Video: Solidariteit lê klag by VN teen SA-regering oor rassediskriminasie

Renate Barnard (links_, Dirk Hermann die bestuurshoof van Solidariteit en Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit (regs). Foto: Reint Dykema

Renate Barnard (links_, Dirk Hermann die bestuurshoof van Solidariteit en Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit (regs). Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn klagte teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) gelê.

In die klagte word gevra dat die VN die Suid-Afrikaanse regering vermaan oor die nienakoming van die prosedurele vereistes van die VN-konvensie vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie. Volgens die konvensie moet die Suid-Afrikaanse regering elke twee jaar verslag doen oor wat die regering doen om aan die konvensie te voldoen, maar die Suid-Afrikaanse regering het in 2006 laas ʼn verslag ingedien.

ʼn Soortgelyke klagte gaan terselfdertyd by die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie (MRK) ingedien word. Die MRK is deur die Suid-Afrikaanse regering aangewys as nasionale liggaam wat namens CERD as waghond in Suid-Afrika moet optree. Solidariteit versoek die MRK om die regering te vermaan oor die nienakoming van die resolusie en, indien die regering verder daarmee in gebreke bly om ingevolge die magte van die MRK ʼn aansoek by die hooggeregshof te bring, om die regering te dwing om sy statutêre plig na te kom.

Solidariteit het ook aangekondig dat, sodra die regering sy verslae gaan indien, hy ʼn skaduverslag gaan indien wat gaan toon dat die regering se program van regstellende aksie nie in ooreenstemming met die VN-resolusie is nie. Die resolusie maak voorsiening vir burgerlike organisasies om skaduverslae in reaksie op regeringsverslae in te dien. Volgens Solidariteit moet die regering eers gedwing word om verslae in te dien voor hy kan voortgaan met ʼn skaduverslag.

Solidariteit beplan ook verder om ’n formele petisie by die VN in te dien waarin Solidariteit sal aanvoer dat die Suid-Afrikaanse regering se absolute fokus op rassedemografie nie die bedoeling van die VN-konvensie is nie en dat die regering nie aan die substantiewe vereistes van die resolusie voldoen nie. Hierdie petisie sal sterk steun op die Renate Barnard-gevallestudie, maar sal ook wyer as dié geval fokus. Die petisie moet by die MRK, as agent van die VN ingedien word. Solidariteit beplan om die formele petisie in die eerste kwartaal van 2015 in te dien. Die vakbond beplan om steun vir die petisie oor ʼn breë spektrum van Suid-Afrikaners te werf.

“Om Suid-Afrika se regstellendeaksieprogram teen VN-resolusies te toets is om dit teen die wêreld se beste praktyke te toets. Om seker te maak Suid-Afrika voldoen aan internasionale norme beteken dus om lojaal teenoor Suid-Afrika te wees. Ons prima facie-saak is dat Suid-Afrika nie voldoen aan internasionale vereistes nie en dat die land skuldig is aan onbillike rassediskriminasie. Suid-Afrika maak dit egter baie moeilik om internasionale vergelykings te tref as die regering nooit verslae indien nie,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

“Ons het in Junie vanjaar vir die eerste keer met die regering gekorrespondeer toe ons die versekering gegee is dat die regering binnekort sy verslag gaan indien. Ons het intussen ook ’n brief aan die minister van justisie en korrektiewe dienste, Michael Masutha, gerig waarin ons die regering vermaan het oor die nienakoming van die VN-resolusie. Volgens inligting waaroor ons beskik, het die regering die verslae tot 2011 opgestel, maar die verslae is nog steeds nie ingedien nie. Selfs al word die verslae nou ingedien, is Suid-Afrika reeds laat met sy 2013-verslag.

Die prosedurele nienakoming van ʼn resolusie is ʼn ernstige oortreding. Die doel van die verslae is dat daar internasionale toesig kan wees oor lidlande se verbintenis tot die nakoming van resolusies wat hulle bekragtig het. Indien die regering nie verslag doen nie, ontneem dit ook plaaslike burgerlike organisasies, soos Solidariteit, om ʼn behoorlike waghondrol te speel,” het Hermann gesê.

Solidariteit se VN-veldtog volg op die konstitusionele hof se onlangse uitspraak teen Renate Barnard, ’n voormalige luitenant-kolonel van die SAPD, ná haar stryd van nege jaar teen die wyse waarop die SAPD regstellende aksie toegepas het. Sy was twee maal die beste kandidaat vir ’n pos waarvoor sy aansoek gedoen het, maar is weens die kleur van haar vel telkens nie aangestel nie. Barnard het gister aangekondig dat sy haar voltyds aan die stryd teen rassekwotas gaan wy en het by Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidsverhoudinge aangesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Mooi Dirk gaan vir hulle bring net die petiese na ons toe ook ek dink in die laeveld is baie wat dit sal ondersteun

James Johannes Van Der Westhuizen ·

DIRK EK STEM SAAM; SOLIDARITEIT HET GROOT STEUN IN N/KAAP ONDER GRIEKWAS, KORANNERS, NAMAS EN KHOISAN SOVER DIT DIE TOEPASSING VAN REGSTELLENDE AKSIES BETREF.WESSIE KIBERLEY

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.