Video: Rowers plunder juwelierswinkel

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.,

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe ʼn groep rowers met voorhamers op ʼn juwelierswinkel in ʼn Kaapse winkelsentrum toeslaan terwyl inkopiegangers probeer wegkruip.

Volgens Ebrahim Harris, mede-eienaar van die Harris & D’arcy- juwelierswinkel in die Blue Route Mall in Kaapstad, hou rowers al sedert September 2014 ʼn fyn oog op die juwelierswinkel.

Harris het Dinsdag aan Maroela Media gesê daar was sedert September nagenoeg 15 diefstalpogings op sy winkel gemaak, maar dit was tot Sondag nog onsuksesvol.

“Ons vermoed ʼn groep van 15 mense is by Sondag se aanval betrokke,” het Harris gesê. “Ons weet hulle het in drie voertuie van die toneel gevlug, en op kringtelevisiebeeldmateriaal kan ons sowat nege verdagtes sien wat by die winkel was.” Hy het gesê die moontlikheid bestaan dat vyf verdagtes in elke motor opgedaag het. Vier mans uit elke motor het hulle by die groep aangesluit, terwyl drie in die motors gewag het.

Harris het beeldmateriaal van die aanval aan die Cape Argus verskaf. Die koerant het dit op YouTube gelaai. (Die video volg onderaan die berig).

Op die beeldmateriaal kan ʼn mens sien hoe ʼn groep mans in oorpakke, gewapen met vuurwapens en hamers, eers die kiosk voor die winkel bestorm, vertoonkaste stukkend moker en juwele steel, waarna die winkel geplunder word.

Harris het gesê die groep het ná die rooftog heel rustig hul parkeerkaartjies betaal voor hulle gevlug het.

Konst. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Geen skote is gevuur nie, maar die vertoonkaste is stukkend geslaan en omstanders kon dit vir  geweerskote misgis het,” het Rwexana gesê. “Hulle het in ʼn silwer Mercedes, wit Audi A4 en silwer Golf 6 van die toneel gevlug.”

Buiten ʼn veiligheidswag wat met ʼn vuurwapen geslaan is toe hy hulp oor die radio wou ontbied, is niemand anders in die voorval beseer nie.

Die waarde van die juwele wat gesteel is, is nog nie bepaal nie. Harris het egter gesê die skade in die winkel alleen beloop reeds R600 000.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek die saak. Die polisie het ook met Harris ʼn vergadering belê om te kyk hoe hulle beter in die toekoms kan saamwerk, om ʼn soortgelyke voorval te voorkom.

Voor die aanval op Harris se winkel, is ʼn sportwinkel op 26 Desember by dieselfde winkelsentrum beroof. ʼn Selfoonwinkel het in Augustus ook onder ʼn groep rowers deurgeloop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vanghulleenhanghulle ·

En dit nogal met n “Proudly South African” sak!!

Drieks ·

Trots ANC… julle nageslag gaan duur betaal vir die slapgat land wat jul geskep het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.