[Video] Ontvoerde SA’ner se vrou praat ná hy vrygelaat is

(Van links na regs) Sue Peiser, Catherine se ma, Catherine, Maite Nkoana-Mashabane, Stephen se pa en David Mahlobo (Foto: ANA)

Catherine McGown, die vrou van Stephen McGown wat byna ses jaar lank deur Al-Kaïda-militante in Timboektoe, Mali, gevange gehou is, het Donderdag tydens ʼn perskonferensie gesê net hoop het haar deur die afgelope byna ses jaar gedra.

McGown is op 25 November 2011 in Timboektoe gevange geneem. Maite Nkoana-Mashabane, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Donderdag bevestig McGown is op 29 Julie vrygelaat.

Stephen het nie self dié mediakonferensie bygewoon nie.

“Dit was nou al baie lank [sedert hy vermis geraak het] en ek is net so bly dat dié dag nou aangebreek het. Dit is jammer dat Steve se ma nie hier is [om sy vrylating te beleef] nie. Ons het vroeër oor hoop gepraat. Dis ʼn snaakse ding – jy is hoopvol, en dan kry jy slegte nuus. Jy is moedeloos, maar tog het jy steeds hoop. Deur die proses hou jy net aan glo,” het sy gesê.

Catherine het gesê sy kan die herontmoeting met haar man aan niemand beskryf wat nie ook dié einste pad gestap het nie.

“Jy speel al hierdie speletjies in jou kop oor hoe dit gaan wees wanneer jy hom weer sien, wat jy gaan sê en waar dit gaan gebeur. Ek het al die scenario’s al in my kop gespeel, en nie een van hulle is hoe dit gebeur het nie. Hy het na my gekyk en gesê: ‘Jou hare groei.’ En toe sê ek: ‘Eintlik is jou hare nou langer as myne,’” het sy vertel.

McGown se pa, Malcolm, het vertel dat hy sy vrou, Stephen se ma, Beverly, positief probeer hou het deur haar te vertel dat hy binnekort huis toe kom. Sy is egter intussen oorlede. Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, het destyds gesê Beverly het jare lank elke dag gehoop dat Stephen vrygelaat sou word en dat sy hom vir oulaas sou kon sien voordat sy sterf.

Die Suid-Afrikaner Stephen McGown wat al sedert 2011 in Mali gyselaar gehou word deur Al-Kaïda (Skermgreep uit ‘n vorige video wat vrygestel is as bewys dat hy nog leef)

Beverly het lank aan ʼn longsiekte gely en sy was die afgelope tyd in en uit die hospitaal namate sy al verder agteruitgegaan het. Sooliman het gesê die angs en hartseer om vir haar seun se vrylating te wag het beslis ʼn uitwerking op haar gesondheid gehad.

“Dit was ʼn groot verrassing toe Stephen by die deur instap vir ons herontmoeting, maar ek het hom gedruk, en hy het sterk gevoel. Hy moes goed behandel gewees het daardie kant,” sê hy.

David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, sê die regering het daarin geslaag om sy vrylating sonder enige voorwaardes, waaronder ʼn losprys, te bewillig.

“Daar is geen voorwaardes aan die familie gestel nie. Die belangrikste ding is die goeie nuus dat deur ons betrokkenheid, die ondersteuning van die Afrika-unie en ander instansies, is Stephen tuis en herenig met sy familie,” het Mahlobo gesê.

McGown se vrylating kom net meer as ʼn maand nadat sy medegevangene, die Sweed Johan Gustafsson, vrygelaat is. Gustafsson het ná sy vrylating McGown se familie besoek om hulle mee te deel dat McGown steeds lewe en gesond is.

Aan die begin van Julie het ʼn groep wat bande met Al-Kaïda het, ʼn video uitgereik as bewys dat ses gyselaars, onder wie McGown, nog leef.

Lees alle vorige berigte oor Stephen McGown op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Dit is inderdaad wonderlike nuus! Welkom terug! Wys net- hoop beskaam nooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.