Video: Olifante onderbreek fotosessie by Kruger-standbeeld

‘n Skermgreep uit die video op Twitter.

’n Suid-Afrikaanse olifant vat jy beslis nie met ’n selfoonkamera aan nie. O nee, daarvoor het jy ’n paar lekker dik handskoene nodig.

Besoekers aan die Krugerwildtuin het dié les geleer toe hulle onlangs deur ’n trop olifante verras is terwyl hulle foto’s by die park se standbeeld van oudpres. Paul Kruger geneem het. Dié standbeeld is net buite die wildtuin se Kruger-hek opgerig.

Die vroue het tot ander besoekers se vermaak (én konsternasie) laat spaander terwyl ’n trop van ses olifante verbygehardloop gekom het.

’n Video van die noue ontkoming is vandeesweek op Twitter gedeel en intussen meer as 141 000 keer gekyk.

“Hierdie kontinent is ’n fliek,” het een sosialemediagebruiker laat hoor.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, het Woensdag aan Maroela Media gesê die vroue was besig om foto’s naby die bekende Kruger-standbeeld te neem toe die olifante oor die pad gestap gekom en verby die vroue gehardloop het.

Volgens Phaahla word besoekers toegelaat om by dié hek uit hul motors te klim en te verken. Hy waarsku egter dat besoekers steeds op hul hoede moet wees, aangesien wilde diere steeds in die omgewing vrylik rondbeweeg.

Volgens Phaahla wou die trop olifante vermoedelik oor die brug in die omgewing dieper die park in beweeg.

Die olifante het gelukkig nie die vroue bestorm nie en niemand is gedurende die voorval beseer nie.

Phaahla verduidelik dat ’n trop olifante net sal storm wanneer hulle bedreig voel. “Die mense het hulle nie bedreig nie en die olifante wou net weg van die skare af kom.”

Phaahla sê die voorval wys net weereens dat besoekers eerder die sekuriteitswagte by die Kruger-hek in kennis moet stel wanneer hulle foto’s by die standbeeld wil neem, sodat die wagte op die uitkyk kan wees.

“Ons is baie dankbaar dat niemand seergekry het nie. Dit beteken egter net mense moet ekstra waaksaam wees in daardie omgewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Daleen ·

Wonder of die toeter vir die olifante of die “atlete” gedruk word :)

Cecilia ·

Ek het al so voor d hek gestaan vroeg oggend, sterk skemer nog en wag dat d hek oop maak. Dan skud ek net my kop as ek sien hoe mense uitklim en rondloop want hul dink dis veilig want dis buite d KNP. Ek wonder net dink d mense d diere word saans op hok gesit? Dis niks vir n wilde dier om te “ontsnap” uit d KNP nie.
N jr of 2 trug het d luiperd d oggend by d einste hek doodluiters trug gestap in d KNP in d oggend toe d hekke oopgemaak word vir besoekers.

Astrain ·

My ma het altyd gesê, as jy nie wil hoor nie – moet jy maar voel….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.