[Video] R31 nog oop ná reusesinkgat inval

[OPVOLG] Die Noord-Kaapse departement van openbare werke en paaie het bevestig dat een baan van die R31 intussen gesluit is. Lees die opvolgberig hier.

'n Skermskoot uit 'n video van die sinkgat tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap.

‘n Skermskoot uit ‘n video van die sinkgat tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap.

Die Noord-Kaapse departement van openbare werke en paaie het gesê ingenieurs is op die toneel waar ʼn reusesinkgat langs die R31 tussen Daniëlskuil en Kuruman ingeval het, maar die pad is nog nie amptelik gesluit nie.

Die swaar reënval wat die afgelope paar dae in die gebied voorgekom het, het ʼn reusesinkgat veroorsaak wat glo op plekke tot 30 m diep is. Crystal Robertson, woordvoerder van die departement, het aan Maroela Media gesê daar is Donderdagmiddag amptelik toestemming gekry om die R31 te sluit aangesien die sinkgat ʼn gevaar vir motoriste inhou.

“Die departement het reeds waarskuwingsborde aangebring dat die pad gesluit is, maar dit het toe gisteraand te laat geraak om die pad te sluit, so die pad is vir nou nog oop. Tans is daar nog ligte voertuie wat op die pad deurbeweeg, terwyl die departement besig is met die logistieke reëlings rondom die sluiting van die pad,” het Robertson gesê.

'n Skermskoot uit 'n video van die sinkgat tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap.

‘n Skermskoot uit ‘n video van die sinkgat tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap.

“Maar die pad sal beslis gesluit moet word omdat dit net te gevaarlik is, veral vir vragmotors en swaar voertuie. Dit is net ʼn kwessie van tyd voor dit gesluit word.”

Volgens Robertson is daar ingenieurs op die toneel wat die situasie assesseer en bepaal wat gedoen moet word. “In hierdie stadium is daar nog nie ʼn definitiewe plan nie, omdat daar sekere prosedures is wat eers gevolg moet word. Sodra die departement duidelikheid het oor die stappe vorentoe, sal die publiek ingelig word.”

Robertson het gesê reën is Donderdagnag in die gebied verwag en die departement wou dophou of die sinkgat se walle verder deur die nag sou meegee. Sy kon nie onmiddellik bevestig of die sinkgat nog groter geword of intussen gestabiliseer het nie.

Intussen word verskeie video’s van die sinkgat wyd op sosiale media versprei. Die onderstaande video is op die Noord-Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Nokki) se Facebook-blad gedeel. Dit is nie duidelik wie dit gemaak het nie.

https://www.facebook.com/nocci.kimberley/videos/944846085650259/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Piet ·

Hierdie plek het nou die hele Noord Kaap se naam gat gemaak, of hoe?

DPJ ·

Daar moet eers sekker ‘n paar voertuig inval voor pad gesluit kan word.

Leon ·

30 meter het klaarblyklik bietjie vlakker geword sedert ek laas leer meet het…

Kobus ·

Leon….die diepte wissel….nie hele lengte is 30m diep…en ook nie oral 10m breed…maar daar is plekke blerrie diep is….ek vermoed dis n ondergrondse meer wat n aansluiting het tot die Boesmansgrot…deur die eeue het die grond se swakplek net ingegee met die baie reen

Rabes ·

Dit is nie die eerste keer wat sinkgate in die omgewing voorkom nie. In 1966 het twee sinkgate ‘n entjie daarvandaan op die Reivelo pad ingeval. Die twee gate was dieper en breër maar nie so lank soos huidige nie.

Kobus ·

Alida as jy in hierdie omgewing bly…Sal jy weet van die Boesmansgrot…daardie skeur nie nou deel van daardie ondergrondse watermassa…dankie

Willem ·

Dit alles vir my nie eens snaaks of verrassend nie dit is hoe die aardegevorm.is …..en dit sal my glad nie verbaas dar iewers in die geskiedenis daar n spruit was wat die boer opgevul het nie wat vir baie dekades drooog was en waarvandie water maar net weer sy weg gevind het nie ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.