Video: Só kry veearts luiperd uit waskamer op Benoni-kleinhoewe

‘n Skermskoot uit die video wys hoe dr. Bull eindelik die verdoofde luiperd in die waskamer vang.

ʼn Veearts van Gauteng moes op sy voete dink toe hy vandeesweek ʼn jong luiperd uit ʼn waskamer op ʼn kleinhoewe in Benoni moes verwyder.

Dr. Cliff Bull van die Craig View-veeartsenykliniek in Boksburg was Maandag elders besig met wild toe hy ʼn oproep van sy praktyk ontvang het oor ʼn luiperd wat in ʼn tuin op ʼn kleinhoewe gewaar is. Die praktyk is deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van die voorval ingelig, verduidelik Bull aan Maroela Media.

Onderweg na die kleinhoewe het hy gehoor dat die wilde dier intussen in ʼn waskamer op die kleinhoewe ingejaag en toegemaak is nadat die dier ʼn werker en ʼn hond op die erf bedreig het.

Hy vertel dat hy nie dadelik oortuig was deur die beskrywing van die dier dat dit wel ʼn luiperd kon wees nie, maar met sy aankoms by die kleinhoewe was daar geen twyfel daaraan nie.

Die dier met sy kenmerkende kollepels het dreigend in die klein vertrek rondgehardloop en na omstanders wat deur die vensters geloer het, gegrom.

Volgens Bull het die betrokke waskamer se deur wat die dier binnehou om sake te vererger nie ʼn handvatsel nie, maar eerder ʼn knip. Die kamer se vensters is ook van die outydse soort wat nie kan toeknip nie en is in dié stadium deur omstanders noodgedwonge met pale toegedruk sodat die dier nie kon ontsnap nie.

Die situasie was moeilik, verduidelik Bull. Die mannetjieluiperd was in dié stadium reeds sowat 20 minute lank in die kamertjie met drie wasmasjiene vasgekeer en het reeds aan een van die wasmasjiene se pype begin knaag wat die vertrek se vloer vol water gelaat het.

Bull verduidelik dat hy nie bloot die deur kon oopmaak en die wilde dier binne-in die waskamer kon vang nie aangesien hy hom dadelik sou bestorm en verskeur. “Selfs ʼn relatiewe mak luiperd is plofbaar, aggressief en vinnig. In die natuur sal dié dier weg van jou af beweeg, maar in só ʼn situasie sál hy jou bestorm.”

Dr. Cliff Bull pas die luiperd se verdowing aan. (Foto: Verskaf)

Bull het dus besluit dat die luiperd, wat tussen ses tot agt maande oud is en meer as 25 kg weeg, met ʼn pyl verdoof moes word. “Jy moet weet hoe jy hom gaan verdoof. Jy kan nie ʼn klein verdowingspyl gebruik vir ʼn groot dier of andersom nie. Jy moet maar improviseer.”

Daar moes toe ook vinnig besluit word presies hoe die luiperd in die kamer verdoof gaan word.

“Die kamer het drie vensters. Diere het herhalende gedrag en jy kan ʼn patroon waarneem. Hy het elke keer tussen die muur en een van die wasmasjiene onder ʼn venster gaan inkruip. Dan spring hy op na die vensters toe en grom.”

Bull het dus by die teenoorgestelde venster gewag en gevra dat ʼn persoon sy aandag by die venster naaste aan die dier trek. Dié dier het, soos verwag, vir die hoeveelste keer opgespring na die venster waartydens Bull hom van die ander venster met die pylgeweer geskiet het.

Daar is toe sowat vier tot vyf minute gewag sodat die dier lomerig en eindelik aan die slaap kon raak. Dié minute is angstig afgewag aangesien die vloer vol water was en gelaaide bedrading in die water gelê het. Die luiperd het ook met sy snoet teen die muur gelê en Bull was bekommerd oor die dier se asemhaling.

