodig-‘n paar behoeftige leerlinge kon met die spandeerde bedrag ondersteun gewees het.

Madelein ·

Dis belaglike mors van hulpbronne. Die 3 groot Pretoria skole, Garsfontein, Menlopark en Waterkloof is veral skuldig aan hierdie blink Stefaans manier van doen. Intussen moet ons as ouers vir elke aktiwiteit bybetalinga doen. Selfs wanneer die kinders die skool op nasionale vlak verteenwoordig. En die wat nie betaal nie se name word oor Whatsapp verkondig. Onaanvaarbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.