[Video] Ouers kyk toe hoe Gautrein met kinders, grootouers wegry

Die Serfontein-gesin: Melissa, Jaco, Duan en Marno. Foto: Verskaf.

Die Serfontein-gesin: Melissa, Jaco, Duan en Marno. Foto: Verskaf.

Die video volg onderaan die berig.

Wat veronderstel was om vir ʼn familie ʼn opwindende uitstappie op die Gautrein te wees het vinnig in ʼn angswekkende situasie ontaard toe ʼn ouerpaar van Kempton Park van hul kinders geskei is toe ʼn treindeur glo te vinnig in hul gesigte toegemaak het.

Die ouers, Jaco (40) en Melissa (33) Serfontein, het vandeesweek aan Maroela Media gesê hulle het baie uitgesien om op ʼn pretrit saam met hul kinders en familie te gaan aangesien niemand, buiten Jaco, al op die trein gery het nie.

Die groep het bestaan uit die egpaar, hul twee seuns, Marno (9) en Duan (11), Melissa se ouers (albei 60) en haar 93-jarige ouma. Melissa se twee susters en hul mans was ook deel van die groep.

“Omdat ons in Kempton Park woon het ons by die Rhodesfield-stasie opgedaag en die plan was om na Hatfield in Pretoria te gaan, waarna ons sou terugkeer,” het Melissa gesê.

Sy het gesê die groep het Saterdag omstreeks 17:00 by die Rhodesfield-stasie aangekom en almal was baie opgewonde.

“Die trein het omstreeks 17:30 opgedaag. Marno, Duan en die drie bejaardes het eerste op die trein geklim. Omdat my ouma so oud is het my ma haar in die trein in begelei. Net toe ons wou instap toe maak die deur binne 16 sekondes in ons gesigte toe met ons kinders op die trein en ons is geskei in enkele sekondes.”

Melissa se suster was besig om ʼn video op haar selfoon te neem van die “spesiale oomblik” van haar tweejarige dogter. “Ons was geskok en het paniekerig geword want my ouers en ons kinders weet nie hoe die treinstelsel werk of wat om te doen nie. Ons was veronderstel om hulle te begelei.”

Die egpaar het dadelik ʼn veiligheidsbeampte op die platform genader wat gesê het hulle moet na die kliëntediensbeampte op die grondvlak gaan. Die beampte het glo die hoofkantoor geskakel en dit aangemeld en vir die egpaar aangesê om vir die volgende trein, wat binne 27 minute sou opdaag, te wag. Die egpaar is van mening dat van die Gautrein-personeel met wie hulle in dié tydperk gepraat het nie behulpsaam was of nie geweet het wat om in die “noodgeval” te doen nie. “Geen ernstige en vinnige aksies is geneem om die veiligheid van die kinders en oumense te verseker nie of as dit gedoen is, is ons nie ingelig rondom aksies wat geneem is gedurende die half uur wat ons vir die volgende trein moes wag nie,” het sy gesê.

Een van Melissa se susters het intussen haar ma op haar selfoon in die hande gekry en hulle aangesê om by die volgende stasie, Marlboro, af te klim en vir hulle te wag. Die groep is na sowat 40 minute, skynbaar sonder hulp of bystand van enige Gautrein-beampte op die trein of by dié stasie, weer met mekaar herenig.

“Gelukkig het my ma haar selfoon by haar gehad. Gelukkig was my ma-hulle by my kinders. Maar wat sou gebeur het as dit nié die geval was nie. Wat as dit ʼn ma met stootwaentjie was wat van haar kind geskei word? Dit wil voorkom of die personeel nie weet wat om in so ʼn noodgeval te doen nie,” het ʼn ontstoke Melissa gesê. Die egpaar het die voorval onder die Gautrein se kliëntedienssentrum se aandag gebring met die hoop dat so iets nie weer sal gebeur nie.

Kesagee Nayager, die Gautrein se woordvoerder, het aan die egpaar en by navraag aan Maroela Media gesê hulle het kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval bekom en bestudeer. Sy het gesê volgens hul rekords het die trein se deur nie binne 16 sekondes toegemaak nie, maar binne 61 sekondes.

“Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die kinders en drie volwassenes sonder huiwering of versuim op die trein klim,” het Nayager gesê. “Al die ander passasiers wat op die platform was, was reeds in die trein maar die res van die groep het voor die deur stilgestaan en nie opgeklim nie.”

Sy het verduidelik dat die trein se deure deur die treindrywer beheer word en toegemaak word as hy die groen lig van die kondukteur kry.

“ʼn Vrou met ʼn pienk hemp wat deel van die groep was het voor gestaan en van die trein teruggestap na die agterkant van die groep, wat vermoedelik die kondukteur die indruk laat skep het hulle het die mense afgesien. Die kondukteur het die drywer ingelig dat alles reg is, die deure is toegemaak en trein het vertrek.”

