Video: Optog vir Palestyne in Durban gehou

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

ʼn Paar duisend mense het Vrydag in Durban se middestad ʼn optog gehou ter ondersteuning van Palestyne in die Gasastrook.

Superintendent Eugene Msomi, woordvoerder van die eThekwini-metropolisie, het gesê die optog was vreedsaam. Volgens Msomi het meer as 5 000 mense aan die optog deelgeneem.

Die optog het ná oggendgebede by die moskee in Greystraat begin en na die middestad beweeg.

Msomi het gesê die burgemeester van eThekwini, James Nxumalo, het ook by die optog aangesluit.

East Coast Radio het berig verskeie leiers van verskeie godsdienste en burgerlike groepe het ook deelgeneem.

Sihle Zikalala, provinsiale sekretaris van die ANC, het by die stadsaal aan die betogers gesê die ANC veroordeel die “barbaarse bombardement van Palestyne in die Gasastrook”. “Die verval van menseregte in Gasa word toenemend kommerwekkend vir die wêreld,” het Zikalala gesê. “Dit is ʼn herinnering aan die aggressie van apartheid wat uiteindelik deur samewerking van Suid-Afrikaners en danksy die ondersteuning van die internasionale gemeenskap oorkom is. Vryheid en geregtigheid kan nie vir altyd ontken word nie.

“Ons is nie teen Israel nie. Ons het ook nie ʼn probleem met die Joodse gemeenskap nie. Ons sê net die Palestyne moet vry wees. Ons verstaan ook die kwessie van godsdiens, maar daar is geen godsdiens wat toelaat dat mense vermoor word nie,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sadie ·

Godsdiens wat toelaat dat mense vermoor word nie. Wat van selfmoordbomme? In wie se naam word dit gepleeg? Verduidelik ook asseblief Die Jehad

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.