Video: Seun in koma ná vuishou

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

WAARSKUWING: Die beeldmateriaal bevat geweld en kan sensitiewe kykers ontstel.

ʼn Skokkende video het aan die lig gekom van ʼn groep vermeende boelies, vermoedelik van Kempton Park in Gauteng, wat glo mense na hul huise oornooi met die doel om hulle aan te rand.

André Snyman, stigter van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, het beeldmateriaal van ʼn mediese dokter, wat een van die groep se vermeende slagoffers behandel het, ontvang. Die slagoffer is glo verlede week so erg geslaan dat hy vir byna ʼn week lank in ʼn koma was.

“Die seun se ouers en die dokter het die beeldmateriaal aan ons verskaf met die hoop om die boelies in die video te identifiseer,” het Snyman Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Die groep maak glo ʼn gewoonte daarvan om seuns na ʼn huis oor te nooi en hulle dan erg aanrand. Die betrokke seun in die beeldmateriaal, is een keer in die gesig geslaan waarna hy sy bewussyn verloor het. Ons het vandag [Vrydag] die goeie nuus gehoor dat hy uit die koma is.”

Die seun se ouers het die voorval by die polisie aangemeld en daarna hulself tot eBlockwatch gewend omdat hulle glo nie tevrede is met hoe die polisie die ondersoek tot dusver hanteer het nie.

“Ons het die video op ons Facebook-groep gedeel en met die hulp van ons lede het ons reeds moontlik van die seuns identifiseer. Ons kan nie hul name bekendmaak nie, aangesien hulle dalk nog minderjarig is. Ons gaan die inligting wat ons het aan die polisie oorhandig sodat hulle spoedig aandag aan die saak kan gee.”

Snyman het lesers versoek om by hul groep aan te meld en inligting te deel as hulle van soortgelyke gevalle weet. “Na wat ons verneem is dié aanval die vyfde van sy soort in die afgelope tyd. Ons is dringend op soek na mense wat meer inligting het oor die ander aanvalle sodat die saak dringend hanteer kan word, en om seker te maak die skuldiges word aangekeer. Die voorvalle kan nie ongesiens verby gaan nie,” het hy bygevoeg.

Mense met meer inligting oor dié of soortgelyke voorvalle, kan hier by eBlockwatch se Facebook-blad aansluit en aanmeld, of vir Snyman by 082 561 1065 skakel.

Die video is deur eBlockwatch op YouTube gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Leoni ·

Die Here help hulle as hulle so iets aan my kind doen. Siek mense.

Amanda ·

Jesus se woorde alweer waar bewys!!! :'( In die laaste dae sal baie mense se liefde verkoel!
“Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.
Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand,
beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers,
ondankbaar en ongodsdienstig;
hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;
hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.
Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.”
•~2 Timoteus 3:1-5

Drieks ·

Hierdie seuns is “ons” seuns wat vanaand in ons huis se beddens slaap. Hoe is dit moontlik dat ons nie weet wat ons seuns doen nie, en tot wat ons kinders in staat is nie.Asseblief, hou jou kind dop as hy nie bewus is daarvan nie, en luister wat hul gesels.

Henk ·

Waar is die huis waar dit gebeur,ek sal vrywillig gaan aanmeld,die Vader weet!!!!

Nina ·

ELKE seuntjie in daai video sal wens hul ouers het hul eerder ‘n ordentelike opvoeding gegee!!!!!!

Hendrik ·

As mens sulke goed sien, begin jy wonder of die wereld nie reg is oor ons Afrikaners nie. Dit vul mens met moedeloosheid.

Elizabeth ·

Hul is seuns en doen nou al SULKE goed? Skokkend, wat is die volgende stap waartoe hul oorgaan? Ek hoop die polisie vind alles uit en laat hierdie spul aantree en verantwoordelikheid vat vir hul “bravade”!!

jorrie jordaan ·

Dis erg – soveel erger in die lig van wat tans besig is om met die blankes in hierdie land te gebeur. Nou hoe nou? Wel gelukkig is die slagoffer besig om te herstel en sal sekerlik die nodige identifikasie binnekort kan doen. Of die huidige handhawers van wet en orde in vermoe gaan wees om die probleem by te le is ook ‘n ope vraag.