Nayager het gesê die Gautrein het ʼn noodplan gereed sou kinders van hul ouers geskei word. “Eerstens moet ouers seker maak dat hulle te alle tye hul kinders vergesel. As ouers egter van hul kinders geskei sou word moet hulle dadelik ʼn veiligheidsbeamptes of die stasiebestuurder daarvan inlig. Elke stasie het ʼn toegewysde bestuurder wat in konstante radioverbinding is met personeel op ander stasie. Sou ʼn kind van sy ouers geskei word sal die veiligheidsbeamptes verseker dat die kind opgespoor en veilig gehou word. Reëlings sal met radioverbinding getref word dat hulle by die volgende stasie herenig word.”

Nayager het gesê daar is voldoende veiligheidbeamptes wat maklik herkenbaar is by alle stasies en dat hulle opgelei is om in sulke voorvalle te hanteer.

Die egpaar het Vrydag aan Maroela Media gesê hulle is nie tevrede met die Gautrein se terugvoer nie en daar is verskeie kwessies in hul verklaring wat teenstrydig is met wat regtig gebeur het.

“As hulle veiligheidsmaatreëls gehad het en dit gereed was, was ons glad nie tydens daardie halfuur deur enigiemand daarvan ingelig of gerus gestel nie. Dit wil voorkom of die Gautrein nie verantwoordelikheid wil neem vir hulle fout nie en ons is tot nou toe nie deur enigiemand om verskoning gevra nie.”

Die egpaar gaan die teenstrydige kwessies met die Gautrein-kliëntedienssentrum opneem. Hulle oorweeg ook regstappe om bewusmaking oor dié beweerde veiligheidsrisiko te skep.

Hier volg die video wat Melissa se suster geneem het:

[wpvideo 7NMRjwbs]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Really? ·

It’s a high speed commuter train – not a party bus! Seen this happen loads of times in London. Non of those made the news!

Nico ·

Vandat die trein se deur oop gegaan het todat hy wwer toe gegaan het was minder as 20 sek.
Die kondukteer kon bietjie beter gefokus het. want die mens was nog by die deur. En hoekom is daar nie ‘n klokkie wat lui of iets wat biep wat waarsku die trwein gaan ry nie?
Dan moet mense ook onthou dis ‘n pendel trein, dis nie kerkbasaar se merry-go-round nie. As jy vir ‘n joy-ride gaan, moet jy bietjie aanpas by die trein ook.

hb ·

Hierdie is bietjie oordryf in die opskrif van die berig. Die kinders was nie aleen nie..ek is seker die personeel sou meer aksie geneem het indien die kinders sonder toesig of familie lid was. Dit klink wel vir my dat die personeel behulpsaam was ten tye van aanmelding.

Natascha keeve ·

Daar is niks in plek my ma se broer se kinders het van jhb af gery en moes by hatfield afklim die kinders het die stasie gemis waar hulle moes afklim en het toe by die sentraal pretoria afgeklim. Hulle was nie eers bereid om vir die kinders te help n kaartjie terug kry hatfield toe nie hulle moes weer betaal het. Wat tot gevolg gehad het dat toe hulle by hatfield aankom moes my ma betaal het net om hulle by die stasie uit te kry. Onmenslik as jy my vra.

Amanda ·

Nou is dit Gautrain se skuld as die kinders alleen ry? Belaglik! Dit is nie ‘n kleuterskool trein nie, jy moet sorg dat die kinders onder toesig is en by die regte plek afklim en as hulle die stop gemis het, is dit verder jou probleem hom hulle by hulle bestemming te kry.

Chris ·

Ek verstaan nie hoekom moet hulle vir jou kinders verniet kaartjie koop nie. dit werk mos nerens so dat jy verniet ry nie.

Tania ·

Dit het met my en my sussie ook al gebeur dat ons kinders op die trein was en ons agter gebly het. Ons kinders het kop gehou en sommer self Loftus toe geloop ook. Ons het heeltyd kontak met hulle gehad per selfoon. Daar is sekuriteit op die treine. Dit is nie so erg nie.

broos ·

omw! ek het letterlik net hierdie week ‘n boek gelees van ‘n vrou wat se dogtertjie gesteel is nadat die treindeur te vinnig toegemaak het nadat sy haar babatjie in sy pram eers uitgetel het. gelukkig het hierdie storie ‘n baie gelukkiger einde. bly almal is veilig

Ruby ·

Nayager, jy gorrel mos nou. Het jy na die regte beeldmateriaal gekyk?

