Video: SA duiker beland in walvis se bek

Op die foto wat deur Heinz Toperczer geneem is, kan gesien word hoe Rainer Schimpf halflyf by die bek van die walvis uithang. (Skermskoot uit video)

ʼn Suid-Afrikaanse duiktoeroperateur en buitelugfotograaf word nou as ʼn “moderne Bybelse Jona” bestempel nadat foto’s aan die lig gekom het van hom wat in die see naby Port Elizabeth byna deur ʼn walvis ingesluk word.

Gelukkig vir Rainer Schimpf (51) het hy nié soos Jona in die walvis se maag opgeëindig nie, maar het die walvis hom uitgespoeg voordat hy middagete geword het.

The Telegraph berig Schimpf was verlede maand besig om saam met twee kollegas te snorkel sowat 25 seemyle van die kus naby die Port Elizabethse hawe. Schimpf wou graag foto’s neem van ʼn sardienloop en die malgasse, pikkewyne en robbe wat op hulle jag maak, en het in die kolk visse ingeduik om die beste moontlike foto’s te kry.

Skielik het ʼn Bryde-walvis te voorskyn gekom besig om te smul aan die skool visse. Dit was in hierdie oomblik wat die walvis se mond om Schimpf se bolyf gevou en alles om hom donker geword het. “Daar was nie tyd om enige vrees of emosie te voel nie,” het Schimpf aan The Telegraph gesê. “Ek het dadelik geweet wat het gebeur. Ek het geweet ʼn walvis het opgekom en my gevat en ek het instinktief my asem opgehou en aangeneem die walvis sal weer afduik en my êrens in die dieptes uitspoeg.”

Heinz Toperczer se ongelooflike foto’s van die voorval het selfs die voorblad van die New York Post gehaal. (Foto: Facebook)

Die walvis het Schimpf egter vinnig weer gelos. “Hy het duidelik agtergekom ek was nie wat hy wou eet nie, so toe spoeg hy my weer uit,” het Schimpf aan Sky News gesê.

Heinz Toperczer, ʼn professionele fotograaf, was aan boord die boot en het die verstommende gebeurtenis met sy kamera vasgevang. Omdat alles so vinnig gebeur het, het Toperczer nie onmiddellik besef wat gebeur nie en was dit eers na die tyd dat almal tot verhaal gekom het.

Schimpf was egter nie beseer nie en het ná die beproewing doodluiters weer in die water ingeduik en voortgegaan om foto’s te neem.

Sy unieke ondervinding het egter aan hom wêreldwye bekendheid besorg en internasionale mediadekking vir Toperczer gebring wie se foto’s selfs die voorblad van die New York Post gehaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ellisras ·

En ek het gedink Jona en die walvis is net ‘n storie. Wys jou net

Getruida ·

Dit was GROOT genade, mnr Jona 2! Hoop jy besef dit en gaan lees weer bietjie op ivm jou voorganger se ondervinding jare gelede… En so kan alle skeptici oor die boek Jona nou ook hulle kritiek heroorweeg. Dit gebeur toe waarlik wel dat ‘n vis iemand wil insluk en (lewendig) uitspoeg…

Sê ook ma net ·

Met alle respek, dit was ‘n skip met die naam “groot vis” wat vir jona opgetel het. Ek nooi julle uit om te gaan kyk waar is jona deur die “groot vis” opgetel en uitgespoeg, en dan moet daardie een wat dan nog glo dit was ‘n vis vir my kom verduidelik hoe die vis oor droë land beweeg het.

Jacoba ·

Se ook ma net, landskape het daardie tyd anders gelyk as vandag. Waar nou droe land is was eens see. Gaan doen tog moeite en gaan doen so bietjie leeswerk. Gou gou om die bybel to leunaar te wil verklaar. Vandag lyk die landskape anders.

Cherokee ·

Beslis was die verligting om uitgespoeg te word, groter as die vernedering om uitgespoeg te word.

