Video: Sabotasie dalk rede vir substasie-brand

Foto: City Power

ʼn Video het aan die lig gekom wat toon dat die oorsaak van die reusebrand by die Eikenhof-substasie, wat talle Johannesburgse woonbuurte sonder elektrisiteit én watertoevoer gelaat het, moontlik die gevolg van opsetlike sabotasie was.

Herman Mashaba, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, het gesê op die video kan gesien word dat die brand buite die transformators by die substasie begin het. “Dit lyk ook asof die transformator kwaadwillig beskadig is sodat dit olie op die brand lek. Hierdie feite strook doodgewoon nie met die vermoede dat ʼn elektriese fout die brand veroorsaak het nie,” het Mashaba gesê.

Volgens Mashaba het hy die stad se groep forensiese en ondersoekdienste en die SAPD versoek om verder ondersoek in te stel om vas te stel wie agter die brand by die substasie sit.

Die brand, wat Maandag ontstaan het, het inwoners van Naturena, Kibler Park, Alveda Park, Glenvista, Eikenhof en Loughrin sonder elektrisiteit gelaat. Boonop is groot dele van Johannesburg en Noordwes sonder watertoevoer gelaat aangesien die Rand Waterraad heeltemal afhanklik van die substasie is vir kragvoorsiening.

Foto: ANA.

Volgens die stad word ongeveer 40% van Johannesburg se inwoners deur Rand Water van water voorsien. Die transformator wat aan Rand Water toegewys is, is heeltemal in die brand verwoes en ʼn tegniese span moes sedert die brand dag en nag werk om ʼn nuwe transformator by die substasie op te stel en die skade aan die ander transformators en kragkabels te herstel.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, het teen 23:20 Dinsdagaand gesê die twee transformators wat kragtoevoer aan inwoners en Rand Water voorsien, is aangeskakel. Mangena het gesê die verwagting is dat die transformator wat Rand Water van krag voorsien teen 02:00 vanoggend gereed sou wees om te begin krag deurvoer na die waterpompe toe. Inwoners se krag sal een woonbuurt op ʼn slag aangeskakel word totdat die kragtoevoer ten volle herstel is.

Teen 04:00 vanoggend het City Power via sy amptelike Twitter-profiel gesê die Lehae Fase 1-kragverspreider is ten volle herstel. Die verwagting is dat alle inwoners teen vanaand weer elektrisiteit sal hê.

Mashaba het sy opregte dank uitgespreek teenoor die tegniese span wat onverpoos gewerk het om die herstelwerk by die substasie so vinnig moontlik gedoen te kry. Hy het verseker dat die mense wat verantwoordelik is vir die verwoesting van die stad se noodsaaklike infrastruktuur vasgetrek sal word en aan die pen sal ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

??? ·

Ek verstaan nie. Die vuur is klein. Daar is ń poeier brandblusser. Neem eerder af as om die vuur te blus. Ek weet ons gebruik CO2 op DB box omdat dit nie alles vol poeier mors nie, maar die was tog noodgeval. ????? Ontruim die area maar nie mand blus die vuur nie. Ney, it is not my job.

Gerhard ·

Dit is hoogspanning. Jy kan nie daaraan raak met enige brandbestrytoerusting nie. Jy sal soos ‘n stuk biltong lyk na die tyd. Eers as dit veilig geïsoleer is kan jy iets aan die vuur probeer doen. Ek sien ook niks wat lyk asof dit sabotasie is op hierdie video nie. Die transformator lek olie en dit het waarskynlik die vuur veroorsaak, maar jy kan nie sien waarom lek dit olie nie. Daar kan baie redes wees waarom die ding begin olie lek het, swak instandhouding is die waarskynlikste rede, ‘n fout wat die transformator laat ontplof het tweede op die lys. Sabotasie kan egter nie uitgeskakel word nie.

Werner ·

Dan wonder die liberales hoekom hulle drome aan skerwe is want ons sit dan met sulke bevoegde mense

ZAR ·

Soos julle kan sien het daar olie gelek, hulle was heel moontlik bang vir ‘n ontploffing.