Daardie deur was beslis nie 61 sek oop nie!! Ek kry so 20, 21 sekondes na aanleiding van die video.

Reinhardt ·

Stadige nuusdag? 20 sekondes in my opinie is oorgenoeg tyd vir n trein om sy deure oop te los. Jammer as julle nie vinniger kan maak nie, maar nerens in die wereld wag treine vir mense nie.

MM ·

Jy moet klim of jy bly en duidelik het hulle gedink dit ‘n Metro trein. Die Gautrein werk nie op Afrika tyd nie. As jy dan nou regtig wil foto’s neem ,neem dit maar as almal binne is.

Klippies ·

Rerig???? Ai mense, as julle wil pretritte doen gaan Gold Reef City of Sun City toe! Nie ‘n hoee spoed pendeltrein nie..

SNEL ·

Wat van iemand wat oud is en stadig loop, hoe kan hulle dat die deur so vinnig toemaak? Ou mense wat stadig loop en klein kindertjies kan mos dan maklik geskei word van die mense wat hulle vergesel.

Johan 2 ·

Ek het al gesien hie n oumens nie vinneg genoeg die knoppie gedruk het nie en die trein gemis het. Die trein is soms baie bedompig ook hul kan regtig maar al die deure can self laat oopgaan.

HEVW ·

Was in Taiwan gewees en in so n trein gery wat 295 km. / uur spoed. Alles is perfek georganiseer. Daar word die pasasiers 2min gegun vir in en uit. Jy moet maar hierby inskakel.

MissDemeanor ·

Ja, sorry, maar dit klink my die ouers het ‘n fout gemaak. Dit werk so op ‘n trein. Die trein stop, mense klim af, jy klim so gou as moontlik op, die trein ry weg. Ek bly in Belgiee, as die fluitjie blaas dan kan jy nie meer opklim nie en die deure gaan toe, dit vat sekondes. In Parys slaan die tram deure so hard en vinnig toe dat jy jou neus sal verloor as jy nie oppas nie. Dis nie ‘n pretrit by ‘n karnaval nie. Mense met spesiale behoeftes/rolstoele moet vooraf ‘n beampte naby die perron vra vir hulp, treine wag vir niemand nie. Die ouers wat so gedraai het het hul kinders in gevaar gestel.

Johan 2 ·

Ek het dit ook al gesien gebeur. Hul moet dat die deure ALMAL elke keer vanself oopgaan dan sal mense meer tyd hê om in/uit te klim. Plaas vind hul net bietjie uit hoe dit oorsee werk waar sulke stelsels al v jarre werk…en ek v hul sê London en Parys het knoppies op die deure maar dit gaan automaties oop elke keer as dit stop.

Ag tog ·

Ag tog, hierdie kon ‘n opskrif van ‘n Sondagkoerant gewees het. Die kinders was saam met 60 jarige volwassenes MET ‘n selfoon. Oorweeg regsstappe? Gaan soek elders aandag.

St ·

Ons het ook n slegte ondervinding gehad waar die sekuriteits hek op my 60jarige ma se arms toegeslaan het, sy het baie seer gekry en was dae daarna blou.

Shanti ·

Soms is hul aspris. Ekt elke dag van my lewe trein gery op sondae ook en as hul sien daar kom iemand het hul soms die trein weer gestop sodat iemand weer kan opklim. Hul is in beheer en kan sien as daar nog mense wil opklim. Soms help hul en soms nie. Hang seker af of die treindrywer in n goeie mood is of nie. Eks seker daar is reels en soms voel dit hul hou nie by die reela nie. Die trein het al vroeer die tyd gery as wat hul moes.

Johann ·

Ag nee – Gautrain is ‘n hoe“ spoed trein. Daar is nie tyd vir die neem van foto’s nie. Moenie derde-we^reldstandaarde op hierdie eerstewe^reld-verskynsel probeer afdruk nie. Kom. tog by, asseblief!

Sanet ·

Sien nie rede om te kla nie, daar was mos grootmense wat kinders vergesel het, dis nie n lokomotief nie, maar n trein wat op skedule moet hardloop. Nie tyd vir videos neem nie. Maklik Trein stop ALMAL klim op , trein ry. Neem videos binne. Nou wil hule n boohaaa maak oor dit. GET A LIFE.

Amanda ·

Belaglikste klagte ooit! As jy wil kuier, doen dit by die huis. My ma is in haar 60’s en het beslis meer as genoeg breins om so ‘n situasie kalm te hanteer en seker te maak die familie kom weer veilig bymekaar uit.

Collin ·

Uhmmm… Van wanneer af kan jy mense gaan afsien op die platform…? Dié aanname storie strook nie…. watter regdenkende sal nou so onnosel wees om R130 te betaal om “mense te gaan afsien”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.