Video: Plaaswerkers ingespan om unieke musiekvideo te skiet

Christof Berg. (Foto: Verskaf)

Die soutplaas Witkraal is presies in die middel van die land geleë, net ʼn paar kilometer van die amptelike geografiese middelpunt van Suid-Afrika.

Dit is die geboorteplaas van Christof Berg, ʼn sanger en liedjieskrywer, wat al in meer as 40 lande opgetree het. Hy keer telkens terug na dié hartsplek in die Oos-Vrystaat, waar hy in 1986 gebore is en saam met sy twee broers grootgeword het.

Dit is ook waar Christof die musiekvideo vir sy jongste uitreiking, “Wil jy sien hoe lyk die hemel”, geskiet het. Dit was opsigself ʼn unieke ervaring, aangesien Christof sy plaaswerkers ingespan het om hom met die verfilming van die video by te staan.

Hulle het gehelp om die klavier tussen verskillende landmerke, wat elkeen vir Christof ʼn spesiale herinnering vanuit sy kinderdae simboliseer, op die plaas rond te skuif en hulle het ook die kamerawerk gedoen.

“Die werkers het alles gedoen en die klavier op die trekker rondgery. Ek kon die klavier seker anders vervoer het, maar ek wou met die video so outentiek en eerlik as moontlik wees en soveel van Witkraal se sand as moontlik in die skepping daarvan stort.”

Hy het ook sy pa, wat vier jaar gelede oorlede is, se stoel in die video gebruik. Op elke landmerk van Witkraal staan die klavier gereed vir aksie: van die duine tot by die soutpanne, die turksvyboorde, pekanneutlande en einde ten laaste die plaasingang.

“My geboorteplaas word ʼn metafoor vir die diepste binneste van my wese en dit word duidelik verhaal in die storie van die nuwe liedjie. Die middel van die land simboliseer die hart van Suid-Afrika en die terugkeer na Witkraal is ook simbolies vir die terugkeer na my moedertaal en my eie mense,” sê Christof.

‘n Skermgreep uit die video.

Die dood van sy pa het hom diep getref, erken hy. “Hy was sinoniem met die plaas. Dit was vir hom ʼn stukkie hemel. Tydens ons heel laaste gesprek het my pa vir my gesê hy wil die ingang van die plaas vol kosmosse plant, hy het ʼn fassinasie met kosmosse gehad.”

Die idee vir die liedjie het by hom opgekom terwyl hy besig was om kerrie in sy woonstel in die Kaap te maak.

“Ek was nie aanvanklik seker wat dit nou eintlik beteken het nie; soms daag ʼn lied mos maar so geheimsinnig op, en dan moet ʼn mens wag om te sien waarheen dit jou verder lei.

“Witkraal is die anker van ons familie. Toe ek weer op die plaas aankom, skryf die liedjie homself mettertyd stuk-stuk klaar. Die proses hiermee het my herinner aan verlies, spesifiek die dood, hoe dit ons verwar en soms laat voel of dit die einde is.

Christof is opgewonde om weer in Afrikaans te skryf. “Elke taal het so ʼn ontsettende unieke persoonlikheid en Afrikaans is besonders uniek. As ek my oë toemaak en my moet indink hoe lyk Afrikaans, sien ek ʼn beeld van ʼn jong meisie met ʼn linnerok, kaalvoet. Ek sien aardse kruie en kleure en rou rivierklei wat nog vol klippies is.

“Afrikaanssprekendes is ʼn klomp mense wat onder moeilike omstandighede en ondanks uitdagings ongelooflike goed vermag het, en dit is sigbaar in hoe die taal gebruik word. Ons moedertaal is mos maar net anders.”

Kapenaars wat graag ʼn vertoning van Christof wil bywoon, kan op 15 Desember by die Burgundy-restaurant in Hermanus aanmeld.

Christof sal optree tydens ʼn spesiale tema-aand, getiteld “Man of the Match”, ter viering van die vakansiedag wat deur pres. Cyril Ramaphosa ingestel is nadat die Springbokke die Rugbywêreldbeker in November gewen het.

Die geleentheid word in samewerking met die Kloovenburg-wyn- en olyflandgoed aangebied. Pieter du Toit, eienaar van Kloovenburg, is die pa van Springbok-held Pieter-Steph du Toit.

Kaartjies vir die “Man of the Match”-geleentheid kos R250 elk en kan bespreek word by 028 312 2800.

“Wil jy sien hoe lyk die hemel” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Wil jy sien hoe lyk die hemel”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karina ·

Pragtige lied, ek het die video geniet. Hoe trots moes die plaaswerkers nie gewees het om deel daarvan te wees nie. Wel gedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.