WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud en beeldmateriaal wat sommige lesers kan ontstel.
Die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) sal na verwagting Donderdag sy dossier met betrekking tot beweerde dieremishandeling aan die polisie op Hermanus oorhandig, nadat ʼn video aan die lig gekom het wat wys hoe ʼn jong bokserhond erg mishandel word.
Die video, wat wyd op sosiale media versprei is en heelwat reaksie uitgelok het, wys hoe twee sogenaamde troeteldieroppassers die sewe maande oue hondjie slaan. Hector lê op sy kussing in sy eienaar, Mel Coltman, se huis op Hermanus, waarna die man die hondjie opruk en dan met ʼn voorwerp wat lyk soos ʼn lat slaan.
Hector probeer wegkom en gaan lê dan weer in sy mandjie, waarna gesien word hoe hy weer met die lat getakel word.
Die vroue-oppasser maak ʼn deur van die huis oop, waarna die man vir Hector aan sy nek- en rugvel optel en by die deur uitgooi.
Die Coltmans het eers besef daar is fout toe hulle by hul terugkeer na die huis na die kringtelevisiebeeldmateriaal gekyk het. Hulle het die twee troeteldieroppassers gehuur om na die jong hondjie te kyk terwyl hulle vir die naweek weg was.
Coltman het die video daarna op Facebook gedeel saam met ʼn waarskuwing aan mense wat van die twee se dienste gebruik maak.
Belinda Abraham, DBV-woordvoerder, sê die video is Dinsdag deur ʼn lid van die publiek onder die vereniging se aandag gebring. Die voorval het glo ʼn dag tevore gebeur.
Abraham sê die DBV het daarna met Coltman in verbinding getree en dié het die vereniging se betrokkenheid by ʼn ondersoek verwelkom.
Die DBV se inspektoraat het die afgelope paar dae ʼn dossier opgestel en dit sal na verwagting vandag reeds aan die polisie oorhandig word sodat ʼn klag ingevolge die Wet op Dierebeskerming teen die twee troeteldieroppassers aanhangig gemaak kan word.
In die video kan nie gesien word dat die hond aggressief of aanvallend optree nie, maar daar is in ʼn stadium beweer Hector het na die oppassers gehap.
Coltman het Woensdag ʼn boodskap van ʼn prokureursfirma op haar Facebook-blad geplaas waarin die firma sê die gesin is oorval met versoeke om kommentaar oor die voorval en dat hulle teen Donderdagmiddag ʼn verklaring sal uitreik.
Die voorval het skerp kritiek uitgelok en die video is honderde kere gedeel.
Abraham het mense wat van ʼn troeteldieroppasser se diens gebruik wil maak, aangeraai om seker te maak die persoon is by ʼn geakkrediteerde instansie geregistreer, of word aanbeveel deur ʼn plaaslike veearts, dierewelsynsorganisasie of ander instelling.
Sy sê troeteldiereienaars moet verwysings van ʼn voornemende oppasser vra en die moeite doen om dié vorige klante te kontak en uit te vra. Sy sê ʼn oppasser wat sy sout werd is sal ook graag vooraf ʼn gratis huisbesoek kom doen om die troeteldiere te ontmoet en dan kan gesien word hoe die persoon met die diere oor die weg kom.
Abraham sê dit is belangrik dat ʼn oppasser onder meer enige tyd beskikbaar moet wees, dat hulle uitgevra moet word oor hoe hulle moontlike probleemgedrag sal hanteer en of hulle versekering het.
Nog ʼn goeie aanduiding van ʼn betroubare oppasser is om uit te vind of jou troeteldieroppasser self troeteldiere het en te kyk in watter toestand dié diere is.
Sy sê mense wat onraad vermoed is welkom om hul naaste DBV-tak te kontak.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
31 Kommentare
Liewe vader. Sluit hulle toe en gooi die sleutels weg
Hier gaan amper niks van dit afkom nie, seker R500 boete
E k sal ook hap as hy my slaan met ‘n lat
Our People het GEEN waarde of Liefde vir enige dier nie.Ek kan vir julle hope soorgelyke voorvalle wys.Dit is skokkend.
Hou ons asb op hoogte van hierdie saak.