Video: ‘Ons wil deel wees van iets groots’

Die skare by It’s Time 2018 buite Pretoria (27 Oktober 2018). Foto: Mariné Lourens

ʼn Uiteenlopende groep mense was Saterdag by die It’s Time-byeenkoms buite Pretoria te sien, maar almal was dit eens – hulle is daar om verandering in Suid-Afrika teweeg te bring.

Honderd-duisende mense het Saterdag na die Rhino Park-vliegveld, oos van Pretoria, gestroom vir Angus Buchan se Its’s Time 2018-gebedsbyeenkoms. Buchan was eers ná 13:00 aan die beurt, maar reeds vanaf 08:00 het die skare voor die reuseverhoog saamgetrek vir lofprysing en aanbidding.

ʼn Groep vriende van Rustenburg het aan Maroela Media gesê hulle het besluit om die pad na Pretoria en die druk verkeer aan te durf omdat hulle glo Suid-Afrika het die Here se ingryping nodig. “Deur Jesus Christus kan ons verenig wees in liefde. Ja, ons kom uit ʼn moeilike agtergrond van skeiding, maar ons glo deur die kruis kan ons hierdie ding laat gebeur. Ons kan mekaar liefhê en weet ons behoort aan Christus.”

Angus Buchan by It’s Time 2018 buite Pretoria. Foto: Reint Dykema

Nog ʼn deelnemer meen die indrukwekkende opkoms by die geleentheid is aanduidend daarvan dat Suid-Afrikaners, ongeag hul agtergrond, ʼn gemeenskaplike doel voor oë het. “Die feit dat daar soveel mense saamkom vir so ʼn byeenkoms, sê vir my ons land het nog ʼn hartklop. Ons land is op pad na ons Ware Noord.”

ʼn Ander aanbidder sê dit is die tweede keer dat hy It’s Time bywoon en dit is vir hom ʼn “eer” om dit te kan doen. “Ons almal is bekommerd oor ons toekoms en die toekoms van ons kinders. Ons het ʼn ding soos hierdie nodig, waar ons almal nederig voor God bymekaarkom. Ons wil deel wees van iets groots en ons wil hê God moet verandering in ons land bring.”

Volgens organiseerders sal verskeie toonaangewende politici, onder wie pres. Cyril Ramaphosa, hier wees om Buchan se boodskap te hoor.

Kyk hier wat It’s Time-bywoners oor die geleentheid te sê het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.