Video: Skukuza-gholfbaan word jagveld

(Foto: Skermskoot)

 Waarskuwing: Die video kan dalk sensitiewe kykers ontstel

Die Skukuza-gholfklub in die Krugerwildtuin het Vrydag vroegoggend ’n paar vreemde besoekers op die gholfbaan verwelkom.

In ’n video wat deur die gholfklub op Facebook gedeel is, is ’n leeu besig om aan ’n dooie kameelperd te knibbel by die derde putjie op die gholfbaan. Hy word omring deur ’n trop hiënas wat hom verhoed om sy “ontbyt” in vrede te verorber.

Aan die einde van die video kan ʼn mens sien hoe die hiënas die leeu verdryf en verder aan die kameelperd vreet.

Dit is nie die eerste keer dat prooi op die gewilde gholfbaan gevang word nie. Volgens Isaac Phaala, woordvoerder van SANParke, word die gholfbaan gereeld as ’n jagveld of “uithangplek” vir wilde diere gebruik.

Phaala sê die kameelperd se karkas is later die oggend verwyder, aangesien dit naby ʼn vroeë ontwikkelingsentrum gelê het.

“Die karkas is verwyder vir die veiligheid van die gaste en besoekers van die klub,” sê Phaala.

Volgens Phaala kan die karkas ook ander roofdiere lok, wat klubbesoekers se lewe in gevaar kan stel.

Die klub was teen Vrydagmiddag weer oop vir besoekers.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Ek weet van ‘n Voëltjie in golf, en selfs ‘n AREND…maar nog nooit van ‘n Aasvoël gehoor nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.