Video: ‘Roekelose’ vragmotorbestuurder het gʼn remprobleme

Skermskoot van die vragmotor wat Saterdag op video vasgevang is waar dit ander voertuie oor sperstrepe en om gevaarlike draaie verbysteek.

ʼn Vragmotor wat Saterdag op video vasgevang is waar dit ander voertuie oor sperstrepe en om gevaarlike draaie verbysteek het geen remprobleme ondervind nie en die bestuurder se gedrag was “onverskillig” het die maatskappy waaraan dit behoort, Maandag gesê.

Die vragmotor het glo boonop amper ʼn groot ongeluk veroorsaak toe hy tussen ʼn bakkie met ʼn sleepwaentjie en ʼn ander vragmotor in die middel van die pad deurgeskuur het.

Eric Masilela, direkteur van Ni-Da Transport in Newcastle, het bevestig dat die vragmotor inderdaad aan sy maatskappy behoort en dat ʼn 32-jarige man die vragmotor bestuur het. Volgens Masilela het die voorval op die N11 in Mpumalanga plaasgevind.

Die vragmotor het glo chroom vervoer en was na Maputo onderweg.

Daar heers egter onduidelikheid oor of die voorval wel in Mpumalanga plaasgevind het, of op die R34 in KwaZulu-Natal.

Masilela het Maandag aan Maroela Media bevestig dat die vragmotor se remme nie onklaar geraak het soos op sommige sosialemediaplasings bespiegel word nie, maar dat die vragmotorbestuurder “onverskillig” gery het en “mense se lewens in gevaar gestel” het.

Die direkteur sê hy het sedert Saterdag meer as 50 oproepe ontvang dat een van sy vragmotors ʼn gevaar op die pad is en roekeloos bestuur.

Die video is ook wyd op sosialemediaplatforms gedeel en het groot kritiek en woede ontlok.

“Ons is nog besig om al die inligting bymekaar te maak, maar ons oorweeg om ʼn waarskuwing aan hom uit te reik. Hy sal dan vir drie maande sonder betaling geskors word.”

Volgens Masilela werk die betrokke vragmotorbestuurder, wie se naam hy nie bekend gemaak het nie, al sowat twee en ʼn half jaar by die maatskappy.

Moeti Mmusi, woordvoerder vir die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, sê hulle veroordeel die voorval ten sterkste en stel ondersoek in.

“Die vragmotorbedryf speel ʼn uiters belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ons kan egter onder geen omstandighede roekelose en nalatige bestuur duld nie.”

Mmusi sê wanneer vragmotors by ongelukke betrokke is, is die uitkoms gewoonlik “rampspoedig” en lei dit dikwels tot lewensverlies.

“Ons sal met die betrokke vragmotormaatskappy in verbinding tree  en doen ʼn beroep op die eienaar om die nodige stappe teen die drywer in te stel.

“Ons doen ook ʼn beroep op vragmotoreienaars om bevoegde bestuurders aan te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Di ·

Hierdie maniak “sal dan vir drie maande sonder betaling geskors word” Dis seker ‘n grap! Hierdie idioot kon SOVEEL onskuldige mense se lewens geneem het. Hy moet nooit weer agter ‘n stuurwiel toegelaat word nie.

Karinda ·

Net 3 maande skors? Hy moet NOOIT weer toegelaat word om aan ‘n stuurwiel te vat nie. Daarby ‘n boete/tronkstraf kry vir roekelose en nalatige bestuur.

Chris ·

Chris Noordkus, ‘n waarskuwing en drie maande sonder salaris is nie ;n straf nie, ek hoop die owerhede kla hom aan en hy word toegesluit, hy kon ‘n slagting op die pad veroorsaak het

Helizna ·

Wees jy bietjie drie maande sonder inkomste dan kyk ons of dit ‘n straf is… Sy gedrag is laakbaar, inderdaad.

Grens ·

Wat ‘n grap, drie maande. Daar is geen verskil om ‘n gelaaide wapen op mense te rig en met die sneller te speel, en hierdie ou agter daai trok se stuurwiel.

