Video: Regter kap Unisa-regsman oor ‘uitheemse’ Afrikaans

Regter Stevan Majiedt wou weet aan watter land Afrikaans dan inheems is. (Skermgreep: Zoom)

“Laat ons eers die geskiedenis reg kry…”

Só het regter Stevan Majiedt Donderdag ʼn advokaat in die Konstitusionele Hof die kop gewas in ʼn saak wat moet bepaal of Unisa se hersiene taalbeleid ongrondwetlik is.

Unisa het in 2016 sy dubbelmediumbeleid na slegs Engels omgeskakel. Die appèlhof het verlede jaar beslis dat die universiteit se besluit om Afrikaans as voertaal te verwyder onregmatig en ongrondwetlik is. Uitspraak in die Konstitusionele Hofsaak daaroor is voorbehou, maar Unisa se betoog dat Afrikaans nié ʼn inheemse taal is nie, het Majiedt oënskynlik rooi laat sien.

“Jy verwys in jou betoë na Afrikaans as ʼn nie-inheemse taal. Dit is inheems aan watter land dan..?” wou Majiedt van adv. Matthew Chaskalson SC, namens Unisa, weet.

Chaskalson het aanvanklik gesukkel om met ʼn antwoord op dreef te kom, maar toe gesê dat Afrikaans uit Nederlands spruit.

Majiedt was egter steeds nie klaar nie.

“Ja, maar is dit nie inheems aan Suid-Afrika nie?” het hy dit aan Chaskalson gestel. Majiedt het voorts gesê Afrikaans bevat variante van Khoisan, die land se eerste inwoners, asook van Maleisies. Woorde soos “blatjang” en “piesang”, het hy aan Chaskalson gesê.

Chaskalson het aan die regter gesê hy is bewus daarvan, waarna dié hom verder voor stok gekry het.

“Ek dink ons moet net die geskiedenis reg kry. Eerstens is daar ʼn beduidende getal Afrikaanssprekendes wat nie wit is nie,” het Majiedt gesê.

“Tweedens dink ek dit is ʼn inheemse taal as ʼn mens die geskiedenis wil reg kry. Ek wil dit net opklaar.”

Die departement van hoër onderwys en opleiding het in Oktober verlede jaar ʼn nuwe beleidsraamwerk vir taalgebruik in hoër onderwys bekend gestel waarin slegs “Suid-Bantoetale” as inheems aan Suid-Afrika erken word.

In die raamwerk word Afrikaans, asook die Khoe- en Santaalfamilie, as sogenaamde uitheemse tale geklassifiseer.

Die klassifikasie het reeds tot reuseontevredenheid gelei, ook by die Universiteit Stellenbosch wat vroeër vanjaar gevra het vir openbare insette oor sy gewysigde taalbeleid. In dié beleid word Afrikaans en Khoe-tale ook as uitheems bestempel.

Ná kritiek hierop het die US die definisie verdedig deur te sê hy gebruik bloot die definisie van die regering soos uitgestippel in die Taalbeleidsraamwerk vir Hoër Onderwysinstellings.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ghoen

Puik regter Majiedt! Koloniale uitheemse Engels 0 – Inheemse Afrikaans 1.

Spook

Die regter moet net ook tog n memo vir die Victoria College aanstuur.

ESTELLE

Hoera vir Regter Majiedt

Blikke

Give that man a BELLS!!

Buks

(handeklap emoji) !!!!