Video: Olifant verras gesin in tuin

Freddie die olifant het ’n gesin van Phalaborwa Woensdag in hul tuin verras. (Foto: Marna van Niekerk)

’n Video van ’n jong olifantbul wat ’n Phalaborwa-gesin in hul tuin verras het, het in ’n sosialemedia-sensasie ontaard.

Dié video het egter intussen ʼn ernstige nadraai gehad toe iemand die olifant as “gevaarlik” bestempel het en die gesin moes net keer of die olifant is van kant gemaak.

Op die video kan gesien word hoe ’n brawe Giel van Niekerk (60) die olifant verjaag deur sy hande teen mekaar te klap. Die olifant, wat sedertdien deur die Wild heart Wildlife Foundation as “Freddie” gedoop is, retireer dan ewe gedweë.

Dié geluid, sê Van Niekerk, is sensitief op olifante se ore.

“Hy het bloot kom water soek en was glad nie aggressief nie. Jy kan duidelik sien as ’n olifant ernstig wil storm, of net kamma-storm. Ek sou nie nader beweeg het as hy aggressief was nie.”

Freddie stap in die tuin. (Foto: Marna van Niekerk)

Van Niekerk se vrou, Marna (45), sê Freddie was vermoedelik die vorige aand ook in hul erf, waar hy die kraan oopgedraai het om water te drink.

“Toe ons van die kerk afkom, het die water steeds geloop. Dis hoekom hy op die video so aan die kraan trek – hy het hom weer probeer oopdraai.”

Om ’n wilde dier in hulle agtererf te sien is egter nie vir die Van Niekerks ’n vreemde verskynsel nie.

“Ons het al bykans die hele Groot Vyf in ons erf gehad – almal behalwe die renoster.

“Olifante kom eet gereeld aan die mango- en maroelabome op die erf en kom soek dikwels in droë tye water,” sê Van Niekerk.

“Ek is juis besig om my erf in ’n woestyntuin te omskep en beplan om plante te plant waarvoor olifante nie lief is om aan te vreet nie.”

Boonop het die gesin al buffels op hul grasperk sien lê en ook voorheen ’n leeuwyfie met haar welpies teëgekom.

“My seun, Pieter, het een aand laat tuisgekom toe ’n luiperd op die stoep sit. Hy en die luiperd het ewe groot geskrik en hulle eie rigtings ingevaar,” lag Marna.

Buiten ’n verskeidenheid bokke en ’n muskeljaatkat was daar selfs al hiënas in hulle erf – een van die hoofredes waarom die gesin nie honde kan aanhou nie.

Hulle swembad, sê van Niekerk spottend, is meer soos ’n watergat.

Die gesin se huis, waar hulle sedert 2002 woon, grens aan ’n oop stuk veld, oftewel “buffergrond” duskant die Palabora-kopermyn (PMC), ook ’n reservaat vir wildlewe. Dit is nie omhein nie – nes die Van Niekerks dit verkies.

’n Buffel maak ’n draai by die Van Niekerk-gesin. (Foto: Marna van Niekerk)

Dit was dus nie snaaks toe Freddie sy opwagting hier gemaak het nie.

Die video van die voorval, sê Van Niekerk, het egter sedertdien ’n ernstige nadraai geneem.

“Dit het wyd versprei en in die verkeerde hande beland. Iemand wat ons nie ken nie, het dit op Facebook geplaas en gesê dat die olifant gevaarlik is.”

“Dis toe dat ons sien Natuurbewaring beplan om die olifant te skiet.”

Hieroor was die Van Niekerks woedend en hulle het met die Wild heart Wildlife Foundation in verbinding getree, wat ook die video gedeel het.

“Daar is op dié stadium geen planne om die olifant te skiet nie. Dis die laaste uitweg. Ons het reeds ons ondersteuning aan Natuurbewaring, wat bepaalde protokol in plek het, gebied en doen ’n beroep op die publiek om ons te kontak indien hulle Freddie iewers gewaar.

“Eerste prys sal wees dat hy teruggaan waar hy vandaan kom, op sy eie of met kundige hulp, en dat die heining herstel word,” sê Carina Crayton, medestigter van die Wild heart Wildlife Foundation.

“Dit gebeur gereeld, dit is die aard van die omgewing. Mens en dier moet leer om saam met mekaar te leef. Daar moet egter ’n balans wees wat die veiligheid van die inwoners, sowel as die diere bevorder.”

Crayton sê dat mense nie dié olifant, of enige ander wilde diere, moet konfronteer nie.

“Moet hulle nie voer of water gee nie, want dan gaan hulle toenemend terugkom. Indien hulle vanself opdaag en aan die plante kom vreet, los hulle dat hulle hul ding doen – selfs al verloor jy ’n paar plante in die proses.”

Indien jy Freddie gewaar, kontak Crayton op 083 588 3550.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

Hello Freddy

Andrew

Ai te mooi ek sal met hulle plekke ruil.

Leana

Ek verstaan nie hoekom mense gedurig ‘n dier moet wil skiet as hy loop waar jy voel hy nie moet loop nie. My siening is dat die diere eerste daar was en jy het hom verdryf omdat jy nou daar wil bly of ‘n gebou wil opsit. Los die dier dit was eerste sy plek hy het net soveel reg as jy om daar te wees.

Manie

Ek glo wild kan aanvoel wanneer ‘n mens ‘n bedreiging vir hulle inhou. Ek het in Julie 2018 ‘n soortgelyke ervaring met ‘n groot koedoe bul in Marloth Park gehad. Hy het uit die niet verskyn en ongeveer 6 meter van my af uit die swembad kom water drink. Ek kon sien hy was baie versigtig en het gereeld opgekyk, totdat hy weer geluidloos verdwyn het. Was gelukkig om my selfoon byderhand te kon hê en dit opgeneem, want sulke ondervindings is uniek.

Misky

Sjoe, ek sal dit ook graag wil beleef en enige tyd huis ruil met hulle