Jr ·

3 maande sonder pay? Wat n belaglike stupid bydrae tot miskien iemand in die toekoms se dood. FIRE HOM. VAT SY LISENSIE WEG.

Miena ·

Hierdie tipe bestuursvernuf laat veel te wense na… Ek het n vriendin wat 4jaar gelede op die ou pad tussen Witbank en Middelburg oorlede is nadat so n groot “trok” bo-oor haar motor – onverskillig – gery het en sy is op slag dood. Haar babadogtertjie was maar 4 maande oud gewees. Daar was ook video opnames – van die betrokke vervoermaatskappy se binneruim CCTV asook video opnames van ooggetuies op die pad…
Daardie persoon se bestuurskaart was teruggetrek en sy rekords opgeteken by PKRS asook n skuldig vonnis opgele – maar nie in tronk gestop nie. O nee – net n skuld boete betaal en “daar gaan sy lewe aan” maar die arme kindjie en res van gesin en ons vriende moet in rou gedompel sit. Ek hoop van harte hierdie bestuurder het veilig en sonder om verdere skade te veroorsaak aan ander padgebruikers by sy eindbestemming aangekom. Maar weet net – integriteit is n groot woord vir n klein wese in hierdie bestaan van ons. Erens gaan hy sy Moses tee kom.

Leana ·

liewe genade net plein geen respek vir ander op die pad nie. hy hoort glad nie op die pad nie!

Waarnemer ·

Slegs n waarskuwing en 3 mnde sonder inkomste!!!!NiDa julle grap seker?Wat as hy n mense lewe geneem het?Wat as die bestuurder van die ander voertuig wat moes uitswaai om n botsing te vermy,sy voertuig gerol het of in n ander voertuig vasgery het?Ek stel voor alle chroom myne boikot NiDa tot hierdie betrokke vragmotor bedtuurder afgedank is nie.

Janine ·

“Die vragmotor het glo boonop amper ʼn groot ongeluk veroorsaak toe hy tussen ʼn bakkie met ʼn sleepwaentjie en ʼn ander vragmotor in die middel van die pad deurgeskuur het.” Uhm….nee! Hy het fisies die bakkie se sleepwa getref! Iemand moes die sot sommer in die kop geskiet het!

Hibiscus ·

Onse aarde, hierdie video gee nuwe betekenis aan die woord “padvark” en hoe groter die voertuig, hoe groter die “varkerige” gedrag! Ongelukkig is hierdie nie ‘n geisoleerde geval nie, dis ‘n algemene gesig landwyd. Sperstrepe word mos geverf omdat daar te veel verf is, nie om ‘n versperring aan te dui nie. Vat hierdie ou se lisensie weg en moet hom nooit weer agter ‘n stuurwiel laat inklim nie, kla hom sommer krimineel ook aan vir poging tot moord.

Sêmanet ·

Hulle behoort sommer sy werkplek ook aanvat, aangesien hy so lig daarvan afkom.

Erich ·

Ek bly in Hazyview. Glo my ek het die betrokke maatskappy se trokke al baie keer roekeloos gesien ry op die R40. Geen respek vir ander pad gebruikers of padreels en spoed nie.

Barend ·

Die N1 tussen die Kaap en Gauteng is as gevolg van die vragmotors wat nie by die verkeersreëls kou nie nogal erg gevaarlik vir gewone motoriste.

Maritza ·

Oorweeg ‘n waarskuwing? Geskors word? Wat as daar lewens verlore was? En die polisie? Gaan hy daar ook aangekla word vir nalatig en roekelose bestuur?

Kloekie ·

Hy moet onmiddellik toegesluit word.
Dis poging tot moord.
Kan mens dit nie vir owerhede aanstuur??

Marlene ·

Hierdie padvark se lisensie moet afgeneem word, moet NOOIT weer een kry nie en aangekla word! Ek is heel hoendervleis nadat ek die video gekyk het … drie maande geskors word, gaan GEEN verskil aan hierdie persoon maak nie

Mariaan ·

Bewyse reeeds daar! Vat sy lisensie vir altyd weg…waarom nog kans gee..ag nee wat….ons wette is treurig…tronk toe sou beter wees…se nou n bus vol kinders /of enige ander mense het onder die trok beland….ons is aan on eie genade oorgelaat!

