Video: Ondergrondse tonnel lei boewe tot binne winkel

MHC World is ná die rooftog met die yslike gat in sy winkel gelaat. (Foto: Skermgreep uit video)

Dit blyk nie meer genoeg te wees om jou onderneming se inhoud net agter slot en grendel te hou om boosdoeners weg te hou nie.

Uitgeslape verdagtes het ’n kleinhandelaar in die Pretoriase middestad verlede maand rot en kaal besteel nadat hulle deur ʼn stormwaterpyp geklouter en ’n ondergrondse tonnel tot reg in die winkel gegrawe het.

MHC in Madibastraat het met ʼn yslike gat in die winkelvloer gesit nadat boewe deur die nag van 18 September deur middel van die ondergrondse tonnel toegang tot die winkel verkry het.

Verskeie items, waaronder klere, sonbrille, parfuum en kontant, is gebuit.

“Hulle het presies geweet waarheen om te gaan,” sê Shahin Carrim, eienaar van die MHC, nadat die verdagtes vermoedelik deur ’n stormwaterpyp geklouter het en ’n ondergrondse tonnel van een meter by een meter tot onder die winkel gegrawe het.

Vandaar het hulle een meter na bo tot reg in die winkel gegrawe.

Volgens Carrim is dit sowat 15 meter van die stormwaterpyp tot in die winkel.

Kapt. Augustina Selepe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die verdagtes het geen plofstof gebruik om tot in die winkel te kom nie.

Dit is onbekend hoeveel mense by die voorval betrokke was en geen inhegtenisnemings is al gedoen nie.

MHC moes intussen die gat in die winkel op eie koste opvul en toemaak.

Carrim is veral omgekrap om die stad se stormwaterpype oënskynlik oopstaan vir enigeen om daardeur te klouter terwyl die planne vir die stad se stormwater-infrastruktuur boonop aanlyn aan die publiek beskikbaar is.

Volgens MHC sal die Stad Tshwane vanaf 1 November aandag aan die ondergrondse tonnels skenk.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, het by navraag gesê die raad wil nie die ondersoek na die voorval belemmer nie en het Maroela Media vir kommentaar na die polisie verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SjN ·

Afrika tyd, dubbele oortyd, stemdag gaan seker vakansiedag wees.

Swerwer ·

Madibastraat sê genoeg. En ja dit moet beslis iemand wees wat die gebied ken, of daar werk wat agter dit sit. Wonder maar net hoekom die winkel nie ‘n alarm in het nie, die moes mos afgegaan het sodra hul uit die gat in die winkel geklim het.

Perdeby ·

Hulle het groot staal rol deure voor daarom het hulle seker nie ‘n alarm nie, maar dit moet iemand wees wat weet van die waterpyp.

Marita ·

Madiba Straat is die ou Vermeulen Straat. Die besigheid is op die hoek van Vermeulen en Du Toit. Ons wat jare daar gebly het ken dit as Metro

Johan ·

Dit herinner aan die Krugerdorp tonnel-roof van destyds. Dalk nou Zama Zamas se werk.

Di ·

Begin soektog daar by MHC – klink te veel na iemand wat daar werk en bewus is van als, inside job

Misky ·

As boewe darem al die tyd, beplanning en skelm planne se kreatiwiteit in iets positiefs kon sit, sou ons land floreer het en vindingryk wees!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.