Skaars ʼn paar dae nadat die SABC die Demokratiese Alliansie (DA) se verkiesingsadvertensie ophou uitsaai het, het die openbare uitsaaier dieselfde met die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se televisie-advertensie gedoen.
Volgens die SABC is die advertensie verbied omdat dit geweld aanhits. “Die SAUK sê dit is gewelddadig omdat ons fisies die e-tolstelsel wil verwyder,” het die party op Facebook gesê.
Die EFF het verder gesê hulle is ongelukkig daarmee dat hul minuut lange verkiesingsadvertensie verban is. ʼn YouTube-skakel van dié advertensie is wyd versprei.
Die SABC het dieselfde rede gebruik toe hulle die DA se “Ayisafani”-advertensie van die lug verwyder het. Intussen is besluit om die DA se advertensie weer uit te saai hangende die uitkoms van ʼn ondersoek deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa). Die DA se advertensie is teen Dinsdag reeds meer as 550 000 keer op YouTube gekyk.
Die EFF se advertensie is op 15 April op YouTube gelaai en is teen Dinsdag bykans 5 000 keer gekyk.
“Ons gaan hulle [die SABC] die stryd aansê. Hulle gaan agterkom ons word nie verniet ‘vegters’ genoem nie,” het die party op Facebook gesê.
Die video stem baie ooreen met die DA se advertensie, met bykomende beeldmateriaal van die Marikana-bloedbad en onlangse gewelddadige betogings by Bekkersdal.
Ek kan verstaan waarom d EFF se advertensie afgekeur is. Dit beeld geweld uit. Maar d DA se ad sien ek nerens?