Video: Silwer vir blitsige Benjamin

Benjamin Richardson (regs) in aksie vir Tukkies. Die jong atleet het tweede in die 100 m by die o.20-Wêreldkampioenskap geëindig. Foto: Reg Caldecott.

10.28 sekondes.

Dít is die 17-jarige Benjamin Richardson se spoggerige 100 m-tyd wat vir hom die silwer medalje by die o.20-Wêreldkampioenskap in Kenia besorg het.

Botswana se Letsile Tebogo is die gouemedaljewenner met sy tyd van 10.19 sekondes, terwyl Kuba se Shainer Montoya (10.32 sekondes) derde oor die wenstreep was.

Die jong blits het vroeër vanjaar die 100 m en 200 m by die SA Juniorkampioenskap gewen, terwyl hy tweede in die 200 m-item by die nasionale senioratletiekkampioenskap was. Om hierdie prestasie in perspektief te plaas – net Wayde van Niekerk het op daarde dag vinniger as Richardson gehardloop.

En hy kan beslis vinniger word. Die lenige naelloper van 1,90 m se beste 100 m-tyd is 10.17 sekondes, terwyl hy al die 200 m in 20.63 sekondes kafgedraf het.

“Dit is my mikpunt om vir volgende jaar se Wêreldkampioenskap te begin voorberei, terwyl ek ook my oog op die 2024- Olimpiese Spele in Parys het,” het Richardson gesê.

“My wegspring is nie te sleg nie, maar ek kan daarop verbeter. Terselfdertyd wil ek niemand probeer naboots nie – op die ou einde gaan dit oor wat ek self kan doen en hoe graag ek my doelwitte wil bereik.”

Dit is Suid-Afrika se tweede medalje by die kampioenskap nadat Mirè Reinstorf gister die goue medalje in die paalspringitem ingeoes het. Haar poging van 4,15 m is ook die nuwe o.20-Afrikarekord.

James Moloi, president van Atletiek Suid-Afrika, het die jong blits met sy prestasie gelukgewens.

“Gister se gouemedaljevertoning het ongetwyfeld vir ’n positiewe invloed gesorg en ons hoop dat Benjamin se silwer medalje ook die ander atlete sal inspireer.”

Suid-Afrika se juniors lê tans derde op die medaljepunteleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Het agbare James Moloi ook vir Reinstorf gelukgewens? Indien wel, my verskoning.

piet ·

Ek is seker hy het. Hy se dan die goue medalje gaan ander atlete aanspoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.