LIEZL ·

As jy rem probleme gehad het, het jy spoed verminder en na ‘n laer rat gegaan en nie spoed opgetel nie.

Niel ·

hoop daai bakkie met sleepwa maak ‘n kriminele klag teen die betrokke drywer vir poging tot moord.

Aanhouer ·

Hy hoort nie agter ň stuurwiel nie en behoort permanent van enige pad verwyder te word!!

Thelsa ·

Waansinnige kommentaar “3 maande sonder betaling geskors”. Die drywer moet deel van die werkloses-statistiek word. Hy gaan bloot net by ‘n volgende maatskappy aansoek doen vir diens.

janeee ·

Ons hier in Newcastle sien gereeld hoe roekeloos en selfsugtig die betrokke maatskappy se bestuurders is… geen respek vir ander padverbruikers se lewens nie…

Hennie Biebouw ·

“….maar ons oorweeg om ʼn waarskuwing aan hom uit te reik.”…? Oorweeg seg julle…. Nee maar goed so, bly om te hoor jul het die situasie onder beheer.

Swerwer ·

Neem die maniak se bestuurslisensie asook pdp af en teken dit teen sy naam aan.
Sluit hom toe en gooi die sleutel weg.

Nie Verbaas ·

“Ons is nog besig om al die inligting bymekaar te maak, maar ons oorweeg om ʼn waarskuwing aan hom uit te reik. Hy sal dan vir drie maande sonder betaling geskors word.” Hierdie drywer moet eerder van die aardbol verwyder word want hy gaan sonder twyfel mense dood met sy gedrag.

Gert ·

Moet hy nie krimineel aangekla word vir tref en trap nie? Die persoon was dan in ‘n ongeluk betrokke en het nie gestop of niks nie. Dis mos verlaat van die ongelukstoneel of so iets

Miskruier ·

Ek sien saans op die R101 nasionale roete vragmotors wat geen reëls gehoorsaam en dan nog met net een koplamp ry. Geen verkeerspolisie sal hul lewe waag om diê soort af te trek nie.

AmY ·

Ons het gisteroggend ook ‘n nare ervaring met ‘n vragmotor gehad. Nogal een wat motors vervoer het.

Papsak ·

Ja hierdie groot vragmotors groot gevaar op paaie hulle ry roekeloos met daai groot voertuig en jaag vat hulle af van groot vragmotors af gevaar vir baie lewens op die paaie regtig sit ordentlike drywers op die voetuie maar nee jy kan nie werk op vragmotors kry nie hulle vertrou our people mos meer

Blikkantien ·

Ek wonder hoeveel ander ongelukke hy al in die verlede agter hom gelaat het, nl. motors van die pad gedruk en hulle toe gerol of met ander voertuie gebots het.

Adriana ·

Die N1 noord na suid en andersom lyk deesdae netso, daar is net lorries op daardie pad, party van hulle ry baie onverskillig, jy moet maar padgee vir hulle as hulle ñ voertuig verby gaan, veral waar 2 bane is en altyd by ñ opdraend of draai in die pad, ander gaan effens op geelstreep om vir jou plek te maak om verby te kom. Die regering sal moet ñ poging aanwend om spoorvrag weer aan die gang te kry, minder lorries op die pad, dis net ñ wonderwerk dat daar nie meer baie noodlottige ongelukke op die hoofpaaie is nie. Wil sê 90% van verkeer op langpaaie, hoofweë is lorries.

Buks ·

Ek het 2 weke gelede n plank teesen trok ook gehad wat so ry in Limpopo

Piet ·

Daar is die ongevraagde stelling weer, “Stappe”. Is daar nie genoegsame bewyse dat die persoon vir poging tot moord aangekla word nie? Wat is die verskil tussen vragmotor bestuurder se aksies, en iemand wat met sy pistool rond en bont na mense skiet met ‘n vuurwapen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.