Video: Olifantbul gaffel voertuig

Die beskadigde voertuig. (Foto: JustCall MeJack/Facebook)

Wildgidsstudente en hul instrukteurs het Sondag amper hul moses teëgekom toe ʼn groot olifantbul hul voertuig bestorm en omgedop het.

Die studente was besig met opleiding by die Selati-wildreservaat in die Krugerwildtuin toe ʼn bronstige olifant op hulle afgestorm gekom het. Die groep moes laat spaander om betyds uit die olifant se pad te kom.

Beeldmateriaal van die voorval word sedertdien wyd op sosiale media versprei.

In video’s van die voorval kan gesien word hoe ʼn voertuig op ʼn groep olifante afkom. Die voertuig is besig om tot stilstand te kom, toe ʼn bul onverwags van die kant af aangestorm kom.

Volgens EcoTraining, wat kursusse aan voornemende wildgidse bied, het die bul aanvanklik net gedreig om die voertuig te bestorm. Die voertuig het egter effens beweeg en dit is toe dat die bul dit behoorlik beetgekry het.

Sekondes van stilte tik verby voor ʼn volgende video wys dat die voertuig tot stilstand gekom het en studente en hul instrukteurs inderhaas uit die voertuig spring. Albei instrukteurs het meer as 25 jaar se ondervinding op die gebied.

Vyf mense hardloop na ʼn ander EcoTraining-voertuig terwyl die trop olifante vinnig spore maak.

Die bestuurder van die reservaat, Bryan Havemann, is kort na die voorval daarvan ingelig en is na die toneel om die skade te bepaal.

“Hoewel die voertuig beskadig is, is ons dankbaar dat nie een van die mense in die voertuig enige beserings opgedoen het nie,” sê Havemann.

Diegene wat by die voorval betrokke was, het sedertdien berading ontvang.

Dit is nog nie duidelik of ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur is nie.

Olifantbulle wat bronstig is, het dikwels hoë vlakke van testosteroon wat veroorsaak dat hulle aggressief teenoor diere en mense kan optree, lui ʼn verklaring van EcoTraining. Dit duur gewoonlik net sowat drie maande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Misky ·

Ek vermoed daai ou wat heelvoor op die bonnet gesit het, het dadelik nuwe onderklere gaan aantrek

Tienie ·

Heng. Het ek nou dit geniet.

Die Grootvoete is nie jou speelmaat nie al is hulle hoe mak.

Persoonlik glo ek dat sekere studente in die toekoms n skoon broek sal saam neem veld toe vir ingeval. If you know what I mean.

????????????

Praat ·

“Voornemende wildgidse” ?? nee nee , EKS-voornemende wildgidse :-)
Lyk nie of Oupoot baie lus was vir die kamera Sondag nie

KB ·

Die 25 jaar se ondervinding is nie juis gebruik nie, mens sou verwag dat hulle ingelig sou wees oor bronstigheid by hulle diere.

Frank ·

Ek neem aan by hierdie betrokke klas is geleer: wat om NIE te doen nie!

Nelius ·

Interessant, dit het vir my meer na die Matriarg koei gelyk, en nie n bul in musk nie…?

Nelius ·

Maar hoe dit ook al sy, dit wys jou een ding: Oliffante toon insig, hulle hou nie van Toyotas of Land Rovers nie… :)

Nelius ·

Hoekom ek so dink… Firds, Isuzus en Amakrokke kan reverse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.