Dis ʼn angswekkende ervaring om ʼn blinddoek oor jou oë te trek en vol vertroue een voet voor die ander te sit terwyl jy deur ʼn gidshond gelei word. Soveel te meer as jy skielik jou vermoë om te sien verloor en glad nie meer in staat is om selfs alledaagse take te verrig nie.
“Daar is steeds ʼn lewe wat op jou wag wanneer jy jou sig verloor,” sê Elizabeth Louw, hoof van oriëntasie en mobiliteit by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (SAGV).
“Mense dink aan wat hulle nie meer kan doen nie wanneer hulle hul sig verloor, maar bitter selde besef hulle wat alles nog moontlik is – wat die meeste dinge behels.”
Dié verenging het met sy stigting 70 jaar gelede daarna gestreef om gidshonde meer toeganklik vir Suid-Afrikaners met gestremdhede te maak.
Vandag verskaf die SAGV jaarliks nagenoeg 50 gidshonde, dienshonde en outisme-ondersteuningshonde aan mense wat visuele, fisieke of ontwikkelingsbehoeftes het. Die organisasie stel ook honderde mense met gestremdhede in staat om ʼn mate van normaliteit in hul lewe te kry deur onafhanklik van ander te kan leef.
Louw sê hulle het verlede jaar 293 mense met verskillende soorte siggestremdhede opgelei om onafhanklik te funksioneer. Dit sluit in oefeninge oor hoe om geld uit te ken, self ʼn koppie koffie te maak en hoe om kieries en gidshonde te gebruik om rond te beweeg.
Dit kan maande neem om siggestremde mense te leer hoe om met kieries te loop en dieselfde geld diegene wat van gidshonde gebruik maak.
ʼn Lewenslange vierpootvriend
Die SAGV is toegerus met ʼn teling- en opleidingsfasiliteit wat honde oplei om mense met verskeie soorte gestremdhede by te staan.
Tanya Schonwald, hoof van strategiese verhoudinge by die SAGV, sê dit is ʼn uitgebreide proses om eindelik ʼn opgeleide hond aan iemand te oorhandig.
Tog is dit “waardevol om te sien watter impak hierdie honde in mense se lewens het,” sê sy.
Die vereniging oorhandig jaarliks tussen 50 en 55 gids-, diens- en outisme-ondersteuningshonde aan mense. Dit word boonop teen ʼn klein fooi van tussen R5 en R205 gedoen vir diegene wat só ʼn soort hond benodig. R200 word ook betaal vir opleiding en toerusting. Die SAGV is ʼn organisasie sonder winsbejag en ontvang verskeie borgskappe wat hom help om dié diens gratis te lewer.
Volgens Schonwald maak die SAGV slegs gebruik van labrador retrievers en golden retrievers wat hulle self teel. Dié geliefde honderas het ʼn goeie temperament en ʼn liefdevolle geaardheid.
Om te verseker dat dié honde reg en verantwoordelik geteel word, het die SAGV hande gevat met die Universiteit van Pretoria (UP) se Onderstepoortkampus.
“Sodra die honde kunsmatig geïnsemineer is, kom hulle terug na ons toe totdat hul eindelik geboorte gee,” sê Schonwald.
Na raming word tussen 80 en 100 honde jaarliks by die SAGV gebore.
Pieter van Niekerk, hoof van openbare betrekkinge by SAGV, sê wanneer die babahondjies agt weke oud is, word hulle aan pleegouers oorhandig wat hulle vir sowat 16 maande lank grootmaak.
Van Niekerk is self blind en maak al vir sowat 37 jaar gebruik van ʼn gidshond.
Die pleegouers, wat almal vrywilligers is, help met basiese opleiding vir die honde wat hulle in die toekoms in staat stel om gestremdes in enige omstandighede en na enige plek te neem. Hulle woon ook weekliks sosialiseringsklasse by die SAGV by.
Lynn Noble, ʼn vrywilliger wat al drie keer pleegouer gespeel het, sê sy vat gereeld die honde inkopiesentrums toe om hulle gewoond te maak aan die wêreld.
“ʼn Belangrike oefening wat ons doen is om hulle na ʼn Spar of Pick n Pay te vat en verby die vleisafdeling te loop. Ons probeer hulle te leer om nie afgelei te word deur die reuk van kos of teveel mense nie,” sê sy.
Wanneer die honde eindelik aan die SAGV terugbesorg word, is dit omtrent ʼn tranedal.
“Dit is ʼn hartseerstorie, maar wanneer jy die honde se gradeplegtigheid bywoon en sien na wie hulle gaan en wat hulle vir daardie persone beteken, is dit deur en deur die moeite werd,” sê Noble.
Die basiese opleiding wat deur pleegouers gedoen word, is nodig vir die SAGV om vas te stel watter honde se geaardheid geskik is om ʼn gids-, diens- of outisme-ondersteuningshond te word.
Die honde ontvang dan gespesialiseerde opleiding vir die volgende jaar voordat hulle gradueer en by hulle nuwe eienaars gaan woon.
Van Niekerk sê die honde is gewoonlik ná tien jaar reg om af te tree.
“Eerste prys is dat die honde by die persoon aftree wat hulle oor die jare heen bygestaan het, maar as dit ontmoontlik is, gaan hulle terug na die pleegouers toe. Byna altyd is die pleegouers meer as gewillig om ‘hulle’ honde terug te vat.”
- Besoek die SAGV se webwerf vir nog inligting.