Video: Paartjie langs N12 van toekoms beroof

Johanco Fleischman en Jess Kuhn. (Foto: Facebook)

Johanco Fleischman en Jess Kuhn se geliefdes is van groot oomblikke soos dié twee jongmense se troudag en hul toekomstige kinders beroof.

Dít deur iemand wat daardie noodlottige dag in Mei 2019 “God gespeel het” en besluit het om hul lewe te neem. Só lui een van die roerende slagofferimpakverslae wat Maandag in die Benoni-landdroshof voorgelees is.

Malosi Gift Shima en Ishmael Hlabati is kort daarna lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op die paartjie.

Johanco en Jess se voertuig het op 26 Mei 2019 op die N12 by die berugte Putfonteinweg sonder brandstof – sowat 300 m van ’n vulstasie – gaan staan voordat hulle koelbloedig doodgeskiet is.

“Johanco en Jess se dood het my hele lewe onderstebo geslaan,” lui Johanco se suster, Wilmari Ras, se slagofferimpakverslag wat Maandagmiddag in die hof voorgelees is.

Johanco Fleischman en Jess Kuhn se ma’s omhels mekaar buite die hof. (Foto: Tania Heyns)

“Hy was die een persoon wat ek moes beskerm het en ek kon dit nie doen nie. Ek sal nooit weer die geleentheid kry om spesiale dae saam met hom te vier nie. Nie sy 21ste verjaarsdag nie en ook nie sy troudag nie.

“Ek hoop en bid dat die beskuldigdes – en die een wat op vrye voet is – nooit weer ’n rustige nag sal hê nie. Ek sal ook nie rustig kan slaap nie, want my kinders moet in hierdie land grootword.”

Johanna Kuhn, Jess se ma, het in haar slagofferimpakverslag geskryf dat haar seuns nie meer in Suid-Afrika wil woon ná hul sussie se moord nie. Hulle lag ook nie meer nie.

“Jess was ons enigste dogter en die lig in ons lewe. Sy was vriendelik en vol energie. Daar is geen geluk meer in ons huis nie. Net hartseer.”

Volgens Johanna was haar dogter se grootste wens om eendag te trou en kinders te hê.

“Haar pa is die eer ontneem om met haar na die kansel te stap en haar ma is ontneem van die eer om haar te help gereedmaak vir haar troue.

“Johanco en Jessica was so verlief. Ons verstaan nie hoekom hulle vermoor moes word nie. Twee mooi siele is weggeruk. Johanco, Jessica: Mag julle ’n wonderlike lewe in die hemel hê,” het Johanna geskryf.

Johanco Fleischman en Jess Kuhn se geliefdes buite die hof ná die vonnisoplegging. (Tania Heyns)

“My enigste seun is weggeneem op 19. Ek is beroof van alles. Ek sal nooit vir hom ’n 21ste verjaarsdagparty kan hou nie, hom nooit sien trou nie en nooit my kleinkind sien nie,” lui Marika Fleischman, Johanco se ma, se verslag wat in die hof voorgelees is.

Sy vertel dat Johanco as klein seuntjie homself per ongeluk in die kop met ’n pellet gun geskiet het, waarna hy die bynaam Bullet gekry het. “Bullets. Dit was eindelik bullets wat sy lewe geneem het.”

Shima en Hlabati het hande gevou in die beskuldigdebank gesit en na die verslae geluister. Geen gesigsuitdrukking was agter hul maskers te bespeur nie.

Landdros Ian Cox het tydens die vonnisoplegging gesê die genadelose wyse waarop Johanco en Jess vermoor is, is “onvergeeflik”.

“Daar word gereeld gesê ons lewe in ’n gewelddadige samelewing. Daar word gereeld gesê dat ’n lewe goedkoop geword het. Dié voorval is tekenend daarvan. Hierdie kinders het geen regverdige kans gehad nie. Hulle was weerloos en hul moord was gevoelloos.”

Lees al Maroela Media se berigte oor die Putfonteinweg-moorde hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marius ·

Geen berou . Geen gevoel . Geen siel . Geen menslikheid . Daar is net een uitweg met die tipe drek .

SjN ·

Die twee kwalifiseer beslis vir doodstraf. Sterkte aan die oorledenes se geliefdes.

efjy ·

Ek vertrou dat lewenslank nie beteken presidensieele vrystelling as gevolg van ” goeie gedrag” sal met die volgende verkiesing aan hulle toegestaan word nie.

Boer ·

As n Christen weet ek dit is vekeerd om te sê, daai moordenaars het nie die reg om te leef nie.

Waarnemer ·

n Oog vir n oog en n tand vir n tand….hierdie regering moet baie vinnig reg geruk word,die doodstraf vir n 1ste bylaag oortreding moet terug gebring word,maar omdat feitlik die hele regering al skuldig is aan of moord of verkragting of hoogverraad sal dit nie kan gebeur nie.

Janine ·

Ek pleit daagliks God se bloed oor my geliefdes. My hart breek vir jul almal. Jong kinders, ontneem van als. Dis verskriklik! Mag julle weer vreugde ervaar, en baie glimlagte. So jammer oor jul verliese. :'(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.