[Video] Reuseslang bring rooibok op

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Deur Landi Malan

ʼn Video doen die ronde op sosiale media wat wys hoe ʼn reuseluislang ʼn rooibok opbring toe ʼn slangvanger naby hom kom.

Arthur Roden, die slangvanger in die video, het aan Maroela Media gesê dat slangvangery sy stokperdjie is.

“Ek is verlede Dinsdag uitgeroep na die plaas waar hulle besig was met ontbossing en het gesien hoe die luislang die bokkie insluk,” het Roden gesê. Volgens Roden is hy uitgeroep omdat die boer, Jaco Kotze, gesê het hulle al ʼn paar van hulle rooibokkies só verloor het. Die plaas is tussen Groblersdal en Marble Hall in Limpopo.

Roden het gesê die ooitjie was nog nie heeltemal volwasse nie. “Die boere in die omgewing boer onder meer met swartrooibokke en soos ek verstaan was die bokkie ʼn hele paar rand werd,” het Roden verduidelik.

Toe Roden nader aan dié 3,9 m luislang kom en aan hom vat het die slang begin om die rooibok op te bring. “Hy het dit gedoen om homself ligter te maak sodat hy vinniger kan wegkom,” het Roden gesê.

Volgens Roden het hulle die slang by Bushfellows Game Lodge gaan vrylaat. “Die ander boere in die omgewing boer meestal so hulle wil nie dié slange op hul plase hê nie,” het Roden gesê.

Roden het gesê indien die slang nie die rooibok opgebring het nie, die “maaltyd” hom waarskynlik vyf tot ses maande sou kon hou.

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marina ·

Genade! Hoop hulle het maar sy maaltyd saam gevat waar hy nou vrygelaat is sodat hy dit verder rustig kan … hmmm insluk?

SARIE VAN HEERDEN ·

Natuurkundiges se mens moenie inmeng nie maar vir my is dit moeilik om NIE in te mens as ek bv sien ‘n leeu gaan ‘n bokkie vang nie. Ek sou NOOIT ‘n kamera kon vashou en die toneel fotografeer waar een dier ‘n ander doodmaak nie. En dan wys die fotograaf baie keer die ontstellende vrees en angs wat op die bokkie se gesig en oe is.

SUSAN ·

Een bokkie in vyf tot ses maande kan die boere tog seker vir die slang gun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.