Video: ‘Partytjie’ in Daspoort-tonnel veroordeel

Klomp jonges wat in die Daspoort-tonnel ‘partytjie’ hou (Foto: Skermgreep)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag ’n video wat versprei word en wys hoe jong mense die afgelope naweek in die Daspoort-tonnel in Pretoria “partytjie” gehou het, veroordeel.

In die video wat sedert die naweek op sosiale media versprei word, is dit duidelik hoe ’n groot groep jong mense in die Daspoort-tonnel op klipharde musiek dans, alkohol gebruik en partytjie hou.

In die video is dit verder ook duidelik hoe toegang tot die tonnel heeltemal vir verkeer geblokkeer word.

Klomp jonges wat in die Daspoort-tonnel ‘partytjie’ hou (Foto: Skermgreep)

“Ons het video’s gesien wat die rondte doen waar mense in groot groepe langs ons paaie bymekaarkom, sonder om Covid-19-regulasies of gesondheidsprotokolle in ag te neem,” het Mbalula gesê.

“Ons was veral erg geskok oor die video waarin jong mense langs die R18-Mabopane-snelweg tot by die Daspoort-tonnel skandelike gedrag getoon het deur in groot getalle saam te kuier, te drink en die pad te versper.”

In die video is dit duidelik dat niemand ’n gesigmasker dra nie en ook nie die nodige sosiale afstand handhaaf nie.

“Hierdie optrede is onaanvaarbaar. Ons wetstoepassingsagentskappe sal nie skroom om op te tree teen mense wat ons paaie in partytjieplekke verander nie, en boonop nog die Covid-19-regulasies en padreëls verontagsaam.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.