Video: Seun se noodoproep ná Stellenbosch-bylmoorde

Die Van Breda-gesin: Marli (16) en haar ma Teresa staan voor. Henri (20), Rudi (22) en hul pa, Martin staan agter. Foto: Facebook

Die Van Breda-gesin: Marli (16) en haar ma Teresa staan voor. Henri (20), Rudi (22) en hul pa, Martin staan agter. Foto: Facebook

Henri van Breda (20) het na die aanval op sy gesin, waarin sy ouers en broer dood is, die nooddienste gebel.

Die gesin is Dinsdagoggend in hul huis in die De Zalze-gholflandgoed in Stellenbosch aangeval. Martin van Breda (55), sy vrou Teresa (54), en die egpaar se oudste seun Rudi (22) is vermoor. Henri het die aanval oorleef, en sy suster Marli (16) het kritieke beserings opgedoen. Albei is na die voorval na ʼn plaaslike hospitaal geneem. Henri het glo geringe beserings opgedoen.

eNuus het intussen die klank bekom van ʼn oproep wat Henri kort na die moorde aan die nooddienste gemaak het. eNuus het slegs ʼn uittreksel van die amper vyf minuut lange oproep uitgesaai. Die operateur vra: “Oukei, watter soort beserings is daar?”. Henri antwoord: “Uhm … my, my, my gesin en ek is aangeval . . . deur ’n man . . . met ’n byl.”

Die polisie het Saterdag gesê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Die De Zalze-gholflandgoed het vroeër die week ʼn boodskap van medelye op sy Facebook-blad geplaas. “Die De Zalze-gholfklubkomitee, lede en personeel stuur ons diepste meegevoel aan die familie en vriende van ʼn geliefde lid Martin van Breda, sy vrou en kinders. Ons gedagtes en gebede is met julle.”

Iemand vra onderaan die inskrywing hoe só aanval in ʼn veiligheidslandgoed kon plaasvind, waarop die gholflandgoed antwoord: : “Geen verbreking van veiligheid nie. Dit was ‘n geïsoleerde huishoudelike voorval. Baie hartseer.”

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

[wpvideo ga6xGIAH]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.