Video: Oudpres. Zuma buite hof toe seun verskyn

Duduzane Zuma in die hof (12 Julie 2018). Foto: Lindi Masinga/ANA

Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het Donderdag net vlugtig in die Randburg-landdroshof verskyn voordat die saak teen hom tot Augustus uitgestel is.

Zuma word aangekla in verband met die dood van twee passasiers van ʼn minibustaxi in Februarie 2014.

Phumzile Dube, ʼn Zimbabwiër, is dood nadat Zuma se Porsche teen die minibustaxi gebots het waarin sy ʼn insittende was. Nog ʼn passasier, Nanki Jeanette Mashaba‚ het ernstige beserings opgedoen en later in die hospitaal gesterf.

Zuma staan tereg op twee aanklagte van strafbare manslag, asook ʼn aanklag van nalatige bestuur.

Die saak is tot 23 Augustus uitgestel sodat die staat en verdediging ʼn afskrif van die dossier kan ontvang en albei partye ingelig word oor die verloop van die geregtelike doodsondersoek.

Oudpres. Zuma het tydens die hofverrigtinge in ʼn motor buite die hof gesit, maar nie uitgeklim nie. Duduzane is op waarskuwing vrygelaat.

Maandag was Duduzane ook in die beskuldigdebank in verband met omkoopgeld van R600 miljoen wat hy na bewering aan die destydse adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, aangebied het in ruil vir gunste vir Duduzane se sakevennote, die berugte Gupta-broers, Ajay en Atul.

Die sakeman is toe op borgtog van R100 000 vrygelaat nadat hy met enkelboeie in die hof gebring is.

Zuma, wat al die afgelope paar maande nie in die land was nie, het verlede week na Suid-Afrika teruggekeer om die begrafnis van sy broer, Vusi Nhlakanipho, by te woon. Hy moes Maandag sy paspoort oorhandig as deel van sy borgtogvoorwaardes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Haai ·

Hoekom was Zumpi nie in die hof om sommer saam met seuntjie aangehoor te word nie?

Hasie ·

Kan iemand dalk vir my sê wie betaal vir al hierdie gemors.

johann ·

Wat kan mens se op 600 miljoen korupsie 100
duisend borg sonder dat staat oponeer maak nie sin .

Theresa B ·

V I P treatment. En wie stel nou belang waar sy pa is. Binne of buite die Hof.

Paul ·

Jip, beide die twee gaan vorentoe gereelde besoekers daar raak, die howe en verrigtinge op die punte van hul vingers ken.

Henk du Toit ·

En waar is die Guptas nou? Koud hier buite nê? Welkom in ons wereld menere Zuma en Zuma. Ons klomp belastingbetalers wie so ryklik belê het in julle welvaard sal maar weereens gedweë staan en toekyk hoe julle keer op keer die sake vir elke jota en tittel laat uitstel. Die Staatsdiens se pensioenfonds is ook geplunder, die geheim word maar net goed bewaar. Diè lening en daai lening uit die staatsdiens se pensioenfonds wat nou rugbaar word is maar net die oortjies van die seekoei.

LHS ·

Gerrie Nel se grootste werk gaan wees, nie om sy skuld te bewys nie maar om toe te sien dat die regsproses korrek hanteer en uitgevoer sal word.

Vryheid ·

M- hierdie is net poppespel om die publiek te sus. Die klomp is bo die gesag van vervolging. Hulle korrupte miljoene hou hulle uit die tronk.

Hasie ·

Gerrie Nel is ook maar meer blaf as byt. Daar is geen advokaat, minister, brigadier, generaal, regter of wat se titel, rang of beroep in ons land wat die probleme van SA kan uitsorteer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.