Video: ‘Ons rugbywedywering met Ierland groei’

Willem Strauss, die Bulle se toprugbypresident. (Foto: Verskaf)

Wanneer Willem Strauss oor rugbydinge praat, kan jy maar luister. As president van die Blou Bulle-rugbyunie het hy al die meeste dinge in die land se rugbyraadsale eerstehands ervaar, gesien en gehoor.

Soos wat hy heel tereg sê: 30 jaar se ervaring kom oor 30 jaar – ʼn mens is ʼn rugbyadministrateur omdat jy ʼn passie vir die spel het.

Maar tans gaan dit goed in Bloubulland.

Die Bulls speel vanaand (om 21:00) teen die Northampton Saints in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker, terwyl die Pretorianers ook stewige vertonings in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) lewer.

Dan is Loftus Versfeld se sitplekke weer vol – kyk net na die Bulls se onlangse kragmeting teen die Stormers, terwyl kaartjies vir die komende toets tussen die Springbokke en Ierland ook binne ʼn japtrap opgeraap is.

Volgens Strauss is hy nie verbaas dat plaaslike rugbyliefhebbers geskarrel het om toetskaartjies te bekom nie.

“Suid-Afrika se rugbywedywering met Ierland is besig om op dieselfde vlak as ons tweestryde teen Nieu-Seeland te kom,” het hy gesê.

Die Springbokke kon laas in 2016 met Ierland afreken, terwyl die Suid-Afrikaners ook in die Wêreldbeker-toernooi teen Andy Farrell se span verloor het.

“Selfs in ons toernooie kan jy duidelik sien hoe die wedywering groei. Ons kragmetings teen Leinster, Ulster en Munster is besig om te ontwikkel.”

Die Bulls het juis ʼn harde les teen Leinster – ʼn span gelaai met Ierland-spelers – geleer. Die Dublin-klubreuse het met ʼn briljante tweedehelftevertoning vorendag gekom om die wedstryd uiteindelik op ʼn drafstap te beklink.

Die Pretorianers het egter die nederlaag van 47 – 14 op die ken gevat en terstond in die daaropvolgende wedstryd vir Lyon ʼn bloedneus op Fort Loftus gegee.

Plaaslike spanne se wedywering teen Ierse teenstanders sorg altyd vir ’n taai stryd. (Foto: GB Jordaan)

Meer doeltreffende reisreëlings is egter ʼn moet as Suid-Afrikaanse spanne volgehoue sukses in Europa wil smaak.

Die Bulls het byvoorbeeld twee weke gelede Dublin toe gevlieg vir hul Leinster-ontmoeting, waarna hulle die volgende Saterdag teen Lyon in Pretoria gespeel het. Vandag speel hulle in Northampton teen die Saints; net om weer terug te jaag huis toe vir die VRK-stryd teen Munster.

Om jou tasse in Pretoria vir ʼn wedstryd in Edinburgh of Toulouse te pak, kan hoegenaamd nie met ʼn vlug van Londen na Parys vergelyk word nie.

Strauss meen dat dit dalk meer voordelig sou wees as ʼn mens die twee kompetisies – die Kampioenebeker en die VRK – kon skei.

“Die simptome is die vlugreëlings, maar die siekte is die oorvleueling van die kompetisies. Daar gaan natuurlik logistieke uitdagings wees wat uitsaairegte ensovoorts betref, maar daar moet in ag geneem word dat spanne uit Afrika na Europa moet reis.”

Dit is ongetwyfeld voordelig om uitspeelwedstryde op jou tuisveld aan te bied. (Foto: GB Jordaan)

Die feit dat Suid-Afrika nog nie ʼn aandelehouer in die EPCR (European Professional Club Rugby) is nie, maak dinge ook moeilik. Dit beteken dat plaaslike spanne nie ʼn halfeindstryd of eindstryd in die Kampioenebeker kan aanbied nie.

“Dit sit jou klaar op die agtervoet want kyk byvoorbeeld na die Bulls se tuisrekord teen Europese spanne; ons is nog onoorwonne in 21 wedstryde op Loftus.”

Die doeltreffende bestuur van spelers is dan ongetwyfeld ʼn vereiste.

“Ek het al vir Jake [White – die Bulls se direkteur van rugby] gesê hy het omtrent sewe grade nodig om die hele proses te bestuur. Jy moet as’t ware jou fight pick; hy wil vir Munster in die VRK wen waar ons ʼn tuishalfeindstryd of -eindstryd kan aanbied. Maar dit sal my ook nie verbaas as ons nou goed doen teen die Saints nie.”

As administrateur sal jy wyd moet soek om iemand van Strauss se kaliber te vind.

(Foto: Verskaf)

Daar was sy tyd by Suidoos-Transvaal (later die Pumas) waar hy onder meer die gladde oorgang van amateur- na professionele rugby gefasiliteer het, terwyl sy werk by die @lantic-sewestoernooie gesorg het dat sewesrugby behoorlike vastrapplek in Suid-Afrikaanse skole gekry het.

“Die laaste vier jaar op Loftus saam met ouens soos Jake en Edgar (Rathbone; die unie se uitvoerende hoof) was beslis my lekkerste tyd in rugbyadministrasie. Ons deel dieselfde waardes en dit is juis dán wanneer jy ʼn gesonde kultuur skep.”

“Ons wil soveel as moontlik titels wen en in ʼn neutedop wil ons die beste rugbyklub ter wêreld wees; op en ván die veld.”

Die Bulls se wedstryd teen die Northampton Saints word vanaand regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.