[Video] Sanef soek interdik teen BLF

Andile Mngxitama. Foto: Skermskoot/kykNET-video

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het ‘n dringende aansoek gebring om ‘n interdik teen Andile Mngxitama en sy organisasie Black First Land First (BLF).

Die aansoek is Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg gebring en kom nadat die BLF ʼn verklaring uitgereik het waarin hulle joernaliste by die naam noem wat hulle “voortaan sal teiken in hul protesaksies teen wit media”.

Dit kom ook nadat Tim Cohen, redakteur van Business Day,  aangerand is tydens ‘n optog deur BLF-lede buite die huis van Peter Bruce, toesighoudende redakteur van Tiso Blackstar.

Die BLF het in Vrydag se verklaring die name van ander joernaliste genoem wat glo volgende op hul teikenlys is. Die sluit in EWN se Stephen Grootes en Barry Bateman, amaBhungane se Sam Sole en News24-rubriekskrywer Max du Preez.

Sanef het die hof gevra vir ‘n interdik teen Mngxitama en die BLF om hulle te verhoed om joernaliste te teiken, intimideer, dreig of aan te rand. Die aansoekers vir Sanef is: Cohen; Bruce; Sole; Adriaan Basson, redakteur van News24; Grootes; Du Preez; Bateman; Karima Brown, verslaggewer en politieke ontleder; Eusebius McKaiser, politieke kommentator en geselsprogram-aanbieder; Ferial Haffajee, toesighoudende redakteur van Huffington Post en Katy Katopodis, hoofredakteur van die Primedia Group.

Mahlatse Gallens, voorsitter van Sanef, het gesê die teistering van joernaliste is deel van ‘n georkestreerde veldtog. Sy het gesê die teistering van joernaliste het ten doel om bewerings van korrupsie en staatskaping uit die openbare oog te hou.

Sanef se aansoek is op Mngxitama en die BLF bedien en hulle het kans om daarop te antwoord voor die saak in die hof aangehoor word.

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en aanbieder van kykNET Verslag, het verlede week ‘n onderhoud met Mngxitama gedoen:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tanya ·

Waar in die lewe kom hulle aan “black first, land first”??

TM ·

Hoekom gee hulle die man lugtyd? Hy leef op sensasie en die pers gee dit vir hom. Ignoreer hom net. Hy sal aanbeweeg as hy sien hy bereik niks nie.

Gerda ·

My bloeddruk sal dit nie hou nie. Hoe kan n mens stilbly as jy persoonlik beskuldig word van …alles? Anyway. Ek wonder ook of die mense lugtyd moet kry… aan die ander kant is daar hopelik mense wat deur sy antwoorde die waarheid kan sien.

johnny_walker ·

Hierdie lot het nie eens die steun vand ander swartes nie , ek het vanoggend gesit en luister hoe n swart radio dj hom uitkruit en goedkoop maak , die arme swaap het nie geweet wat om te sê nie

James ·

Hul het hope steun! Hul gaan die land in kommunisme inwurg. Dinge gaan nie verbeter nie.

Piet Pille ·

Niks anders as wettelose opswepery, As dit nou van “Wit eerste ons veg vir ons eie grond” of iets dergliks , was daar al lankal polisie optrede en arresstasies.

Blondie ·

Die knaap het sy mes in vir almal wat voortaan die Regering as korrup beskou en dit ook so in die Media opper! Pasop! Hier is ‘n tweede Malemma oppad!

Pietman ·

“Took 85% of the land in 1913”. Om presies te wees die wet het bepaal dat die % eiensaarskap soos dit op daardie stadium was so moet bly. Niemand het 85% gevat nie. In 1913 was die eienaarskap 85% wit.

Chris ·

Ek het in my lewe geleer jy redeneer nie met iemand wat nie die vermoë het om op jou vlak te kan inset lewer nie. Ek luister na die knaap. Sy lyftaal is vir my te ontspanne vir iemand wat weet hy loop op baie dun ys. Iemand is besig om die lot dis informasie te voer en die mense in die land op te klits. Hulle kry dit reg. Gaan kyk net wie borg/betaal die mense. Hy is soos hulle sê “a useful idiot” In dieselfde asem kan gevra word, wat het van die “fees must fall” speelgroepie geword.

w ·

Hu is dit moontlik dat teistering nie deur die wet gestraf word nie of is Geregsdienaars bang vi die kriminele

Donovan ·

Hierdie man gaan in sy eie swaard val en n ongenade dood beleef… Los hom hy speel nou met vuur, God gaan n voorbeeld van hierdie mense maak… sy beweging vervang seker nou die EFF wat hulle rug op Zuma gedraai het… Lees die berig en verstaan dit gaan nie oor land nie dit gaan vir hulle oor die vuilwerk van die ANC te doen…

HB ·

Ha-ha-ha-ha…..waar val die mannetjie uit! Ek hoop hy gaan luister na die tyd wat hyself kwyt raak. Hierdie man is nie bekommerd oor werkloosheid nie….regtig!! Waldimar, jy moes hare op jou tande he vir hierdie onderhoud, ek salueer jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.