[Video] Paramedici raak glo handgemeen oor pasiënt by ongelukstoneel

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

ʼn Onderonsie tussen paramedici van mededingende private ambulansdienste in Rustenburg in Noordwes is op video vasgelê en wek groot opslae op sosiale media.

In die kort video kan ʼn mens sien hoe twee mans in ʼn woordewisseling betrokke is waarna een van die mans, in gewone klere, glo ʼn man in uniform ʼn hou toedien.

Maroela Media het die identiteit van die twee mans vasgestel asook die ambulansdienste waarby hulle betrokke is. Die name word weerhou omdat albei mans kriminele aanklagte teen mekaar aanhangig gemaak het, en hulle eers in die hof moet verskyn voordat hul name bekend gemaak mag word.

Klaasje Dippenaar, wat saam met haar man, Wert Dippenaar, Trauma Rescue EMS besit, het Vrydag aan Maroela Media bevestig die man wat geklee is in uniform is ʼn opgeleide paramedikus wat vir hulle werk.

“Ons lede was Woensdag omstreeks 17:00 eerste by ʼn ongelukstoneel in Rustenburg. Ons het ʼn reaksievoertuig en twee ambulanse na die toneel gestuur om bystand te bied. Daar was altesaam vyf van ons personeel,” het Dippenaar gesê.

“Die pasiënt was reeds behandel en in een van ons ambulanse toe die ander man, ook ʼn paramedikus maar met ’n laer kwalifikasie as ons lid, in siviele klere daar opgedaag en begin inmeng.”

Volgens Dippenaar het die ander paramedikus aggressief opgetree, hul personeel beledig en probeer intimideer, asook kapsie gemaak omdat Trauma Rescue die pasiënt vervoer.

“Ons het al voorheen met die persoon te doen gekry. Hy het al drie keer van ons lede op ʼn toneel aangerand in ʼn poging om oor te neem.”

Sy het gesê Trauma Rescue is al sedert 2001 in die provinsie bedrywig en het 110 personeellede. “Sedert die ambulansdiens waaraan die ander man verbonde is, Med24/7, in Oktober 2011 begin werk het, probeer die man ʼn skrikbewind voer en tree soos ʼn boelie op. Dit wil voorkom of geld vir hom belangriker is as ʼn mens se lewe. Ons werkers is bang vir hom en hulle vrees om hul plig uit te voer.”

Dippenaar het gesê hulle is bly die video het aan die lig gekom, want nou het hulle konkrete bewyse van die man se optrede. “Ons gaan dit nie hier los nie en doen die nodige stappe teen die betrokke party.”

Nóg die eienaars nóg ʼn woordvoerder van Med24/7 was vir kommentaar beskikbaar.

Sers. Kealeboga Molale, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat die polisie ʼn voorval ondersoek waarby twee mans van mededingende ambulansdienste betrokke was. “Albei partye het sake van intimidasie en aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Albei is vry op ʼn waarskuwing en die saak word op 18 Augustus in die Rustenburg-landdroshof aangehoor,” het Molale gesê.

[wpvideo RTLgyaEj]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan 2 ·

Ek hoop hul gaan die vark skors, ons het nie sulke mense in n profesionele diens nodig nie.

Poppie ·

Daar is mos nou bewys van aanranding. Mag hy hom goed dagvaar vir pyn en lyding en aanranding. Die fout lê beslis by die ou in ”sivvie” klere. Dit is al klaar onprofessioneel om met sulke klere ambulansdiens te doen. As so iemand my kom optel, stap ek eerder hospitaal toe. Wonder nou net watse saak het ou Sivvie (of is dit nou gomgat fighter) nogals gemaak??

Elfie ·

Nou het ek wraggies alles gesien! Wie is die ploos? Hy is ‘n moeilikheidmaker en ooglopend nie gepla oor die pasient maar net oor sy eie “belangrikheid”. Stem saam, hy moet afgedank/geskors/verwyder word!

Anton ·

Dit is nou nes die “Vulteres” tow truck drywers wat baklei oor wie die kar gaan insleep, so kommon soos die dag van more, lyk my hy voel vere vir die passient.Verwyder die ding.

Swanna ·

Hulle laat my nou dink aan die asvoels van die pad. Hulle raak ook mos so in gevegte betrokke as daar te veel van hulle op ‘n ongeluk afkom en die voetuig moet weg gesleep word. Ek het al gehoor dit raak tot ‘n bloedsige storie. Sies man wat ‘n tipe mens is jy as jy soos ‘n asvoel op ander teer. Nee wat die persone moet deur die wet vas gevat word, of daardie ambulans dienste moet total op geskort word.

Peet Schabort ·

Daar is mos hierdie plakkers (stickers) vir windskerms/ruite om aan te dui wie jou voertuig mag insleep en/of wie jou hospitaal toe mag neem.
Sodra hierdie saak afgehandel is en die bullebak skuldig is, plaas ‘n berig want ek sal graag ‘n plakker om my voertuig wil sit oor WIE NIE MY MAG HOSPITAAL TOE NEEM.

jakes ·

Die parras baklei oor ‘n stukkie van die koek . Dit is algemeen bekend dat hulle so maak kan mekaar nie verdra is professors met grootheidswaan.

Hansie ·

Daar is gevalle waar die parras soos jy hulle noem, vir ure baklei en intussen lê die beseerde en wag….wat sterftes kan veroorsaak, en hulle voel vere..

magriet ·

sjoe, dis onaanvaarbaar. maar ek wil net vra, waarom is die politici so bekommerd oor kundiges ens wat die land verlaat, as daar miljoene van hulle op maroela media se berigte kommentaar lewer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.