Video: Renate Barnard gaan voltyds teen rassekwotas veg

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die vakbond Solidariteit het vandag aangekondig dat Renate Barnard, die voormalige luitenant-kolonel in die SAPD, uit die private sektor bedank het. Sy gaan haar stryd teen rassekwotas voltyds voortsit en het by Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke aangesluit.

Die konstitusionele hof het onlangs, ná ʼn stryd van nege jaar, teen haar beslis in een van Suid-Afrika se bekendste regstellendeaksiesake. Sy was twee keer die beste kandidaat vir ’n bevorderingspos waarvoor sy aansoek gedoen het, maar is telkens weens die kleur van haar vel nie aangestel nie.

Solidariteit het ook besluit om voort te gaan om ʼn internasionale klagte te lê teen die Suid-Afrikaanse regering oor die nienakoming van die vereistes van die Verenigde Nasies se internasionale konvensie oor die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie.

Die vakbond het ʼn YouTube-video bekendgestel waarin Barnard steun werf vir haar en die vakbond se petisie wat aan die Verenigde Nasies gerig word. ʼn Groot bekendstelling van die video is op sosiale media gehou.

“Die konstitusionele hof het my stryd teen rassekwotas tydelik gestuit, maar ek glo in wat reg en billik is en gaan my nou voltyds daarvoor beywer. Een van die groot veldtogte wat ek saam met Solidariteit gaan aanpak, is om die stryd vir billikheid in die werkplek na die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie te neem,” het Barnard gesê.

Solidariteit beplan ook verskeie ander hofsake teen die Suid-Afrikaanse regering. Die grootste gaan waarskynlik die regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste wees wat Solidariteit namens werknemers in die Wes-Kaap (waarvan nege bruin en een wit is), voer. Die saak sal waarskynlik ook na die konstitusionele hof eskaleer.

Solidariteit gaan môre by ʼn perskonferensie besonderhede van die klagte wat hy teen die Suid-Afrikaanse regering by die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie lê, bekendmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Renate Barnard ·

Met Solidariteit se hulp gaan ons meer regkry as mense wat net kla en kritiseer, Pieter van Zyl!!!

Patat ·

Jitte Renate, met so ‘n houding verloor jy sommer baie ondersteuners. Jy het my ook so pas as ondersteuner verloor. Klink nie of jy baie goeie menseverhoudings het nie.

Leeutjie ·

Hallo Renata. Ek dink nie die mense ken jou rerig nie. Soms word onnodige aannames gemaak, soos hierbo. Ek ken jou toevallig goed genoeg om te weet dat jy ‘n yster is en dat jy voluit sal gaan vir waarvoor jy staan. Ek glo dat indien mense nie jou passie ken nie en sommer net “thumbsuck” oor jou wil jy nie diesulkes as ondersteuners he nie. Staan sterk Renata, jy is klein en fyn maar met ‘n ysere wil!!! As jy se jy gaan ‘n ding doen, WEET EK jy gaan dit deurvoer!

Renate Barnard ·

Patat, dit is werklik maklik vir mense om te vra wat dit help om op te staan teen ‘n onreg (soos in die geval regstellende aksie). Ek het deur die jare geleer dat elke persoon vir hom/haar besluit wat die regte ding is om te doen. Dit gaan in die eerste plek nie oor openbare opinie nie – dit is onmoontlik vir mense om oor alles saam te stem. My vraag is net aan diegene wat gou is om te kritiseer of negatief te wees – wat sal die oplossing dan wees??? Solidariteit (en ek self) word uit baie oorde gekritiseer, maar genadiglik is daar ook diegene wat besef dit gaan oor ‘n baie groter saak as net een mens se opinie.

Patat ·

Jy kry dit duidelik nie! Die manier wat jy Pieter aangevat het, sê nie veel van jou sagte, liefdevolle menswees teenoor jou medemens nie! Verstaan jy nou?

Riaan Slabbert ·

Patat, en Pieter, sy verloor meskien n paar aanhangers, maar ouens soos julle HET geen aanhangers om te verloor nie, so gaan verloor julle self maar in julle wonderlike nsa. Jou naam is waarskynlik n beskrywing van jou redenasie vermoee

Renate Barnard ·

Ek het beslis nie vir Pieter van Zyl aangevat nie – hy het gevra of ek dink ek gaan iets regkry en ek het hom geantwoord!! Of ons iets gaan regkry sal wel in die toekoms gesien kan word. Maar weereens – dit is beter om te PROBEER, as om niks te doen nie en maar ons lot te aanvaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.