[Video] PE-boere maak ook stem dik teen plaasmoorde

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Honderde boere het Maandag by Cows Corner in Port Elizabeth saamgetrek om ʼn beroep op die regering te doen sodat gespesialiseerde eenhede op die been gebring kan word om plaasmoorde reg oor die land te bekamp.

Verskeie buurtwaggroepe, onder meer van Seaview, Lorraine en Colleen Glen, het deelgeneem aan die #SwartMaandag-veldtog wat vandag regoor die land gehou is. Duisende mense het in swart geklee saamgetrek ter gedagtenis aan die slagoffers van plaasmoorde en om hul stem dik te maak teen die aanvalle teenoor mense wat op plase woon en werk.

Honderde mans, vroue en kinders het met voertuie en motorfietse ook op die N2-snelweg in die Oos-Kaap saamgetrek. Willie Bosch, lid van ʼn plaaslike landelike beveiligingsgroep en organiseerder van dié saamtrek, het gesê die konvooi is beplan om die dood van alle boere van alle rasse wat reg oor die land vermoor is te betreur. Bosch het gesê die konvooi was nie polities of rasgedrewe nie.

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Volgens die jongste statistieke is 74 mense tot dusver vanjaar op plase vermoor, reeds meer plaasmoorde as wat in totaal in 2016 aangeteken is. Volgens die jongste nasionale misdaadstatistieke is 19 016 moorde in die 2016/2017 finansiële jaar aangeteken.

Die Swart Maandag-optogte het ook baie kritiek uitgelok met talle sosialemediagebruikers wat bevraagteken waarom boere spesiale aandag moet kry wanneer moorde deur die hele land ʼn probleem is. Bosch het aangevoer ʼn spesiale eenheid is op die been gebring om die vlaag politieke moorde in KwaZulu-Natal te ondersoek.

“Mense kan sê hoekom kry [plaasmoorde] so baie aandag, maar ons kan dan ook sê ʼn spesiale eenheid is op die been gebring om die vlaag politieke moorde in KwaZulu-Natal te ondersoek. Miskien moet ons vra waar is hierdie spesiale eenhede om Suid-Afrika te beskerm. Jy kan nie die aantal politieke moorde in KwaZulu-Natal vergelyk met wat in Suid-Afrika gebeur nie. So ja, ons soek gelyke behandeling,” het hy gesê.

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Fikile Mbalula, minister van polisie, het vroeër vanjaar aangekondig ʼn polisietaakspan wat uit lede van die Valke, misdaadintelligensie en spesiale ondersoekeenhede bestaan, sal die politieke moorde in KwaZulu-Natal ondersoek.

Rudy Orban, ʼn boer van Addo, het Maandag gesê geweld is ʼn ernstige kwessie en landelike gemeenskappe is veral weerloos en vatbaar vir gewelddadige aanvalle. Orban het ook gesê politici hits soms geweld aan deur “rasse-uitsprake” oor grond te maak.

Hy het ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn plan te beraam om plaasmoorde te beëindig. “Ons wil hê mense, veral die regering, moet kennis neem. Op die oomblik is daar geen werklike plan nie. Daar is geen plan om geweld stop te sit of selfs te verminder nie en niks word daaraan gedoen nie. Die uitsprake oor geweld vanaf politici maak dinge erger en niks word ook daaraan gedoen nie. Mense sê goed om hierdie geweld aan te hits,” het Orban gesê.

Patsy Kree, ʼn boer van Elandsrivier, het gesê wanneer ʼn boer vermoor word, het dit ʼn rimpeleffek op plaaswerkers en hul families. “Daar gaan so baie plaaswerkers wees wat sonder werk sit, omdat die vroue en families daardie plase verkoop wanneer hulle onproduktief raak. So dit is nie net die voedsel nie, dit is werksgeleenthede in geheel wat verlore gaan,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francis Linstrom ·

Eerste keer dat die boere saamtrek teen plaasmoorde maar ons word gebombardeer met optogte oor enigiets, swak dienslewering, fees must fall, gratis huise, ens. waartydens soveel skade aangerig word aan infrastruktuur en privaat eiendom. Ons het ten minste niks aan die brand gesteek nie en niemand skade berokken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.