Video: Polisie sleep taxibestuurder agter vangwa

Die video volg onderaan die berig.

WAARSKUWING: Die beeldmateriaal mag sensitiewe lesers ontstel.

’n Mosambiekse taxibestuurder is Dinsdagaand dood nadat hy glo in die Oos-Rand agter aan ’n polisievangwa vasgemaak en gesleep is ná ʼn onderonsie met die polisie.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het Woensdag gesê twee polisiebeamptes, ʼn adjudant-offisier en ʼn konstabel, het opgemerk dat die man se voertuig aan die verkeerde kant van die pad parkeer was en verkeer in Empilwenistraat versper het. Die man het glo passasiers opgelaai. Hulle het die man genader en gesê hy moet sy voertuig skuif, waarop die taxibestuurder die konstabel aangerand en sy vuurwapen afgevat het. Die adjudant-offisier het daarna die taxibestuurder oorrompel, die vuurwapen teruggekry, en die man in hegtenis geneem. Die beamptes het aangevoer die slagoffer het hom teen sy inhegtenisname verset.

Die 27-jarige man is later deur ʼn ander polisiebeampte dood in sy sel in die Daveyton-polisiestasie aangetref.

ʼn Geregtelike doodsondersoek dossier is geopen en die betrokke beamptes het ook ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen die man gemaak.

Moses Dlamini, die woordvoerder van Opod, sê egter verdere ondersoek teen die beamptes duur voort nadat beeldmateriaal van die voorval aan die lig gekom het. “’n Lykskouing is Woensdag uitgevoer wat aandui dat die man dood is weens ʼn hoofbesering en inwendige bloeding,” het Dlamini gesê. “Die ondersoek duur nog voort. Opod is nog besig om verklarings van ooggetuies te verkry,” het hy gesê.

Die insetsel is deur eNews vervaardig en op YouTube gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Berita Drescher ·

Ek’s seker dit is nie n uitgesondere geval nie……..was dit nie vir die videomateriaal nie sou hulle weggekom het met hierdie gru dade. Ek is skaam om n SA burger te wees…… hierdie video is die wereld ingestuur……WAT moet die buitelanders van ons dink? Dan kry ek en my familie nog Duitsers wat kom kuier oor 2 dae…..weet nie waar om my kop in te druk van skaamte nie.

Anne ·

Hierdie daad word ten sterkste deur ons geagte president Zuma veroordeel. Hierdie taxidrywer is nie eens ‘n SA Burger nie. Oor ons boere en eie mense wat doodgemaak word, word niks gese nie. Dubbele standaarde en rassisme speel ‘n groot rol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.