Video: Ramaphosa gekap oor ‘Marie Antoinette-oomblik’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Wat presies is vir pres. Cyril Ramaphosa snaaks daaraan dat sy kabinet hierdie projek goedgekeur het?

Dit is wat die DA wil weet nadat Ramaphosa tydens ‘n toespraak vroeër die week aan die Black Business Council (BBC) al laggend gesê het dat hy Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, opdrag gegee het om die projek om ʼn vlag van 120 m hoog op te rig te kanselleer.

Ramaphosa het aan afgevaardigdes gesê dat Mthethwa hom geskakel het om te sê mense is nie gelukkig met die “wonderlike inisiatief” nie. Mthethwa sou die president gevra het wat om daaromtrent te doen, waarop Ramaphosa geantwoord het, “kanselleer die ding”.

Tsepo Mhlongo, DA-LP en die partye se woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, meen Ramaphosa se reaksie op dié kwessie, wat tot groot woede en ontsteltenis onder Suid-Afrikaners gelei het, is waarlik sy “Marie Antoinette-oomblik”.

“Terwyl pres. Ramaphosa die gek geskeer het in ʼn vertrek vol ryk sakelui, het miljoene Suid-Afrikaners gesukkel om kos op hul tafels te sit. Die DA wonder wanneer die president besef het dat die vlagprojek van R22 miljoen ʼn slegte idee was. Was dit voor of nadat sy party se kabinet eenparig daartoe ingestem het? Nadat byna R2 miljoen glo aan ʼn uitvoerbaarheidstudie bestee is of nadat die DA, die burgerlike samelewing en miljoene gewone Suid-Afrikaners heftig daarteen beswaar gemaak het?”

Die DA doen ʼn beroep op Ramaphosa om die nasie amptelik en in geen onsekere terme nie te vertel dat die “ydelheidsprojek” gekanselleer is en om verskoning te vra dat hy uit voeling is met die lewens van die burgers van hierdie land.

“Terwyl die geld wat reeds aan die vlag bestee is dalk nie veel vir ʼn korrupte ANC-kabinet is nie, is daar miljoene sukkelende kunstenaars en atlete wat deur die departement geïgnoreer word en wat elke sent kan gebruik wat hulle kan kry.”

Mhlongo het ook gesê dit is duidelik dat Mthethwa ʼn totale gebrek aan begrip of empatie met die lot van Suid-Afrikaners het en dat hy moet bedank. “ As hy dit nie doen nie, moet die president hom afdank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Di ·

Die ANC kaders is almal ‘n klomp korrupte NARRE! Wat hulle kwytraak is lagwekkend

Watsenaam ·

Dank sommer die hele gekke spul af. Of pas n staatsgreep toe en raak van hulle ontslae.
Iets soos n burgerlikke verset teen n klomp gekke.

Carl ·

Die feit dat Sirril dink dis snaaks wys net hoe min hy eintlik omgee – en dan die vermetelheid om te sê dit is ‘n bewys dat hulle luister na die publiek! Absoluut belaglik – hulle doen eers en dink later (wanneer ander mense namens hulle dink en ‘n bohaai opgeskop word) Ek is verbaas dat hulle kastig luister – dis ‘n eerste een. Hulle luister tog na niks anders nie. Selektiewe gehoor…

Sobymykoolkop ·

So opereer die 2e in bevel van staatskaping, lag die belastingbetalers in hulle gesigte uit

Bertie ·

Dis om van naar te word! Geen empatie vir miljoene burgers wat deur hulle politieke ideologie, onbevoegdheid en korrupsie in armoede gedompel is nie.

Dries ·

Die kabinet het hierdie projek goedgekeur sonder om na die kostes daarvan te kyk. Hulle was seker net die oomblik wakker toe gestem is, maar nie geweet waaroor hulle stem nie.

Anton ·

Ongelukkig het die President geen integriteit nie en sy optrede word altyd bepaal deur sy “audience”

Mariana ·

Dit is die probleem met Ramapoza en al sy ministers. Hulle dink SA se burgers is ‘n grap. Hulle swaarkry beteken niks vir hulle tot die volgende verkiesing wanneer hulle weer die stemme soek van die burgers. Maar wanneer gaan SA se burgers opstaan en sê genoeg is genoeg. Ons ly nou al te lank onder die ANC-sirkus. Hulle lag vir ons terwyl hulle miljarde mors op naamsveranderinge en ander onnodige goed. As ons kyk na als om ons, kan hulle nie trots wees op wat hulle als vermag het nie…….of is hulle dalk tog trots op die algehele verval van ons eens pragtige land onder hulle beheer……

Anel ·

Hoekom kan hulle ‘n Black Business Councel hê en ons mag niks wat slegs wit of Afrikaans is hê nie? ,Maar julle sal nog steeds nie kan doen wat ons doen nie….

Sarie ·

‘n Vlag. Made in China. Wat seker nie eers R200 aan materiaal werd is nie. Gemaak deur kinder arbeid. Wonderlike initiatief. Wie kry die verskil tussen die R22 mil en die werklike koste van die sneesdoekie op steroids

Johanna ·

Hulle weet nie wat dit is om honger te gaan slaap nie
Hulle weet nie wat dit is om in asblikke te grou vir kos nie..
Mag GOD hulle GENADIG wees. Maar mag GOD hulle STOP in hulle spore.

Michael ·

Wanneer gaan mense besef die grootste gevaar vir die land is Ramaphosa -hy is geen verlosser nie,maar verraaier wat die land nog duur te staan gaan kom. Hy en sy wit miljader poppemeesters maak net wat hulle wil. Al wat ryk wit sakeman is kan nie genoeg sy guns najaag nie-verraaiers. Word wakker mense!

Snowball ·

Weereens die arrogansie en selfvoldaanheid van die ANC. Die meesters met die beursies wat maak en breek soos hulle wil. GEEN empatie met armoede, want hulle kan rojaal leef. Eintlik walglik dat hy lag en nie die sotlikheid veroordeel nie.

Agge nee ·

Kanselleer dit? Kan MM dalk vir ons uitvind wie het die ‘uitvoerbaarheids-studie gedoen het? Wie het daardie amper 2 miljoen in die sak gesteek en wat staan in die studie? Is daardie studie ooit gedoen?

RB ·

Almal ‘puppets on a string’! Nie een kan vir hulself dink nie. Soos vlag-idee is voorstel om Afrikaans uit Taalmonument naam te verwydee net nog n bewys daarvan.

Wonder wat gebeur wanneer DA voorstel om KZ uit KZN te verwyder want dis àl die bevolkingsgroepe se provinsie. Of B uit BLM want alle lewens maak saak. Of B uit BBC want dis uitsluiting van wit wat rasisties is. Of wat van n WBC dan mag slegs blanke sakemanne daaraan behoort.
Nog beter, verwyder B uit BBEE dan trek alle mense in SA eweveel voordeel uit ekonomiese bemagtiging op meriete, nie kleur.

Pas hulle natuurlik nie. Pas ook nie die media nie, ook nie diè wat hulle uit ver lande befonds.

Manie ·

Gelukkig het die skepper beskik dat daar verskille in hoeveelheid van breinselle vir mense sal wees en hoe dit gebruik moet word. Jammer dat party mense dit nie daarvolgens gebruik en aanwend nie. So jammer dat arogansie en grooyheidswaan blindheid bring.

Jacobus ·

Dit word nou duidelik dat die R350 miljoen moes sorg vir vir ‘n sagte kussing in Havana vir die spul kriminele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.