Video: Siamese tweeling in Kaapse hospitaal geskei

Die dogtertjies, Siphosethu en Amahle, voordat hulle geskei is. (Foto: Verskaf)

“Ek het nie verwag om uit die hospitaal te stap met een kind in elke arm nie.”

Só sê ʼn oorstelpte Ntombikayise Tyhalisi (31), die ma van ʼn Siamese tweeling wat vroeër vanjaar ʼn suksesvolle skeidingsoperasie by die Rooikruis-kinderhospitaal ondergaan het.

Die dogtertjies, Siphosethu en Amahle, is in Februarie in die Oos-Kaap gebore. Hulle is vier dae ná hul geboorte na die kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas. ʼn Multidissiplinêre span van narkotiseurs, neurochirurge, plastiese chirurge en verpleegsters het saamgewerk om die ingewikkelde operasie uit te voer.

Prof. Tony Figaji, hoof van pediatriese neurochirurgie by die kinderhospitaal, sê die tweeling se koppies was aanmekaar vas.

Tydens die operasie. (Foto: Verskaf)

“Dit is die skaarste soort Siamese tweeling wat mens kry. Dié verskynsel kom ongeveer een keer in elke 2,5 miljoen geboortes wêreldwyd voor.

“Ons was gelukkig dat die tweeling geen gedeelde breinweefsel gehad het nie en dat daar nie groot bloedvate tussen die twee gedeel is nie,” sê Figaji.

Hoewel die operasie uitdagend was, was die span meer as gereed daarvoor, sê prof. Saleigh Adams, hoof van plastiese chirurgie by die hospitaal.

“Ons was gereed om vir minstens ses ure te opereer, maar hierdie operasie het gelukkig net een en ʼn half uur geduur. Die kort operasie gaan bydra tot die tweeling se hersteltyd,” sê Adams.

Ntombikayise saam met haar dogters nadat hulle geskei is. (Foto: Verskaf)

Die sussies is glo goed op dreef om volkome te herstel. Hulle is intussen terug na die Oos-Kaap om hul ander twee sussies, Ethandwa (8) en Bonke (2), te ontmoet.

“Ethandwa en Bonke gaan so opgewonde wees om die tweeling te ontmoet,” sê Tyhalisi.

“Ek is dankbaar dat hulle nou van mekaar geskei is, want dit was altyd moeilik om hulle vas te hou of te bad. Die verpleegsters moes my altyd help.”

Tyhalisi sê sy het aanvanklik nie geweet dat sy ʼn tweeling verwag nie.

“Die verpleegsters het vir my gesê dat die baba net verkeerde kant toe wys. Ek het ʼn keisersnee ondergaan en Siphosethu en Amahle is gebore.”

Die tweeling sal binnekort weer die Rooikruis-kinderhospitaal besoek vir ʼn opvolgafspraak.

Die tweeling voordat hulle geskei is:

Die tweeling nadat hulle geskei is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marcello ·

Die Rooikruis Hospitaal is maar net die beste. Daar is so baie sukses verhale wat uit hierdie hospitaal kom. Die dr.s is van die beste seker in die wêreld.

Michael ·

Sjoe, dis wonderlike nuus!! Laat my dink aan die Iranse tweeling so hele paar jaar terug… Eks bly die storie het n gelukkige einde.. Wys mens net weereens watse puik Drs ons het in sekere Hospitale. Welgedaan !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.