[Video] Panayiotou: Video-gesprek in hof gespeel

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Die volledige beeldmateriaal, met vergunning van AlgoaFM, volg onderaan die berig.

ʼn Video waarin Christopher Panayiotou homself glo betrek by die moord op sy vrou, Jayde, is Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gespeel.

Jayde is op 21 April 2015 buite haar huis in Kabegapark, Port Elizabeth, ontvoer terwyl sy gewag het op ʼn saamrygeleentheid na Riebeeck College, waar sy ʼn onderwyseres was. Haar liggaam is die volgende dag buite die Kwanobuhle informele nedersetting in Uitenhage gevind.

Die staat beweer Panayiotou was die meesterbrein agter haar moord en het Luthando Siyoni betaal om huurmoordenaars te kry wat sy vrou sal vermoor. Volgens die staat het Sinethemba Nenembe vir Sizwe Vumazonke gehelp om die moord uit te voer. Zolani Sibeko het na bewering ook ʼn rol in die uitvoering van die moord gespeel. Vumazonke is verlede jaar in aanhouding dood.

Op 29 April 2015 is daar tydens ʼn geheime polisieoperasie ʼn gesprek tussen Siyoni en Panayiotou in ʼn motor op video vasgevang.

ʼn Binneverhoor is tydens Panayiotou se moordverhoor begin oor die toelaatbaarheid van die video as ʼn bewysstuk. Die staat voer aan die video is ʼn belangrike bewysstuk in die verhoor omdat Panayiotou homself in die beeldmateriaal by Jayde se moord betrek. Die verdediging het aangevoer Siyoni is geslaan en gedwing om Panayiotou te betrek en daarom is die video nie toelaatbaar nie.

Regter Dayalin Chetty het Maandag bevind die video moet toegelaat word en dit is vandag in die hof gespeel.

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

In die video, wat ongeveer 10 minute lank is, sê Panayiotou herhaaldelik vir Siyoni om hom nie te bel of te SMS nie omdat “hulle” sy oproepe dophou. Panayiotou vra ook vir Siyoni watter vrae die polisie aan hom gestel het en of daar gevra is of hy [Panayiotou] by die misdaad betrokke was. Siyoni antwoord daar is “so iets” gevra.

Panayiotou sê in ʼn stadium vir Siyoni om sy selfoon en SIM-kaart te vernietig, aangesien hy die betrokke dag vir Panayiotou verskeie kere gebel het. Wanneer Siyoni vir Panayiotou sê hy vertrou hom nie, antwoord Panayiotou: “Ek sweer op my lewe ek het niks gesê nie, maar hulle kan natuurlik sien wie ek gebel het. Hulle luister my telefoongesprekke af en [sien] elke nommer wat ek bel. Hulle ondersoek my familie ook. Iemand het iets gesê.”

Siyoni antwoord dat die saak nou ʼn moord is en nie ʼn rooftogsaak nie. Hy noem Sizwe se naam en sê Sizwe is ook besig om te vlug. “Ja, maar dit is oor hulle, Thando. Hulle het dit gemaak soos dit is. Hulle het dit so groot gemaak,” sê Panayiotou.

Later sê Panayiotou weer: “Hierdie ouens het dit groot gemaak. Ek het vir jou gesê om vir hulle te sê om dit buite die huis te laat doen en die sakke en ringe te vat en hulle het nie die horlosie of enigiets gevat nie. Hulle het alles net daar gelos, verstaan jy, nou lyk dit soos ʼn ‘hit’. So nou is hulle agter my aan en daarom kan ek jou nie net so voor mense sien nie, Thando.”

Tydens die gesprek waarsku Panayiotou verskeie kere vir Siyoni om hom nie op sy selfoon te bel of te SMS nie, maar net die selfoon te laat lui en dan neer te sit sodat Panayiotou hom van ʼn ander telefoon af kan terugbel.

Beeldmateriaal met vergunning van AlgoaFM:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Absoluut skokkend!

Romes

Ooops iemand se doppie is geklink!

Net So

Sjoe, hook, line and sinker gevang….

Ekke

Vonnis en kry klaar. Moenie verder geld mors op die hofsaak nie!!!!!!

Onnie

Hy se dan heeltyd by is onskuldig, hoe gat by nou lieg?? Eks bly di regter ht di video toegelaat, dt sal tragies wees as nog n koelbloedige moordenaar loskom oor n tegniese puntjie of di polisie se onkunde en ongeergdheid. Dit sal eintlik belagik wees. Almal weet nou 100% hy is skuldig, wa voor nog di belastingbetaler se geld mors?! Hou nou op lieg seun, en wees n man, erken jy ht jo eie jong lieflike vrou laat vermoor – en vat jo pak soos n man! Jy was mans genoeg om di grudade uit te dink, nou is… Lees meer »