Video: Skattige ‘Lyfie’-dansertjie ontmoet ‘heldin’ Bernice West

Klein Kwagga en Bernice West het by Pretoria FM se ateljee ontmoet. (Foto: @brandybrandy)

Dit was ʼn heuglike oggend in die gemeenskapsradiostasie Pretoria FM se ateljee toe die sangeres Bernice West kennis gemaak het met klein Dirkco Jansen van Nieuwenhuizen, ook nou bekend aan die ganse land as die dansertjie, Klein Kwagga.

ʼn Video van die skattige, sewejarige Dirkco van Balfour in Mpumalanga, wat passievol op ʼn verhoog op die maat van Bernice se oorwurm-treffer “Lyfie” dans, is reeds miljoene kere op sosiale media gekyk en gedeel.

Klein Dirkco, of Klein Kwagga soos hy nou bekendstaan, het selfs oornag sy eie TikTok-rekening en Facebook-bladsy gekry.

Dirkco, wat tydens sy ouer sussie se skoolkonsert op die verhoog gespring het om op een van sy gunsteling-liedjies te dans, se gesiggie was die ene verbasing toe Bernice in die ateljee verskyn het.

“Die hele ervaring was baie oorweldigend vir Klein Kwagga, maar hy het homself so goed van sy taak gekwyt,” vertel Révan Luus, projekkoördineerder by Pretoria FM.

Klein Kwagga in die ateljee saam met sy pa. (Foto: @brandybrandy)

“Hy is as klein plaaskind glad nie gewoond aan sosiale media nie en ek dink ook nie hy weet presies wat dit beteken dat miljoene mense regoor die wêreld sy video so geniet nie.”

Dirkco het tydens die onderhoud met omroeper Susan Botha gesê hoewel hy “ʼn klein bietjie kan sing”, is hy baie sportief en is “baie goed in gholf”.

Stephan Hugo, uitvoerende hoof van Boerboel Wear, het ook in die ateljee gekuier om vir Klein Kwagga met nuwe hemde, broeke en ʼn leersak van dié gesogte handelsmerk te verras.

Bernice en Klein Kwagga het ook saam met Dik Jan van Boerboel Wear-faam op “Lyfie” gedans. Die video is op Pretoria FM se sosialemediaplatforms gedeel.

Volgens Bernice het sy ʼn waardevolle lewensles by Klein Kwagga geleer.

“Hy het op die verhoog gegaan en sy alles gegee tot op die einde, al was daar net ʼn pakkie skyfies en ʼn sjokolade aan die einde as beloning. Dit het my geleer dat ʼn mens met oorgawe moet volhard in alles wat jy aanpak. Ek moet eintlik vir Klein Kwagga dankie sê vir dié les wat hy my kom leer het.”

Klein Kwagga het om die beurt gesê hy tel vir “tannie Bernice” as een van sy helde. “Saam met die hele Springbokrugbyspan, veral Faf de Klerk, Robbie Wessels en Tiger Woods.”

Kyk hier na die volledige onderhoud met Klein Kwagga en Susan Botha op Pretoria FM:

Kyk hier na die oorspronklike video van Klein Kwagga se befaamde danspassies:

@kleinkwagga1

Doen dit lyfie doen dit! @Bernice West #Dans #fun #show Die Here het my mooi gemaak????????

♬ original sound – KleinKwagga

Kyk hier hoe Klein Kwagga en Dik Jan saam met Bernice West dans:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bekkie ·

Aaaawe man is hy nie te flippen cute nie, en gladnie skaam nie. Dit lyk asof hy tussen klomp winkel poppe dans………Doenit Kwagga doenit !!!!!!!!!!

hantie ·

Dis nou pure plaas….Klein Kwagga doenit soos net n opregte klein boerseun kan. Dis te kosbaar..

Jax ·

Pragtig klein Kwagga. Ons kan almal n reuse les by jou leer – om die lewe voluit te geniet en jou alles te gee! Jy laat mens sommer luskry vir dans deur die lewe!

AmY ·

Ek is mal oor hierdie kind. Hy is net te oulik.
Ek wonder of hy weet hoeveel mense hóm nou wil ontmoet. Net om hom ‘n lekker drukkie te kan gee.

Sêmanet ·

Te oulik vir woorde. En sy maniere, is uit die boonste rakke. Enige ouer se droom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.