Frans C ·

Of die verhaal van James Bartley waar is weet ek nie,maar dit dit is destyds as waar gerapporteer.

SNEL ·

Jona en alles, van begin tot einde is waar in die Bybel. Ek het n tydlyn boek wat al die gebeure en profisieë uitlê en wys wat gesê was en wanneer dit gebeur het, geen ander boek kan jare der jare terug geskryf gewees het en so akkuraat wees behalwe die Bybel nie. Wat gesê was gaan gebeur met sekere lande en plekke, het toe gebeur. So dit sê net een ding; die Outeur van daai boek bestaan werklik.

Felix ·

Ek wonder of die regter van die hof wat oor Gays die Kerk tereggewys het, nog ander voorstelle in gedagte het. Ek het idee hy sou die walvis van poging tot moord en selfs visslag (manslag) vrygespreek het.

Pastoor ·

Die Bybel sè grootvis. Nie walvis. Walvis se keel isvte klein

Johanvz ·

Een kommentaar dat dit ‘n groot vis is, is reg, maar wat meer belangrik is is die les wat ons leer uit Jona se ondervinding en waarom het dit gebeur.
Ek stel voor dat enigiemand wat meer wil weet moet gaan na http://www.jw.org/af en kyk onder: Vind Video’s > ” Die verhaal van Jona – ‘n les oor moed en genade”. Die video is 45 min lank.

Heksie ·

Wat ‘n ervaring …. weet net nie of ek so kalm sou gewees het nie!

Onverantwoordelik ·

Hy het dit doelbewus gedoen omdat hy geweet het die walvisse is daar. Daarom sommer die video ook. Stappe gaan teen hom geneem word. En nee, die gebeurtenis is niks bonatuurliks nie, onverantwoordelik ja.

VanAfrika ·

Hoekom sal iemand doelbewus tussen walvisse inspring, dis net so goed hy gaan tussen n trop honger leeus?

Vissie ·

“Onverabtwoordelik” moet jy so ‘n suurfytjie wees. Dis so mooi en ‘n groot ervaring. God het guns aan hom bewys en hy leef.
Gaan weg met jou negatiewe kommentaar

Walvissie ·

NY post is idiote… hy was nie ingesluk nie! Ai die Amerikaners wil tog alles oor dramatiseer!

Realiteit ·

Mense is nie naief nie. Net sommiges sal dink dis ‘n pragtige bonatuurlike sprokie. VanAfrika jy is so reg – mens spring nie tussen ‘n klomp leeus in om aandag te soek nie.

Oornag beroemd ·

Hierdie man was uiters onverantwoordelik om ‘n video te kry om “instant fame” te verwerf. Hy moes in die eerste plek nie tussen die walvisse ingespring het nie. Hy het sy bevoorregte posisie misbruik. Dit is hartseer dat sommiges hierdie vir soetkoek opeet en dink dat dit ‘n mooi ervaring is. Stem saam met jou Walvissie. Ongelukkig is dit nie net die Amerikaners wat so dramaties is nie.

Tegnologie en vooruitgang is goed maar dit is jammer dat ons in ‘n oppervlakkige tyd leef waar mense vinnig naam kan maak en selfs oornag beroemd kan raak met die hulp van sosiale media en naiewe aanhangers.

VanAfrika ·

Hy het nie tussen die walvisse ingespring nie. Die walvis het skielik verskyn. Die duiker kon nie meer verras wees toe hy agterkom wat aan die gebeur is. Lees asb julle artikels korrek.

Amelia ·

Dit was seker ‘n “geleerde” walvis.

Soos baie, kon hy nie “Shrimp” reg lees nie.

Net bly die duiker het oorleef.

Amelia.

Andre ·

Groot risiko om net so tussen daai derduisende sardiens sommer net “inteduik”, veral so ver van die kus af .Daar is baie spesies wat voer op die klein vissies , g’n wonder die ou is misgis vir iets anders nie…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.