Eindelik het die oomblik aangebreek dat Bull die waskamer kon ingaan en die dier vang. Hy het die dier versigtig aan die nekvelle en stert na buite gedra met benoude omstanders wat elke beweging op kamera vasgevang het.

“Dit is hoe wyfies hulle welpies dra. Ek het hom so gedra sodat ek beheer kon hê oor sy kop. Ek het hom ook aan sy stert gedra omdat ek hom nie aan sy lyf kon dra nie. Hy sou met sy agterbene vorentoe skop.

Die luiperd word na ‘n voertuig gedra om hom na ‘n skuiling te vervoer. (Foto: Verskaf)

“Ek was in dié stadium nie net vir die dier verantwoordelik nie, maar ook al die mense wat om ons gestaan het. Ek moes die situasie beheer,” verduidelik ʼn duidelik ervare Bull.

Hy vertel dat hy die luiperd op die gras neergelê het waarna die dier dadelik gegrom het hoewel hy onder verdowing was.

Maar hoe so? “Dit is omdat hy redelik ontspanne was toe ek hom gedra het. Die oomblik toe ek hom neergesit het, was hy dadelik bewus van sy pote. Hy het dadelik geweet waar hy was.”

Toe lê die besluit nog voor oor hoe die luiperd na ʼn skuiling in die gebied vervoer sou word waar hy tans gevoer en geëvalueer word sodat hy moontlik vorentoe weer in die natuur vrygelaat kan word.

Daar is toe besluit op ʼn ysterhok waarvan die openings met draad toegebind is. ʼn Kombers is oor die hok gegooi om hom so rustig moontlik te hou terwyl hy in die verkeer vervoer sou word.

Die vraag op almal se lippe is egter waar dié wilde dier vandaan sou kom. “Ons weet nie. Daar is baie bespiegeling daaroor,” antwoord Bull.

“Hy was makker as die gewone luiperd. Dit kan wees dat hy iewers mak aangehou is en toe moeilik geword het om te hanteer waarna hy iewers buite toegemaak is. Hy het toe moontlik ontsnap. Hy kon ook die slagoffer van dierehandel gewees en toe ontsnap het, maar hy is nie meer ʼn welpie nie.”

Bull bespiegel verder dat sy ma moontlik dood is toe hy ʼn welpie was en dat hy nie deur ʼn ma geleer kon word nie. Hy is moontlik deur ander van sy soort uitgeskop en het toe in die verkeerde gebied inbeweeg.

Die luiperd is eindelik gelaai. (Foto: Verskaf)

Hy verduidelik dat die voorval nie so ongewoon is soos die meeste mense mag dink nie. “Maar ek werk baie met wild en dit is die eerste keer dat ek na ʼn kleinhoewe in Benoni ontbied is.”

Bull vertel dat sy gesin al gewoond is daaraan dat hy na situasies van dié aard uitgeroep word. “Ek het my vrou die betrokke dag gebel om te sê dat ek ʼn bietjie laat uit gaan wees omdat ek ʼn luiperd moes gaan vang. Sy het toe net gevra na watter hospitaal ek agterna wil gaan,” vertel hy laggend.

Bull se seuntjie was ook nie juis beïndruk toe sy pa hom die volgende oggend van die luiperd vertel nie. “Ons gesin is al gewoond aan sulke dinge, maar dit bly opwindend.”

Bull het sowat twee jaar gelede Craig View-veeartsenykliniek op die been gebring en werk nou met wild en troeteldiere nadat hy vantevore slegs met wild gewerk het.

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Riaan

Wel gedaan. Wat n pragtige dier. Hoop hy kry sy plekkie onder die son in vryheid.

Dr Bull

Dankie vir mense en dokters soos jy wat hom gered en nie summier van kant gemaak het nie. Wat die arme diere nie moet deurmaak agv van die mens. Hoop sy paadjie vorentoe is net vol geluk en liefde.

Beanie

Dis ‘n bleddie mooi veearts daai!

Aitsa

Die veearts kan my maar ook vang.

VanAfrika

Vat hom vir John Varty