Video: Samaritane wat mans uit see red se heldedaad vereer

Die drie ‘barmhartige samaritane’ (Foto: Skermskoot)

Drie barmhartige samaritane wat vroeër vanjaar twee vissermanne met een van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se kenmerkende pienk boeie uit die see gered het, is vir hul dapperheid vereer.

William Boltmann, sy broer, Richard, asook Francois Koekemoer moes op 2 April op hul voete dink toe twee vissermanne van Kuilsrivier in die see by Rooi-els in die Wes-Kaap deur sterk seestrome van die rotse in die see meegesleur is. Die weer was daardie spesifieke dag erg onstuimig.

Die Boltmann-broers en Koekemoer was op pad om in hul rubberboot kreef te gaan vang.

Volgens die NSRI het ʼn plaaslike NSRI-waarnemer dié drie mans omstreeks 07:20 ingelig oor die vissermanne, onderskeidelik 19 en 27 jaar oud, wat in die moeilikheid beland het.

Die persoon het die mans gevra of hulle sal ingryp.

Lede van die NSRI was teen daardie tyd reeds ontbied en was op pad na die toneel.

“Die mans het sonder om te skroom ʼn pienk boei van die NSRI gegryp en is met hul rubberboot die water in om die vissermanne te red,” sê Jessica Shelver, ʼn woordvoerder van die NSRI.

“Die see was baie onstuimig en die wind stormsterk. Die drie mans het behoorlik gedink – ook danksy hul jarelange seiljagervaring – hoe hulle die vissermanne te hulp gaan snel. Die vissermanne het in daardie stadium al hipotermies geword en was in ernstige gevaar om te verdrink. Elke sekonde het getel.”

Volgens Shelver het die mans probeer om die pienk boei na die vissermanne te gooi, maar die sterk wind het dit gegryp. Dit het nietemin ʼn belangrike rol in die reddingspoging gespeel.

William het in die see gespring en albei mans uit die water tot op die rubberboot gehelp.

“Ek het geweet ek moet vinnig optree en iets doen,” vertel hy.

“Ons het hulle net betyds gered. Enkele minute later en hulle sou nie meer met ons gewees het nie.”

Die vissermanne is na die strand geneem waar die NSRI en nooddienswerkers gereed gestaan het. Paramedici het die vissermanne vir hipotermie behandel.

Die Boltmann-broers en Koekemoer is in Julie vir hul dapperheid vereer.

Pienk boei red lewens

Willem sê die pienk boei het hul reddingspoging beslis vergemaklik en hul lewens sou daarsonder werklik in gevaar gewees het. Hy sê dit was ook die boei wat die vissermanne hoop gegee het dat hulle gered sou word.

Shelver sê omtrent 77 lewens is al vanjaar met die NSRI se pienk boeie gered en altesame 100 van die boeie is reeds landwyd versprei.

“Die pienk boeie is deel van ʼn lewensreddende waterveiligheidsinisiatief deur die NSRI. Die kenmerkende pienk kleur van die reddingsboei is ontwerp om in die water uit te staan en maklik raakgesien word,” verduidelik Shelver.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KB ·

Dis lekker om weer te verneem van ‘n Suid-Afrikaanse heldedaad.
Knap gedaan. Ons is trots op julle drie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.