Hendrik ·

Dit is ‘n moeilike besluit gewees. Die omploffing kon enige oomblik plaasgevind het en as jy nog nie naby so vuur was nie moenie kommetaar lewer nie. Hierdie omploffings is baie groot en skiet olie orals. Sit jouself in daardie situasie. Probleem hier is dat die olielek vroeer moes opgespoor wees met inspeksie . Onderhoud is van groot belang en so ook voorkomende onderhoud.

Fortis ·

Voorheen was dit grootliks regeringsonbevoegdheid wat tot die onderbreking van noodsaaklike dienste soos krag en water gelei het. In onlangse tye het sabotasie ook ‘n al hoe groter rol hierin begin speel. Ek vermoed dat dié tendens sal voortduur. Dit is dus baie belangrik om sover moontlik onafhanklik van die staat of munisipalteite te wees ten einde dié beproewinge die hoof te bied. Solidariteit se Kragdag stel mense bekend aan heelwat van dié onafhanklikheidsopsies. Ek wens net Solidariteit wil dié inisiatief ook Kaap toe bring. Soos die DA tans in die Kaap vou (en ek ondersteun hulle terloops glad nie, maar sal tog erken dat hulle darem ‘n relatief aanvaarbare vlak van dienslewering verseker), is Kapenaars binnekort in dieselfde bootjie as diegene wat onder ANC-bestuurde munisipaliteite se onbevoegdheid en gepaardgaande “diensleweringsbetogings” (lees: vandalisme) ly.

Manie ·

Dit is so skoon sooa daglig dat daar gepeuter is. Waarvoor die sypaneel ook maak datvdie olie uitloop. Ek kan onthou in my kinderdae as so iets met n kragrtasie of water pompe of met enige iets wat n dorp of mense se daaglike gebruik weg neem. Dit terrorisme was. Volgens my meening kan alle sobotasie vandag van so aard aan terrorisme toegskryf word. Dit os tog hoe dit in die verlede gebeur het. Sê maar net

Piet Pompies ·

Hierdie is ‘n HV transformator en jy kom met geen brand blus toestel naby die vuur voordat die krag afgeskakel is, jy gaan dood geskok word. Die plek moet eers veilig verklaar word voordat die vuur geblus kan word, dit is ‘n elektriese vuur.

John ·

Mashaba en ander DA-burgermeesters word duidelik geteiken deur die ANC met vuilspel steeds die vernaamste woord in sy sg Charter. Die prez’e doen ook so, so waarom sal die res nie ook nie. Die hoop beskaam dat hierdie toiende landjie ooit se eie stert sal vind en dit bind sodat vooruitgang en etiese waardes gevestig kan word.

Pietsepan ·

‘n Transformator slaan nie sommer vir enige lawwe rede aan die brand nie. Dit is met gesofistikeerde beskermingsapparaat toegerus. Dit behoort ook met brandbestrydingstoerusting toegerus te wees. Was dit? Of was daardie koste gespaar? Die moontlikheid van sabotasie is nie uitgesluit nie. Ons het mos sulke mislike mense in ons land.

laspos ·

Die outjie begin met die video voordat hy by die deur uitgaan, en dan sien hy die vuur , daar is nie juis paniek in sy stem waneer hy vuur skree nie, het hy dalk geweet dis wat hy buite gaan kry? Nogmaals het hy tyd om steeds video te neem.

Marietjie ·

Ja nee, iets strook nie hier nie. Laat mens amper dink die video man het iets geweet van wat hier gebeur.. hoekom viedeo begin neem nog voordat jy die sogenaamde vuur ontdek? Ek dink hy moet bietjie ondersoek word….

marous ·

Gaan City Power deursigtig wees en die hoeveelheid geld wat hulle aan sekuriteit betaal vir die plek bekend maak ?

JP VD MERWE ·

Die man wat die video geneem het het geweet wat aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.