Video: Ouma, kleinkind by kleuterskool beroof

Kiepieland

‘n Skermskoot uit die video.

’n Kleuterskool in Pretoria beraam nou planne om sekuriteit op te skerp nadat die eienaar van die betrokke kleuterskool en haar kleinkind Donderdagmiddag voor die skool oorval en beroof is.

’n Video van die voorval, wat Donderdagmiddag by die Kiepieland-dagsorgsentrum in Pierre van Ryneveld in Centurion plaasgevind het, word sedertdien wyd op sosiale media versprei met sosialemediagebruikers wat ontstoke reageer.

Volgens ’n personeellid en ouer van die skool het die rowers Donderdag ná 15:00 toegeslaan, net nadat die eienaar van die skool en haar kleinkind ’n maat afgesien het. ’n Selfoon, ring en horlosie is in die voorval gebuit.

Daar kan in die video gesien word hoe ’n man die vrou en kind oorval terwyl sy makker in ’n blou motor voor die skool wag.

Die man dwing die vrou om haar juwele te oorhandig waarna hy die vrou in die maag skop. Dít terwyl die vrou probeer keer dat die man naby haar kleinkind kom. Dit lyk dan of die vrou se ring in die struweling op die grond val, waarna die verdagte na die ring begin soek. Die makker klim dan uit die motor waarna hy die ring optel en albei in die motor wegjaag.

Volgens die ma van die dogtertjie in die video, wat verkies het om anoniem met Maroela Media te praat, volg die skool tydens die afsonderingstydperk as voorsorgmaatreël ’n deurry-stelsel waartydens albei hekke van die skool soggens en smiddae oopgemaak word, sodat ouers hul kinders kan op- of aflaai. ’n Onderwyser kom haal dan die kind by die ouer se motor en begelei die kind na die klas.

Volgens die ma is die ouma en kleinkind ongedeerd, maar sal die skool nou sekuriteit by die hekke aanbring om ouers en kinders se veiligheid by die skool te verseker. Dit is die eerste voorval van dié aard by Kiepieland-dagsorgsentrum.

“Dit maak my so kwaad. Wanneer gaan daar iets aan die misdaad in Suid-Afrika gedoen word?” wou een sosialemediagebruiker intussen weet.

Nog ’n sosialemediagebruiker beskryf die verdagtes in die video as lafaards terwyl ’n ander wil weet waarom dit nodig was om die vrou te skop.

Die ma van die dogtertjie het vanmiddag bevestig dat ’n saak by die polisie aanhangig gemaak is.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Chantz ·

Nou ja dit gaan ook seker weer stil-stil raak nes al die ander gebeure. Klomp lae gemors!!

isabelle ·

JONG hul is seker weer op vrye voet en reg vir hul volgende roof en geweldige optredes BITTER HARTSEER

Porseleintjie ·

Kokerboom…..so bly jou kommentaar bly. Myne van vanoggeng is summier verwyder.

JohanR ·

Klomp lafaards! Kom nooit vir iemand wat kan terug weg nie. Altyd vroue, kinders en ou mense. Wens ek kon te voorskyn daar agter ‘n kar uit, en die ou geneuk het tot by oom Daan op die plaas daar in die Karoo!

Jacobus ·

Nog ‘n roof, geen maske. Kans vir arrestasie is ‘n dooie 0.
Wonderlikke voorbeeld gestel deur politici, kanse vir vervolging ‘n dooie 0. In geval van lg pad oop vir promosie.

Sarel ·

Suid-Afrika die beskaafde nasie waar misdasd soos breakfast is

Mariana ·

Vuilgoed, geen beter beskrywing sonder om erg te vloek nie. Maar ja in SA is die krimineel mos belangriker as die res. Bly ouma en kleinkind is ongedeerd. Daai vullis sal hul dag ook kry.

Anoniem ·

Baie jammer vir die arme vrou. Kan net dink wat het deur haar kop gegaan. Die goeie nuus is dat sy nou voorsorgmaatreels gaan tref sodat dit nie weer gebeur nie.

Johann ·

My vraag is net: Die rowers moes by die hek in kon kom om die hek sensor te stop en weer uit te jaag. Hie het hulle dit reg gekry? By my Dogtettjie se skool moet jy n knoppie druk by interkom en hek word oop gemaak net as hulle jou herken….en daai ek maak so vinnig toe geen kar kan ” tailgate” om in tekom nie. Sulke stappe hoef egter nie eers nodig te wees nie. Mens is veronderstel om jou kinders veilig te kan aflaai sonder dat daar eers n hek hoef te wees! Ons ou land is besig om sy g*t te sien……en dis hartseer.

Deon ·

Die ouma en kleinkind is NIE ongedeerd nie, so aanval is baie traumaties.

Werner ·

En intussen was daar weer n plaasaanval waar n jongman moes veg vir sy vrou en kind so eskaleer die oorlog teen die blanke.Gelukkig het hy geweet hoe sy wapen werk

pieter ·

nog n rooftog teen hulpelose mense en kinders, witmense moet wakker word en paraat wees om die insidente te hanteer , dit gaan nog erger word.
stuur die videos na Donald Trump en Boris Johnson om hulle op hoogte te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.