Video: Renosters vang drafstappie in Bloem

Die renosters het glo uit ʼn nabygeleë wildlandgoed ontsnap en sowat 20 minute lank rondgewandel voordat hulle aangekeer is. (Foto: Skermskoot van video)

Motoriste van Groenvlei in Bloemfontein het Dinsdagoggend hul eie persoonlike safari-ervaring gehad toe twee renosters hulle in die strate van dié woonbuurt verras het.

Video’s van die wilde diere wat ʼn rustige drafstappie tussen die motors vang, is intussen wyd op sosiale media gedeel.

Luidens ʼn berig op OFM het die 2,4 ton‑renosters, wat Shaka en Shakira heet, by ʼn nabygeleë wildlandgoed ontsnap. Die landgoed se naam word op versoek van die bestuur uit vrese vir renosterstropery weerhou.

Volgens OFM is die tweetjies se 20 minute lange uitstappie kortgeknip toe hulle naby ʼn plaaslike winkelsentrum aangekeer en na die landgoed teruggeneem is.

Die diere is nie verdoof nie, maar glo na hul tuiste terugbegelei deur werknemers wie se stemme aan hulle bekend is.

“Die hek van die landgoed, waar konstruksiewerk tans plaasvind, is na bewering deur ʼn kontrakteur oopgelaat. Dit het tot die groot ontsnapping wat Dinsdag waargeneem is, gelei.”

Die video’s, wat op die Trans Africa Self Drive Adventures and Tours-blad op Facebook gedeel is, het egter gemengde gevoelens onder sosialemediagebruikers ontlok.

Sommige gebruikers het hul verwondering uitgespreek terwyl ander sê dit is roekeloos om die diere se bestemming aan renosterstropers te verklap.

Matthew van der Walt en Jayd Wollentine het geskerts dat die voorval nie veel vir hul saak doen om kollegas in die buiteland te oortuig dat wilde diere nie werklik vrylik in Suid-Afrika se strate wandel nie.

“So ʼn pragtige gedierte,” het Keith Lottering by die video geskryf.

“Te oulik vir woorde. Hulle het sommer ʼn lekker oggendstappie gevat,” het nóg ʼn gebruiker, Eurika Claasen, gesê.

Ander gebruikers was egter van mening dat die video’s die renosters in gevaar stel en inligting aan renosterstropers verskaf.

“Ek verstaan nie hoe mense hulle [die renosters] met hul bestemmings op Facebook kan plaas nie. Ons almal weet wat met renosters in Suid-Afrika gebeur,” het Sarah-lee Mynhardt gesê.

Claude Westcott skryf hoewel dit pragtig is om te sien, is dit ook “hartseer”.

“Met hierdie video wat nou wyd versprei gaan elke stroper weet waarheen om te gaan.”

Aan dié wat bekommerd oor die renosters se veiligheid teen stropers was, het die reismaatskappy gebruikers egter verseker dat die video eers geplaas is nadat die renoster weer veilig in die landgoed was.

Only in South Africa…2 Rhino's taking a leisure stroll down a Bloemfontein street this morning. ????????????

Posted by Trans Africa Self Drive Adventures and Tours on Monday, November 8, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Toy ·

Hulle moet hierdie pragtige diere tog baie mooi beskerm want die duiwel loop altyd rond om kwaad te doen en dis hartseer as hulle iets moet oorkom.

Pampoen ·

Renosterstropers het altyd baie goeie interne inligting en maak nie staat op facebook inskrywings nie. Hulle weet baie goed waar die renosters hulle bevind. Pas hulle in elk geval goed op. Dis sulke pragtige diere!

Robert ·

Ek stem saam dat die diere te veel pulisiteit ontvang het wat heelwarskynlik tot hulle dood gaan lei.

Pieter ·

Beter die 1 renoster onmiddelik onthoring. Die foto’s en video is ‘n advertensie om die horing te stroop in hierdie tye. Bloemfontein is SA se hoofstad van dieremishandeling.

Anthony ·

Sjoe as hul net geweet het hoe bedreigd hulle is het hull BAIE vinnig uit sig gekom

Willem ·

Mag n arme renoster en sy vrou nou ook nie eers meer saam winkel toe gaan vir melk en brood en lekkers vir die renosterkindertjies nie??? Eish…..

Danie ·

Watter pragtige lelike diere.
En om nog een met so n ou horing te sien is baie besonders.
Om nie eers te praat daarvan dat hulle oorreed kon word om self terug te loop nie.
Net so jammer dat hulle nou in die visier is van die vuilgoed in ons midde.
Baie sterkte aan die eienaars en dankie vir jul toewyding.

FranWilder ·

Ek hoor wat almal se oor die horings. Maar dit bly maar mooi om te sien. Baie dankie

Chantel ·

Ek së weer, die mense wat dan hulle videos en fotos op die KNP FB-blad plaas doen ook verkeerd. Mense jy kan op enige foto of video die GPS koordinate kry, maak nie saak waar dit gepubliseer word nie. Dis nie asof die stopers nie weet hoe om daarvoor te kyk nie.
Die mensedom verstom my dag na dag al meer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.