Video: Ouer aangevat oor voorval langs rugbyveld

In ’n video van die voorval wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe die ouer ʼn rugbyspeler – wat ’n trui van Kearsney College se rugbyspan dra – van agter af gryp en rondpluk (Foto: Skermskoot)

Northwood High School beoog dissiplinêre stappe teen ’n ouer wat verlede naweek een van Kearsney College se rugbyspelers langs die veld aangerand het. Dit het gebeur tydens ’n rugbywedstryd tussen dié twee Durbanse skole se o.16A-spanne.

In ’n video van die voorval wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe die ouer ʼn rugbyspeler – wat ’n trui van Kearsney College se rugbyspan dra – van agter af gryp en rondpluk.

In die brief wat Northwood High School se skoolhoof, Paul Viljoen, aan ouers gestuur het, sê hy die skool sal die nodige dissiplinêre stappe teen die ouer oorweeg en die ouer sal ook van alle skoolverwante aktiwiteite geskors word. Dié skorsing sal aan die einde van die huidige akademiese jaar hersien word.

Volgens Viljoen het die betrokke ouer die skoolhoof én die skool se beheerliggaam reeds om verskoning gevra vir sy gedrag.

“Die skool se bestuurspan en afrigters sal gevolglik ook die skool se gedragskode rakende toeskouers se optrede hersien,” sê Viljoen.

Viljoen het in ’n brief aan die skoolhoof van Kearsney College, Elwyn van den Aardweg, om verskoning gevra vir die ouer se gedrag. Dit volg nadat hy reeds ná die wedstryd verbaal om verskoning gevra het.

“Kearsney was baie genadig deur beide ons mondelinge en skriftelike verskoning te aanvaar en ons sal voortgaan om ‘n positiewe verhouding in die toekoms te geniet.”

In die brief aan die ouers sê Viljoen die betrokke ouer se optrede was “totaal onaanvaarbaar en die skool keur nie die voorval goed nie”.

Hy beskryf die voorval as betreurenswaardig en sê die skool se reputasie ly skade onder al die negatiewe kommentaar in die media en op sosiale media.

Viljoen bevestig dit is die heel eerste voorval van dié aard wat die skool moes hanteer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Andre ·

Dis skandalig nou moet die arme kind vir die ouer se waansin boet

Jack Russ1 ·

Dis nie eers nodig om sy skorsing te hersien nie, hy hoort nie langs ‘n sportveld nie

Windhond ·

Ja boet, so is die lewe, ons oud rugby manne het seker al almal gevoel ons is deel van die aksie, maar eintlik is ons te oud om selfs te verbeel dat ons deel daarvan is die ouer moes defnitief n rooi kaart gekry het

miche ·

Ja, absoluut onaanvaarbare gedrag langs die sportveld. En dit van ‘n ouer!
Dalk is Ballet-klasse veiliger.

Henri ·

Sulke gedrag is wragtag onnodig. In vandag se tye, waar elke oomblik afgeneem word en binne sekondes om die wêreld kan versprei, moet mens baie waaksaam wees in jou doen en late.

Misky ·

Daai ou se arme kind dra eintlik sy ouer se straf en sulke ouers besef nie watse skade hulle aanrig nie. Sulke mense het geen skool nodig nie en nog minder te praat van die wat gewoonlik die skeidsregter sleg sê en vloek langs die veld. Siesa!!!!

Leana ·

As ek na die videos kyk lyk dit of die man net die die kind van ‘n ander een af weg getrek het, daar was niks wat hy verder doen wat enige stappe volgens my nodig het nie. As hy iets wou doen kon hy nie want hy is gekeer deur ‘n ander persoon wat hom vasgehou het.

Twallie ·

Kan jy jouself indink hoe verneder daardie ou se kind voel?

Mense wat hulself nie kan gedra nie, moet eerder by die huis bly.

Pieter ·

Ek weet nie ,op die wat ek hier sien,lykd dit of hy n geveg probeer keer, tussen 2 spelers?

Dup ·

En die spelers wie langs en op die veld baklei,watter voorbeeld stel hulle….?

miche ·

Pieter, as dit so is dat die ouer die geveg probeer keer het tussen 2 spelers…
Daarvoor is daar skeidsregters en ander personeel.
Ons volk gaan moet leer om onsself ” in toom ” te hou, die wette en
strawwe( teen ons) gaan Al hoe strenger word. Daar is soveel mense wat gereed sit met ‘n kamera . En soveel mense wat ons gaan uitlok om oor te gaan in aksies wat ons more dalk mag berou.

Pieter J ·

Miche hierdie tipe wangedrag vind juis plaas wanneer ń skeidsregter nie doen wat hy moet doen om rammetjie uitnek spelers vas te vat op die veld nie en onverantwoordelike mense langs die veld dan ook betrokke raak.

VaalDonkie ·

Die video skep ‘n effens ander prentjie. Maar wat ookal.

Sarel ·

Daar word gepraat van die Skool en die Ouers…moet die
Oa se seun nou trots wees op hom. Fit is nie an vsndag af dat Pa’s hulle en hulle konders se name net ‘n plank slaan nie
Ek neem aan die seun gaan vir lank moet bontstaan vir sy Pa se gedrag.

Kobus ·

Was in elk geval net ‘n handsak geveg. Toeskouers hoort op pawiljoen

Zilla ·

Ek weet nie veel van rugby nie, maar wat soek die ouer in die eerste plek op die veld? Sekerlik is dit die beamptes se werk om ‘n bakleiery te stop?

lollapot ·

Laat jy bly wees dit is nie my seun wat jy aangerand het nie! Jy het jou kind se naam vergat… Nee SIES man! Dit is n sport wat ons seuns moet geniet, en waarop ons ouers trots moet wees! Ek wonder hoe gedra jy jou by jou huis as jy nie jou sin kry nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.