Video: Oud-Bittereinder Devon wil nou vir álle SA’ners veg

Devon Hofmeyr, UIM se nasionale jeugleier, en Yusuf Young, UIM se nasionale veldtogkoördineerder. (Foto: Pieter Cloete / Maroela Media)

Devon Hofmeyr se gesang as Bittereinder is uit en hy besing nou die lof van die United Independent Movement (UIM), ʼn politieke party waarvan die 29-jarige Hofmeyr die nasionale jeugleier is.

Hofmeyr het sy skuif na politiek Woensdag by sy Pretoriase restaurant en kroeg, Eendracht Pub and Grill, aangekondig. Saam met hom was sy meisie, Nikita Joubert, asook Yusuf Young, die UIM se nasionale veldtogkoördineerder.

Hofmeyr het die UIM se planne vir Suid-Afrika tydens ʼn kort mediakonferensie uiteengesit en onderneem om die land en sy jong mense weer op die regte koers te help kry.

Die UIM kort egter teen Vrydag nog ʼn hele paar duisend handtekeninge as die party aan vanjaar se algemene en provinsiale verkiesing wil deelneem.

Hofmeyr is nietemin vol selfvertoue dat die party wél die vereiste 14 000-kerf gaan haal.

Devon Hofmeyr, UIM se nasionale jeugleier, en Yusuf Young, UIM se nasionale veldtogkoördineerder tydens Woensdag se mediakonferensie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Ons is geduldig, maar hoor my lied, die UIM sal die nuwe leierskap van Suid Afrika wees.

“Die uurglas vir swak leierskap het leeg geloop. Onder die UIM Jeug sal ons slegs die sterkste leiers na vore bring, leiers wat ons jong mense nie sal mislei, vervreem of skaam maak nie.”

Sy skuif na die politieke arena is iets wat al twee jaar aan die broei is, het Hofmeyr Woensdag gesê.

Hoewel daar talle politieke tuistes is, is die UIM die een waarmee Hofmeyr hom die meeste vereenselwig, veral die party se Christelike waardes.

Hy meen die party is nie skaam om in die openbaar te verkondig dat God aan die stuur is nie.

Hofmeyr vind ook aanklank by die party se leierskap en politieke benadering. Hy beplan om ʼn lang pad – tot in die parlement – met die UIM te stap en te help om onder meer korrupsie uit wis, werkskepping te bevorder en ʼn vreedsame Suid-Afrika vir alle landsburgers daar te stel.

As voormalige lid van die Bittereinders het Hofmeyr hom as aktivis hoofsaaklik vir die regte van Afrikaners as ʼn minderheidsgroep beywer. Hy het egter intussen besef dat alle landsburgers “maar in dieselfde bootjie is” en wil voortaan, in sy rol as jeugleier, “die hele skip verdedig”.

Hofmeyr sê sy doel as jeugleier is om jong mense se “koppe reg te kry” en die jeug oor die belangrikheid van politiek op te voed.

Nikita Joubert, Devon Hofmeyr en Yusuf Young gesels oor die politieke party UIM en Hofmeyr se rol as nasionale jeugleier. (Foto: Pieter Cloete / Maroela Media)

“Jong mense praat nie meer oor politiek nie. Daar is ʼn gesegde wat lui ‘in ons huis praat ons nie sport en politiek nie’. Ons moet wegdoen daarmee.”

Hy meen jong mense moet voorberei word om by die ouer generasie oor te neem. Hulle moet kan opstaan in die parlement en in munisipaliteite kan dien.

“Ons moet jong mense se koppe regkry vir politiek sodat ons hierdie land bitter vinnig kan draai en werklik verander.”

Hofmeyr is oortuig dat indien hy met Bittereinders iets kon regkry, hy dit vir meeste Suid-Afrikaners ook kan doen.

“Ons sit in ʼn skip en is besig om die skip net onder op te patch. Dis tyd dat ons die patches los. Ons moet tot op die dek stap, die kaptein van die skip verwyder en die stuur oorneem.”

Geen kwade gevoelens

Hofmeyr sê hy het ook baie van politiek geleer in sy tyd as aktivis saam met die Bittereinders, wat hy in 2019 tot stand help bring het.

Devon Hofmeyr, UIM se nasionale jeugleier, en Yusuf Young, UIM se nasionale veldtogkoördineerder. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Hy het egter sy “plafon” met aktivisme saam met dié groep – wat dikwels as ʼn verregse groep bestempel word – bereik.

Daar is egter geen kwade gevoelens nie en almal is op goeie voet uitmekaar, aldus Hofmeyr.

“Ek wens hulle [die Bittereinders] alle sterkte toe. Ek weet hulle gaan ʼn groot verskil in Suid-Afrika maak.”

Volgens Hofmeyr het hy ook die volle ondersteuning van sy familie, vriende en pastoor.

“Ek is opgewonde oor hierdie nuwe pad vorentoe. My pad in politiek gaan ’n uitdaging wees, maar tog die moeite werd.”

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat ‘n gesklitste spul. Dié kêrel raak nou soos Niehaus. Maar bly in Pretoria en bly weg uit die Wes-Kaap.

Paul ·

Maar julle leier het dan ons magte in die Bos Oorlog verraai en n mk.lid geword ???

miraclealigner ·

@Republikein ek deel jou sentiment. Ek is lank al oor die klomp Hofmeyr’s.

Manie ·

Ek wonder wat gaan in die klein partytjies se koppe aan? Sekerlik moet hulle besef dat sommige van hulle nie 1000 stemme gaan haal nie, maar indien die 1000 stemme by ‘n groot party gevoeg kan word, is dit dalk net genoeg om te wen.

Delia ·

So Neil de Beer, leier van die UIM, was eers n ANC lid. Ai Hofmeyer, hierdie manne draai jou n rat voor die oê. Word wakker Boetie.

Jacobus ·

Ek het slegte nuus vir die jongman, om te dink om net die kaptein van die skip te verander en die “patches” te los gaan niks help nie, hierdie skip is te vinnig besig om te sink. Ons sal ons moet skaar by n party of partye en die Weskaap as eiland wat ons gaan red.

Danie ·

Dit is nou maar net hoe dit is. Vandag staan ek en praat die Boervolk se taal en more praat ek die taal van die kamstige reenboog nasie. Jy verander soos n verkleurmannetjie. Jy is nou op n pad van self vernietiging saam met n eertydse terroris.

trotsNAMSA ·

Nog ‘n jeugleier van amper 30 jaar :). Ek lag my klaar !

Danie ·

As Steve nou sy blessings gee omdat die mannetjie nou die pad van Neil de Beer gaan volg dan wonder ek oor Steve se gevoel teenoor sy mede afrikaner boervolk.

John ·

Enige iets kan net beter wees as wat on tans het……gee hom n kans

kragaap ·

Jeug leier op 30 ? Die sirkus in regse politiek smyt net die Afrikaner se naam verder weg. Sommiges probeer so hard martelare vir die “volk” wees.

Danie ·

@kragaap. Hoekom probeer jy dit nie. Jou naam sal nogal by dit pas en ek glo sirkusse sal tou staan om jou op te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.