Joe64 ·

Sou graag ook besoek wou aflê hier, maar Pappie moet ook sommer daar wees dat ons kan sien wat het verkeerd gegaan en dit sommer gou regstel.

Francois ·

Nou vra ek net..waar kom die seun se ouers EN die dokter aan die video – wie het dit dan geneem?

Elizabeth ·

Francois – het ek OOK gewonder! Daardie persoon moet moes dan dadelik die skuldiges kan uitwys!

boesman ·

Ek stem saam met jou Joe64. Laat weet my wanneer jy gaan dan kry ek jou daar.

Corrie ·

Is dit die begin van nog n Griekwastad of Waterkloof 4 geval. Een van daai knape wat daar was lyk heel ‘bekommerd’. Hy sal hopelik uitkom met die sak patats. Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Die vlakke van aggressie en haat in Suid Afirika is buite beheer in SA skole. Wie het die video geneem?

Isabella ·

Die video’s het by my uitgekom omdat die klomp lafharte daarmee gespog het en orals onder die klomp kinders rondgestuur het, my seun se meisie het dit in die hande gekry en vir ons gestuur. Van hulle is al bekend maar ek kry nie veel samewerking van die polisie af nie, sover het ek nog net gehoor hulle het nie tyd nie, hulle sal daarna kyk wanneer hulle tyd het, ek het nog geen terug voer gekry nie, ek doen tot dusver my eie ondersoek en ruik uit na die media met die hoop iemand help ons.

Sollie ·

Isabella – Hulle SPOG met dit? Hoe siek! En die wat dan na die spogstuk kyk en niks doen is net so siek. Bly jou seun se meisie was ordentlik genoeg gewees om dit vir jou te gee. Ek dink ook stuur aan Carte Blanche. Ek sal bitter graag wil hoor wat sê die belhamels (ek het beter name vir hulle maar mag dit nie hier sê!) se ouers van hul “dapper” seuns.

Petru Kleingeld ·

Daar was n rukkie terug n storie op kanaal 131 wat regtig gebeur het met n meisie wat hulle ook genooi het en so geslaan het dat sy gedeeltelik doof en blind in die een oog is wat hulle ook op n celfoon geneem het en op internet verspei het hulle het seker die idee gekry van die fliek

Christa ·

Hallo Isabella, probeer om dit aan Carte Blanche te stuur – sterkte en ek hoop iemand (van belang) sien dit raak..

Isabella ·

Ek waardeer al julle ondersteuning en raad so verskriklik baie, dit voel al klaar of ons vorder net deur julle ondersteuning om te weet ek is nie van my kop af nie. Ek lewe huidiglik op kalmeer pille en slaap pille want dit is al hoe ek met al die goed kan deal. Ek het nare drome wat ek met hierdie lafharte wil doen om hulle die pyn te laat voel, so ek moet my self normaal hou en julle almal help geweldig daarmee, so baie dankie. Ek was vandag weer by die polisie en was uitgetrap omdat ek na die media toe gegaan het en met die station commander gepraat het, my antwoord aan hulle was as hulle, hulle werk doen, sou dit nie nodig wees vir my om deur al die trauma te gaan nie, want ek moet elke dag oor en oor beleef wat met my kind gebeur het met die verslaggewers nie hulle nie.Kan jy glo dat ons polisie so kan wees??? Ek kan nie daaroor kom nie, dit gaan my te bowe regtig.

Isabella ·

Hi almal, net om julle op hoogte te hou, ek wag nog om te hoor van polisie, het weer gister nog n statement gegee, vader weet hoekom. Hopenlik sal daar nou iets gebeur. Carte Blanch publiseer die storie eers Januarie want hulle maak toe oor December

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.